REYNARDT HUGO

REYNARDT HUGO – ’n Inspirerende getuienis van geloof, hoop en transformasie 

Van pyn na verlossing! REYNARDT HUGO, die geliefde dr. Tertius Jonker in Binnelanders, deel sy inspirerende getuienis van geloof, hoop en ongelooflike transformasie. 

Jy het die dokumentêre reeks, Net Mens, vervaardig. Wie se storie in die reeks het jou diep aangeraak en hoekom? 

Ek het nou twee seisoene van die dokumentêr Net Mens voltooi. Vier jaar sedert die ontstaan van die idee en 11 episodes later.

Die vinnige verloop van tyd en die ongelooflike stories wat ons vertel het, verbaas my. Elke storie was uniek en betekenisvol. ...

Van pyn na verlossing! REYNARDT HUGO, die geliefde dr. Tertius Jonker in Binnelanders, deel sy inspirerende getuienis van geloof, hoop en ongelooflike transformasie. 

Jy het die dokumentêre reeks, Net Mens, vervaardig. Wie se storie in die reeks het jou diep aangeraak en hoekom? 

Ek het nou twee seisoene van die dokumentêr Net Mens voltooi. Vier jaar sedert die ontstaan van die idee en 11 episodes later.

Die vinnige verloop van tyd en die ongelooflike stories wat ons vertel het, verbaas my. Elke storie was uniek en betekenisvol. Vanweë my eie storie kon ek maklik identifiseer met die kunstenaars, akteurs en bekende persoonlikhede met wie ons onderhoude gevoer het.

Elke episode was ’n emosionele uitdaging, aangesien ons die deelnemers se reis met die kykers moes deel, wat uiteindelik lei tot hul oorwinning.

Ek het na verskillende plekke gereis, soos bv. Weskoppies in Pretoria, vir ’n onderhoud met Elandré in sy skool se biblioteek. Ander besoeke sluit Dirk van der Westhuizen se ou skool en Early B se ouerhuis in.

Elke onderhoud en episode het ’n unieke impak gehad. Die program het hoop aan baie mense gebring.

Jou openheid oor jou stryd met angs en depressie is dapper. Wat wil jy daarmee bereik? 

Dit is moeilik om diep oor geestesgesondheid en sy realiteite te praat, want elkeen ervaar dit anders.

My stryd met angs en depressie het my geleer om op myself en ’n uitstekende psigiater te vertrou. Dit is belangrik om te weet daar is mense wat geestesversteurings erken en hulle kinders en volwassenes laat diagnoseer, terwyl ander dit verwerp.

Om konflik te vermy, moet jy doen wat vir jou werk. As hulp vir jou en die mense om jou voordelig is, waarom dit nie probeer nie?

Ek het my probleem geïdentifiseer en opgetree, en stap hierdie pad vir die laaste agt jaar.

Elke jaar is anders; sommige maande is moeiliker as ander. Ondersteuning van familie en veral my vrou, het my baie gehelp.

Geestesgesondheid kan nie deur net ’n pil opgelos word nie; dit vereis volgehoue werk en genade vir jouself oor jare heen.

Dit is wonderlik dat mense hieroor openlik kan praat. As dit ander kan help, hoekom dan nou nie?

Hoe sal jy vir iemand wat nie aan depressie ly nie, verduidelik hoe jy in jou donkerste oomblik voel?

 Dit gaan nie oor donker oomblikke nie, maar eerder uitdagende oomblikke. Soms staan ’n mens op met ’n besige kop, wat voordelig kan wees, maar dit lei ook tot uitputting en oorweldigende gedagtes.

Dit is nie net iets wat ’n pil kan oplos nie; selfwerk is nodig. Angsaanvalle het verskeie snellers en kan enige tyd voorkom.

By my word dit dikwels veroorsaak as ek nie eet nie of myself te hard druk, wat lei tot tye waar dinge nie vir my sin maak nie.

