Jy moet aanpas by jou droom, want jou drome gaan verander, het verhoudingskenner LYNETTE BEER tydens die EkwilEkkanEksal-konferensie vertel.
Identifiseer jou droom en jou struikelblokke
As jy jou droom mooi geformuleer en jy jou struikelblokke erken het, is die volgende stap uithouvermoë.
Jy moet aanhou, en aanhou, en aanhou. Ongeag jou omstandighede, moet jy jou oë gefokus hou. Die visie moet duidelik voor jou wees, en jy moet op dit fokus en nie op jou omstandighede nie.
Jy moet word soos Gideon. Gaan lees Gideon se storie in Rigters 6. God het vir hom ’n droom gehad. ’n Droom wat hom uitgedaag het.
God het vir Gideon gesê: “Gideon, hier is die opdrag, maar jy moenie bang wees nie. Toe Ek oor jou gedroom het, het Ek gedroom dat jy hierdie taak moet doen en Ek sal by jou wees ten spyte van hoe uitdagend dit mag wees, Ek is by jou.”
Wat ’n wonderlike gerusstelling!
As jy twyfel, moet jy aanhou soek wat presies jy wil hê. Jy moet jou droom identifiseer en dan moet jy jou struikelblok identifiseer.
Jou droom gaan jou help om die regte besluite te neem.
Sonder ’n droom gaan jy ronddobber. Jy gaan wonder: Moes ek dit doen? Moes ek dat doen? Wat moes ek eintlik leer?
Dit is maklik om jou doel te mis as jy nie sensitief is vir wat God oor jou gedroom het nie. As jy nie ’n droomspeurder is nie, gaan jy by ’n toekoms uitkom wat nie vir jou bedoel is nie. Wees sensitief vir die Heilige Gees.
Soms moet jy ’n ompad na jou drome loop
Hou moed as jy soms tot stilstand kom of ’n ompad moet neem.
’n Droom kan jou bevredig. ’n Droom kan jou ook verdrietig maak, dit kan jou frustreer. Jou pyn gee. In die tyd wat jy besig is om jou droom te ontdek, moet jy aanhou met speurwerk. Soms moet ’n mens ’n ompad loop.
Ek wou graag vir die Here werk. Ek het eerstens by ’n jeugaksie gewerk en toe teologie gaan studeer. Daarna was ek by ’n gemeente vir vier jaar en sewentien dae.
Ek het hard in die gemeente gewerk. Ek was pro-aktief. Ek het pretlope en busse gereël. Ek het die kinders op uitstappies geneem. Ons het kaskarre en vlieërs gebou. Ek het vir elke groep ’n vrou wat hulle bedien, saam met wie hulle ’n bietjie pret kan hê en ook leer uit die Woord. Laatmiddag sou ons terugry kerk toe, en oefen ons vir ’n groot konsert.
Ek het geglo as ek hierdie goed doen, sal ons mense betrek wat nie in die kerk is nie. Ek wou die kerk laat groei. Ek is darem ook iemand wat kreatief is en die Here het my daarvoor geroep.
Ek besluit toe die kerk moet die EE3-kursus aanbied. In die kursus word jy geleer hoe om mense na die Here toe te lei. Dis tog ’n belangrike saak.
Weet wanneer jy moet aanskuif na ’n nuwe droom
In daardie tyd was daar meer mense op ’n Maandagaand as ’n Sondagaand in die kerk.
Een van die predikante het een oggend by my kom sit en gesê: “Nee wat, Lynette, ons is nou net ’n evangelisasie-veldtog. Ek sien nie dat ons nuwe mense in die kerk voorstel nie.”
Ek het daar gesit en gedink: Here, hoe kortsigtig kan u kneg wees? Paulus sê dan party mense bewerk die grond, ander saai, ander maak nat, ander laat dit groei, en ander eet die vrug. Ons wat op platforms staan, sien nie altyd die vrug van ons woorde nie, maar God het ons nie noodwendig geroep om dit te sien nie.
Ons is geroep om te saai en om saad in die grond te sit. Ons is geroep om ’n impak op verskillende mense se lewe te maak. Ons kan nie hierdie goed meet en dan sê: Dit werk nie uit nie.
Toe het ek van my droom af weggestap en ná vier jaar en sewentien dae bedank.
Ek het ’n groot sprong van geloof gewaag, want onthou dit waaroor ek gedroom het, het ek bereik. Terwyl ek daar was, het ek net geweet ek kan nie daar bly nie. Daar was te veel in my wat nog moes uitkom, wat doodgedruk is.
Daarna het ek sielkunde gaan studeer, toe bemark ek en toe werk ek in versekering.
Jy begin op ’n plek, en werk daar. En dan wanneer God dink dis nou tyd om aan te skuif, moet jy aanskuif.