Prof Elain Vlok, die stigter van Clover Mama Afrika, se lewensverhaal van oorwinning, liefde en verlies het haar gevorm tot die mentor en leier wat sy vandag is. Haar werk is ’n bewys van wat gebeur wanneer iemand hul hart in die diens van ander sit.

Jy het meer as 23 jaar van jou lewe toegewy aan die groei van Clover Mama Afrika. Wat was daardie diep, innerlike dryfkrag wat jou aanvanklik gemotiveer het om so ’n program te begin.

Van kleins af het ek ongelooflike liefde en aandag van wonderlike ouers gekry. Dit het my gevorm tot die mens wat ek vandag is.

Ja, ek het gestudeer en wonderlike werke gehad, maar uiteindelik is dit hul voorbeeld wat my gevorm het.

Ek het grootgeword met ouers wat vir mense gegee het. As my pa nood gesien het, het hy huis toe gekom en hy en my ma het ’n boks kruideniers ingelaai en dit afgelewer waar hy die nood gesien het.

Dit is die verskil wat hulle gemaak het.

Op ons plaas het my ouers ook die werkers opgelei. Hulle het mense bemagtig, nie net finansieel nie, maar ook met vaardighede. Dit het hulle onafhanklik gemaak en my geleer hoe belangrik bemagtiging is.

Ek is ’n groot voorstaander daarvan dat ons mense moet bemagtig. Hoe vinniger jy hulle vaardighede leer, hoe vinniger kan daar aanpassing wees.

Daarom was dit vir my maklik toe ek ’n voorstel moes maak oor sosiale verantwoordelikheid wat selfinstandhoudend moet wees.

My gedagte het dadelik na vroue gegaan. Aanvanklik wou ek vroue leer kos maak en naaldwerk doen. Maar gou het die projek verander en ek het besef ek kan nie net vir ’n vrou sê wat sy moet doen nie – die mama moet kies wat sy wil doen.

Dit gaan daaroor of daar lig in haar huis is, het sy hande om dit te doen? Mense is gewoond om niks te doen nie. Om hulle te motiveer om te werk, is reeds ’n vaardigheid wat ek aangeleer het.

Hierdie projek het my nederig gemaak. Daar is nie plek vir selfvoldaanheid nie. Ek leef nou ’n lewe van dankbaarheid – dankbaar vir wat ek het en wie ek is, terwyl ek konfronteer word met seer, armoede en hongersnood.

Uit jou jare van werk aan Clover Mama Afrika, wat sou jy as die mees betekenisvolle beskou?

Daar is baie spesiale oomblikke, maar dit bly besonders wanneer ek daardie regte “Mama Afrika” raakloop – iemand met die hart en gees om ’n verskil te maak.

Elke Mama Afrika is uniek. Hulle leef in verskillende omstandighede, in verskillende gemeenskappe, met eie uitdagings – tog doen elkeen iets besonders.

Baie vroue was aanvanklik skaam. Party het gesit en bewe, en kon skaars praat. Dit is moeilik vir hulle om te vertel wat in hul lewe aangaan. Maar as jy luister, hoor jy dieselfde temas: Almal kyk na kinders wat weggegee is, mishandel is, op straat sit – kinders wat niemand het nie.

En wat doen hierdie vroue? Hulle kyk na daardie kind en sê: “Jy moet iets eet. Kom, kom eet.” Voor hulle besef, woon die kinders by hulle.

Só het ons Mama Afrikas wat nou na 177 mense omsien wat by hulle woon. Dit is harde werk, en elkeen sal vir jou sê: Hulle weet wat dit beteken om hard te werk.

Ek leer vir hulle: As jy in jou hand kyk, sien jy ’n duidelike “M” – as jy jou hand omdraai, sien jy ’n “W”. Dit staan vir “mens werk”. Jy kry niks verniet nie.

Ek glo glad nie aan ’n sogenaamde sopkombuis waar mense net kom eet en weer loop nie. As iemand by jou hek opdaag en sê hy is honger, vra jy: “Wat kan jy doen?” Al is dit net om blare op te tel of onkruid uit te trek.

Dikwels bly hulle aan, begin werk – en word deel van die gemeenskap wat saam help.

Ek wil hierdie vroue toerus sodat hulle ander kan bemagtig. Uiteindelik verdien hulle ’n inkomste, want hulle kan die werk doen.

