Aktrise en aanbieder CRYSTAL–DONNA ROBERTS is ’n klein pakkie met groot trefkrag. Sensitief, maar sterk. Soms bang, maar nooit oorweldig deur vrees.
Goeie rolmodelle leer ons om sterker te wees
Ek was skaam en teruggetrokke as kind, maar ook baie nuuskierig. ’n Dromer in haar eie wêreld, maar ook ’n waarnemer wat alles en almal fyn dopgehou het.
Dis dalk hoekom die invloed uit hierdie vormingsjare so ’n blywende impak gehad het.
Al die ure se fliek-kyk het ’n liefde vir toneelspel en stories gekweek. Ná The Terminator was Ariel van The Little Mermaid en Belle van Beauty and the Beast my heldinne. Free Willy het weer sirkels in my verbeelding geswem.
Die indruk is ook vasgelê dat níks ’n vrou kan onderkry nie.
Wanneer ’n mens omring word deur sulke rolmodelle – op die TV-skerm en in die regte lewe – is dit moeilik om anders daaroor te dink.
Ouma, Ma, tannies … daar is net sterk vroue in die familie. Nie een is broos of pieperig nie. Elkeen het ’n tawwe streep en skroom nie om dit te wys nie.
Dis hoe ek van kleins af geleer is om oor myself te dink.
Oupa was weer die fliekfundi in die familie. Ons twee kon ure lank op die sitkamerbank sit en saam kyk, die een fliek ná die ander, en daarna gesels oor die karakters en storielyn.
By hom het ek geleer brood knie, en hy het ons soms strand toe gevat om seeslakke te gaan optel. Sand, son, see en waatlemoene eet op die strand, is nou nog van my gelukkigste kinderherinneringe.
Ouma was die inspirasie om hard te werk. “Geen droom gaan waar word sonder aksie nie,” was haar lewensmotto. “As jy iets in die lewe wil hê, my kind, moet jy die werk insit. En as dit met die regte ingesteldheid gedoen word, sal alles in plek val.”
Wat as swakpunte beleef word, kan sterkpunte word
Ouma het my geleer dat God dié help wat hulleself help.
Leef met respek teenoor jouself en ander mense en probeer altyd om die regte ding te doen. Dit was goeie raad.
Ouma het ook gesê dat niks sonder ’n rede gebeur nie. Alles op ons lewenspad het ’n spesifieke doel. Dit gaan nie soseer oor wat met jou gebeur nie, maar hoe dit jou karakter laat groei.
Party krisisse voel sinneloos en onnodig. Lesse wat ’n mens liefs op ’n ander manier sou wou leer … maar dan word dit tog ’n motivering om harder te druk. Om jouself verder te strek, en om agter te kom hoe sterk jy eintlik is.
My onlangse pad met borskanker is ’n goeie voorbeeld. Hoekom het dit gebeur? Watter lesse moes daaruit geleer word?
’n Noue ontkoming met die dood leer jou om elke dag te koester, elke verjaardag met oorgawe te vier, want môre, oormôre is dit dalk verby.
Elke aspek van die lewe word nou meer intens waardeer. Oomblikke, geleenthede, gesprekke, vriendskappe … elke ervaring is spesiaal.
’n Ander groot gewaarwording was hoe prakties ’n mens oor dinge kan raak. As iets nie werk nie, laat dit gaan. As ’n ding nie positief tot die lewe bydra nie, raak ontslae daarvan. Dit was nog altyd my uitkyk, en die kanker het dit net weer bevestig.
In ’n mens se vormingsjare moet daar hard gewerk word om jouself te aanvaar.
In my geval het dit wat as swakpunte beleef is, eintlik my sterkpunte geword. Om stil te wees, te kan luister en waar te neem, is toe al die tyd uitstekende eienskappe in my werk as aktrise.
Uiteindelik weet ek nou: Om suksesvol te wees, moet ’n mens ten volle jouself kan wees (net solank niemand in die proses daardeur seerkry nie).