Dit is belangrik om kinders toe te rus met lewensvaardighede. Besigheidsafrigter ELSA GROENEWALD vra: Maar is dit genoeg?
Voorbereiding vir jou kind se plek in die samelewing
Wat ’n wonderlike lewenservaring om ’n ouer genoem te word. Nog meer, wat ’n ontsettende voorreg!
Ek was nog baie jonk toe my eersteling gebore is. Daardie sagte, warm bondeltjie in my arms het beteken dat die Here ’n ontsettende verantwoordelikheid aan my toegeken het. My waardes en oortuigings het terstond verander.
Ek wonder vandag of ons op daardie oomblik besef het watter enorme plig ouerskap op ons skouers plaas?
Dit begin met slapelose nagte, bottels, doeke, medisyne. Sommer baie gou is die peuter-vriendelike huis deurmekaar van die speelgoed en arriveer die kruip-en-teen-die-meubels-opstaanstadium. Dan volg die eerste treetjie en ons is tog te trots op Elsje’tjie wat so goed vorder.
Ons vergeet egter die rol en invloed wat ons reeds in haar ontwikkeling tot hier toe gehad het. Sy het haar handjie na my uitgesteek as sy voel sy wil val. Sy het by pappa skuiling gesoek wanneer sy bang was.
Ons het haar leer lag, speelgoed deel, om asseblief en dankie te sê en soveel meer. Ons het haar leer loop!
Party ouers se storie is vol vreugde, maar somtyds ook vol smart. Ons elkeen het mos maar ons eie paadjie wat die lewe met ons en ons kind/ers loop.
Elsje se kleuterjare, tienerjare en skooljare het, alhoewel dit alles goed en lekker was, net te vinnig verby gevlieg.
Ons het die voorreg gehad om haar verskillende mylpale met haar en haar twee boeties te deel.
Ons sou sorg dat hulle al die sekuriteit het wat ’n huis hulle moes bied, kos en klere, veiligheid en warmte. In die beginjare van skool sou ons help met huiswerk. Nooit sou ons die fokus op gesonde, normale opvoeding wat hulle aanvaarbaar sou maak vir die samelewing, verloor nie.
Hulle moes voorberei word om eendag ook ’n ouer te wees, ’n gade, ’n kollega, ’n vriend. Persone wat hulle plek in die samelewing kan volstaan sodat hulle ook ’n bydrae tot die ekonomie en gemeenskap kan lewer.
Om suksesvol te wees is meer as net prestasie
Bowenal, moes ons sorg dat Elsje voldoende opvoeding kry sodat sy as volwassene haar plek in die korporatiewe wêreld kan volstaan. Sy moes die belangrikheid van geleerdheid en kennis verstaan. Sy moes streef na ’n goeie werk of ’n eie besigheid.
In daardie doel het ons nogal geslaag. Van Elsje’tjie se eerste treetjie waarop ons so trots was, tot waar sy vandag staan as ’n volwaardige besigheidsvrou, suksesvol soos haar broers.
Soos wat die jare aanstap, begin jy terugkyk oor jou ervaringe. ’n Terugblik op jou kinderjare is altyd die lekkerste deel, dan nie?
Sorgvry met geen verantwoordelikhede of bekommernisse, het ons die lewe aanvaar soos net ’n kind dit kan doen.
Dis die herinneringe van die tye saam met my ouers en sibbe waarop ek kan terugval as die lewensaanslae te veel raak.
Dis die konneksie wat ek met my broer en suster het lank na my ouers nie meer daar is nie. Die bloed wat ons deel en die ervarings van kindweesdae wat ons steeds saambind.
Wanneer ek luister na my kinders se onthou, is dit die ervarings van vakansie, van saamdoendinge wat hulle bybly. Nie die lang aande se studeer nie.
Diep in hulle kinderjare lê onthou-prentjies van lepel-lê agter in die kar wanneer ons voor sonsopkoms die pad vat. Die musiekbandjie wat BZN blêr. Die speletjies speel om die groot tafel by die braai. Die oupa en ouma besoeke. Die rugbywedstryde … Te veel om op te noem.
“Iets wat ek altyd sal onthou, is hoe Oupa en Ouma vir ons gelees het. So onder ’n arm in, warm en snoesig, het ek die veiligste en gelukkigste en geliefdste gevoel. Dit los nog steeds vir my ’n warm gevoel in die hart. Ek kan hulle vandag nog ruik …”
Jy sien, dit gaan oor ons nalatenskap aan ons kinders. Dit waaraan hulle kan terugdink wanneer ons nie meer daar is nie.