Watter een spesifieke lewensles het jy deur ervaring geleer, wat jy nooit in ’n boek sou leer nie?

’n Mens is nooit te oud om te leer nie. Dis iets wat ek altyd vir my Mama Afrikas sê: Wie nie leer nie, kom nie deur nie. Jy kry daardie mense wat sê: “Ag, ek kan nie,” of “ek is nou te oud”. Maar ek glo regtig nie daaraan dat ’n mens “oud” word nie.

Oud wees is iets hierbinne – dit sit in jou kop. Jy moet dit vergeet en aanhou leef. Ek sien jou as ’n persoon met potensiaal, iemand wat dinge kan doen.

Vir my gaan dit daaroor dat ons lewe. Ons het lewe ontvang – en wat ons ook al doen, ons moet dit met oorgawe aanpak.

Jy kan nie gaan sit en besluit: “Ek kan nie meer nie,” of “ek is nou te oud om te leer” nie. Nee, vergeet van “oud wees”. Sê vir jouself: “Ek kan, ek wil en ek moet.” En dan: doen dit!

Solank jy vir jouself sê: “Ek wil,” of “ek kan,” dan sal jy dit kan regkry. In my eie lewe het ek grootgeword met die uitdrukking: Ek kan – solank ek glo dat ek kan. En daardie leuse het my regtig al deur my hele lewe gedra.

Kanker het ’n groot deel van jou familie se storie geword. Wat was die grootste innerlike stryd wat jy moes oorwin?

Ek het geleer dat die lewe aangaan en dat ek moet aanhou lewe. As ek kyk na die ouderdomme waarop my familielede oorlede is – van 47 tot 62 – dan was die gemiddelde ouderdom van die vyf mense wat ek verloor het, net 54 jaar.

Toe ek self by 54 kom, was daar altyd daardie gedagte: “Hoe lank het ek nog?”

Maar toe ek daardie punt verbygaan, het ek besef: Elke jaar is ’n geskenk. Ek lewe. Ek het geleer om nog meer van die lewe te geniet en dit regtig te leef.

Toe ek 60 geword het – dit was vir my ’n groot mylpaal. Ek het ’n partytjie gehou om dit te vier. Ek was opreg dankbaar dat ek 60 kon word.

My jongste suster het ’n CD gemaak met die titel: Lewe jou lewe. Dit was die bekendste liedjie op haar album – én later haar grafskrif. Dit het ook my lewensmotto geword: Lewe jou lewe. Gryp die geleenthede aan. Vat elke oomblik, want ons weet nie wat môre bring nie.

Ek probeer alles doen wat ek kan. Mense vra soms: “Wanneer slaap jy dan?” Ek slaap en ek doen al hierdie dinge, deur genade. Ek wíl dit doen, en ek geniet dit.

Ek glo dit is wat ons Hemelse Vader wil hê: Ons moet lewe. “Lewe” beteken dat jy iets doen vir ander, dat jy gee, dat jy daar is vir ander. Ek het so ’n vol lewe dat ek weet, ek het geleer om te lewe.

Ek glo my ouers en familie is in die hemel en wag vir my. Maar ek kan nie daar opdaag en sê: “Ek het nie geleef nie.” Ek wil vir hulle kan sê: “Ek hét gelewe.”

Jy het eers op ’n latere ouderdom getrou. Hoe het jy geleer om jou eie pad te loop, ongeag die verwagtinge van ander?

’n Mens hoef nie kwalifikasies te hê om goed te kan doen nie. Baie mense glo jy moet ’n papier hê – dan kan jy iets beteken. Ek het geleer dat die Universiteit van die Lewe die beste leerskool is.

Ek het nog altyd groot respek gehad – en het dit steeds – vir die Vrouelandbou-unies van vroeër jare.

Hulle het vroue op plase bemagtig. Hulle het die plaasvrou in haar kombuis opgelei sodat sy die beste naaldwerker, of beste bakker, of beste persoon in die inmaak van vrugte kon wees. Dít is vir my belangrik.

Ons hoef nie vas te kyk in die idee dat ons akademiese kwalifikasies nodig het om goed te doen nie. Jy doen goed as dit uit jou hart kom.

As jy regtig voel: “Ek wil omgee vir die mens langs my,” en jy doen iets daaromtrent – dít is wat saak maak. Nie diplomas of papiere nie – maar wat in jou hart leef.