“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” (Matteus 7:12)
Die Here eer ’n mens wat die inisiatief neem om goed te doen. Hy hou daarvan as jý gaan vrede maak – selfs al was jy nie verkeerd nie en verdien jý eintlik ’n verskoning. Sjoe, dis tough!
Die Woord sê selfs as iemand iets negatiefs teen jou “stoor”, moet jý die inisiatief neem om dit reg te stel! Gaan as vredemaker na die persoon. Ja, as Ligdraer. Bring lig na die donker situasie.
Maar wie is nou lus om met ’n wit vredesvlag na iemand te hardloop wat jou beledig? Nie ek nie. Ek wou altyd eerder ’n rooi vlag voor die stouterd se neus wapper. Hy of sy moet eintlik met ’n groot wit vlag en verskoning aan mý voordeur kom klop!
Ek was baie jare so. Maar hoe nader ek aan die Here groei, hoe meer besef ek dat ek ’n “doener” van die Woord moet word, nie net ’n “leser” van die Woord nie.
Om feel-good stickers op my yskas te plak met wyse mooi woorde wat ek nie uitleef nie, kan misleidend wees. Ek kan my selfs “verbeel” ek doen daardie dinge. Maar eintlik doen ek niks.
Om op my boude te sit met ’n bordjie snacks en goeie bedoelings, maak geen verskil in hierdie donker wêreld nie. En om op my Lazy Boy te “wag” vir ander om my uit die donker te lei, is ook nie ’n voorbeeld van ’n ware Ligdraer nie.
Om ’n Woorddoener te wees, vra dat ek die Purity los en leer vaste kos eet. Ek moet nuwe gewoontes onder die leiding van sy Gees aankweek. ’n Ware Ligdraer neem eerder sy Lig as haar eie ego na ’n onstuimige situasie.