Hoe vind ’n mens vrede? LEE-ANN VAN ROOI het geleer dat stilword jou help om jou ewewig – jou vrede, vreugde en innerlike aanvaarding – te vind.
Vind die innerlike krag om jouself te aanvaar
Vir my kom die strewe na iets of iemand anders wees, al ’n lang pad.
As kind was ek baie lief vir lees – die oudste van al die kinders in die familie. Ma en Oupa het ons almal gereeld biblioteek toe gevat. Daar het ek iets van alles gelees. Avontuurboeke, Bybelverhale, fabels, speurstories.
Vir my was die boeke en karakters ’n ontvlugting. Dit was my gereedskap vir die lewe.
Boeke het my laat droom, laat glo dat ek ook eendag ’n “iets” kan wees. Iets kan word. Dat daar dalk meer in my steek as net my velkleur.
Ek is gebore in 1972 – ’n tyd in ons land se geskiedenis toe Suid- Afrika nie ’n baie lekker plek was nie. Nie vir mense soos ons nie.
Jy het om jou rondgekyk en gewonder hoekom jy lyk soos jy lyk.
In die apartheidsjare wou ek wit wees. Ek kon sien daar is geleenthede, maar net as jy op ’n sekere manier gelyk het. Naderhand wou ’n mens nie meer bruin of swart wees nie.
As kind het ek geglo my lewe – die hele wêreld eintlik – sou beter wees as ek maar net ’n wit vel en reguit hare kon hê.
Later, as tiener, moes daar boonop van alles tog net ’n bietjie minder wees … minder hare, minder gewig, minder boobs.
Dis die leuens wat ’n mens glo. En ons het daai leuens nagestreef. Soos om vir ure te sit en hare reguit te maak.
Op hoërskool was ek nog nie innerlik sterk genoeg nie, maar in die tweede jaar op universiteit het ek besluit: Basta, dié is wie ek is. Vat my soos ek is, of los dit.
Leer om tevrede te wees met wie jy is
Die straightener is weggepak en ek het my hare gelos om hulle natuurlike krul te krul. My ouma-hulle het ’n baie groot bohaai opgeskop oor dié bossiekop.
“Hoe kan jy jou hare net so los, kind? Hoekom maak jy dit nie reguit nie? Hoe kan jy rondloop met dié groot boskasie?”
Dit was maar net die indoktrinasie van baie jare wat só gepraat het. Die leuen dat wie ons is en hoe ons lyk, nie goed genoeg was nie.
Toe kry ek my eie dogter, ook ’n krulkoppie, en moes weer van voor af saam deur háár onsekerhede stoei.
Sy het voor die spieël gesit, baie ontevrede met haar refleksie.
“Why can’t I have blue eyes and blonde hair?” het sy gekerm, want dis dan hoe haar beste maatjie, Stella, lyk.
Toe gaan sit ek eendag langs haar en verduidelik: “Ja, my lief, jy kon ook só gelyk het, maar dan sou ek nie jou mamma kon wees nie.”
“Noooo, but I want you to be my mommy!” het sy tranerig geneul.
“Nou ja toe. Dan moet jy maar vrede maak met daai mooi krulkoppie van jou.”
My dogter is nou meer tevrede met wie sy is. Sy begin verstaan dat die lewe en mensdom ’n tapisserie is. ’n Mengelmoes van kleure en kulture wat saam ’n mooi geheelbeeld vorm.
Ons twee geniet dit, net soos in my kinderjare, om met boeke omring te wees.
Om ure lank in boekwinkels rond te hang. Of in ’n coffee shop te sit met ’n boek in die hand.
Net, hierdie keer is dit nie om weg te vlug van wie ons is nie, maar om die ryke verskeidenheid wat die wêreld bied, te waardeer.
Vind vrede en innerlike aanvaarding deur stil te word
Hoe vind ’n mens vrede? Hoe klim jy uit jou groef uit? Hoe kom, en bly ’n mens in voeling met jou ware self?
Ek is iemand wat fisiek siek raak wanneer ek in ’n gat verval. Wanneer die balans in my lewe “uit” is. Hierdie liggaam sê iets skort. My kop en voete raak seer. My maag pyn en ek sukkel om asem te haal.
Die oplossing is om spesifieke tyd vir stilword af te staan.
As vroue gee en gee ons so baie van onsself vir ander mense. Maar daar is bitter min tyd en aandag vir onsself oor.
Wanneer iets pla, sorg ek dat ek baie slaap. Óf ek gaan stap. Dis wat lekker is in die Kaap. Hier kan jy nog by jou voordeur uitgaan en kilometers ver loop.
Maar daar is ook ’n ander manier om mens se ewewig – jou vrede, vreugde en innerlike aanvaarding – te vind.
Ek probeer om daagliks, vroegoggend vir sowat 20 minute, op ’n lekker gemaklike plek in die huis te gaan sit en doodstil te raak.
Geen foon, radio, TV of musiek nie. Net ek, alleen met my gedagtes.
Dis ’n tyd vir stilstaan. Vir asemskep. Vir refleksie en ruimte maak in jou kop. Waarmee is ek besig? Is ek waar ek wil wees? Wat het ek nodig om daar te kom?
Ek is nie ’n kerkganger nie, maar spandeer baie tyd saam met die Here. In Sy skadu voel ek veilig. Hy is my go-to Persoon vir alles.
Dikwels dwing Hy mens uit jou gemaksone deur jou vrae met teenvrae te antwoord. Geldige vrae wat my dieper laat kyk en dink – verby die grense in my kop en hart.
Dieper, verder en groter … hoe en waar Hý my wil hê.