En die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.
(Romeine 5:5)
Elke dag streef ons vergeefs om perfek te wees. Ons verloor heeltemal uit die oog dat Hy nooit van ons verwag het om volmaak te wees nie. Dit is glad nie waaroor genade, verlossing en vryspraak gaan nie.
Dis gerusstellend om dit te hoor, ja, en ons kry dit selfs reg om dit so half en half te glo. En tog, ons voel net nooit goed genoeg nie. In Romeine 5:5 belowe Hy egter swart op wit dat Hy ons liefhet en juis daar was vir ons toe ons op ons swakste was.
Jesus het gesterf vir ons sonde, want dit was sy Vader se wil omdat Hy ons as verlore mense so oneindig liefhet. Hy sal ons nooit verlaat nie. Ons is sy kinders en daardie volmaakte liefde sal ons as mense nooit werklik verstaan nie.
Tog, ek wonder altyd hoe is dit moontlik vir Hom om my lief te hê. Ek het dan soveel gebreke. Ek sal tog nooit sonder sonde voor Hom kan staan nie. Dan onthou ek, God het juis sy Seun vir ons gestuur. Hy verseker ons in sy Woord dat Hy gesterf het vir die goddelose op die regte tyd.
Laat dit vir ons net weereens ’n bevestiging wees van sy liefde, dat Hy nie gesterf het vir die perfekte mens nie, maar juis vir die goddelose. Hoeveel te meer sal Hy Homself en sy liefde aan almal bewys wat sy kinders is en Hom aanneem as persoonlike Verlosser!
Al voel jy vandag alleen en asof jou probleme soos ’n berg voor jou lê, onthou net: God is groter as jou probleem. Hy het jou liewer as wat jy ooit sal verstaan.
 
				 
															
 
								 
								