Ons bederf so graag ons jongspan wanneer hulle klein is. Moet dit liewer nie oordoen nie, anders gaan jou kinders moeilik verantwoordelikheid aanleer.
Waar is daardie goue streep tussen versorg, beskerm en koester teenoor terugstaan en hulle hul kant laat bring in die huis? Sodat hulle verantwoordelike jongmense kan word?
Dit bly vir my ’n geweldig moeilike vraag. My agtergrond is een van ’n koshuiskind. Ek was my hele skoolloopbaan in die koshuis, aangesien my ouers op ’n plaas in die Vrystaat woon. Dit was ons enigste opsie. Party mense hou glad nie daarvan nie, maar ek was gaande daaroor.
Ek was in Bloemfontein op hoërskool, dus het ek my ouers meestal net oor naweke en vakansies gesien. En wanneer ons op die plaas was, was dit bederf op bederf, want ons én hulle het verlang. Tot vandag toe dink ek my ma is die beste ma in die wêreld.
My realiteit van my ma wat nog altyd ’n vakansie- en naweekma vir my was, het ingeskop toe ekself ’n ma word. Toe my kinders ouer word en hulle is heeltyd by my.
Want, onthou, omdat my ma ’n vakansie- en naweekma was, was sy nooit buitensporig kwaai nie. Wanneer ons by haar was, was dit lekker. Sy het ons versorg, beskerm en gekoester.
Omdat ons heelweek in die koshuis was, was dit ook baie lekker om naweke by die huis net te ontspan. Ons het dus nie nodig gehad om ons klere van die vloer af op te tel of die kamer of kombuis skoon te hou nie.
Daar was genoeg hande op die plaas wat altyd gehelp het om toe te sien dat alles namens ons gedoen word.
En toe kom lockdown … en skielik is daar niemand wat kan help skoonmaak in die huis nie. Ek werk, maar ek is ook nou juffrou. Skielik begin soek ek naarstigtelik na hierdie balans.
Die goue draad van koester, beskerm en versorg aan die een kant, en verantwoordelikheid aan die ander.