Meestal maak die wêreld wel sin. In moeilike tye spandeer ek tyd in my loft, luister musiek, skryf, of gesels met vriende. Ek het ’n vriend met soortgelyke uitdagings waarmee ek goed uitklaar.

My vrou is ook ’n groot ondersteuning. Ek hanteer dinge nou beter as voorheen en glo nie ek word gestigmatiseer nie. Almal gaan deur moeilike tye.

Soos in Net Mens, ervaar mense donker oomblikke, maar uiteindelik vind ons oplossings of werk ons daarna. Dit is wonderlik.

Jy is ook onbeskaamd kind van God. Hoe bly jy getrou aan jou persoonlike waardes en oortuigings? 

As Christen volg ek ’n persoonlike pad waarin ek my eie drome identifiseer en nastreef.  

My leefstyl het baie verander as gevolg van reis vir werk en musiek, en ek het nou ’n meer teruggetrokke bestaan.  

Ek fokus op huislike verantwoordelikhede, veral as pa. My seun is my prioriteit, en ek spandeer tyd in my loft om te reflekteer en te bid. 

Ek vermy negatiewe situasies en fokus daarop om my waardes binne die huis te versterk, sodat ek dit in die wêreld kan uitleef.  

Ek respekteer ander se geloofsoortuigings en konsentreer op my eie geestelike reis, wat deur my geloof in die Here versterk word. Hy ondersteun my en seën my projekte.  

Vergifnis en heling in my familie en vriendskappe het sedert ek my hart aan die Here gegee het, baie verander. 

My geloof is ’n private saak, soos my familie en drome. Dit is belangrik om na ander mense te luister sodat ek hulle seer en behoeftes kan verstaan.  

In my beroep is dit maklik om grense te stel, as iemand ’n lyn oortree, sal ek dadelik sê waar ek staan. Hierdie ingesteldheid help my om opreg te leef en raak aan ander se lewens. 

Wat is die een ding wat jy graag vir jou seun wil leer? 

Ek geniet dit om ’n liefdevolle man en betrokke pa vir my seuntjie, Lenn, te wees. Ek het doelbewus gekies om minder te reis sodat ek meer by die huis kan wees. Hierdie aanpassing was goed vir ons gesin.

Ek wil Lenn oor finansies leer as hy ouer is, maar die belangrikste les is om na ander mense te luister en nie om hom te bekommer oor ander se menings nie.

Mense sal altyd iets te sê hê, hetsy positief of negatief. Wat vir my belangrik is, is dat Lenn vir homself kan dink en ander met respek behandel.

Ek wil hom Christelike waardes leer wat hy eendag kan toepas.

Lenn is wonderbaar, en dit is ’n wonderlike ervaring om sy groei te aanskou. Sy ma, wat ook ’n fantastiese onderwyser is, help baie.

Ons sien die vrug van ons opvoeding en dit werk vir ons. Ons fokus daarop om dit wat vir ons werk te doen, ongeag ander se opinies.

Ek leer hom om vrae te vra en dinge uit te daag. Dit is hoe hy sal leer en groei, selfs al irriteer dit ander.

Deur te luister, respek te toon, en soveel as moontlik te leer, het Lenn ’n goeie toekoms voor hom.

Watter boodskap wil jy die graagste hê moet jongmense uit jou storie wegneem? 

Ons het almal intuïsie wat ons lei wanneer ons op die verkeerde pad is. In my geval het ek my geluk in verkeerde dinge probeer vind, soos om my probleme weg te steek deur te drink.

Terwyl my twintigs gevul was met reis en projekte soos ’n musiekgroep en Binnelanders, het ek besef daardie ervarings is kortstondig.

Nadat ek hierdie realiteit erken het, het dinge vir my duideliker geword, en ek kon fokus op ’n lewe wat werklik sin maak en my drome kan vervul.

Ek het nie konkrete drome soos spesifieke besittings gehad nie, maar waardeer die gevoel wanneer dinge reg verloop.

Ek pas dit toe in my werk, soos die dokumentêre reekse en ander projekte wat ek vervaardig.

Ek wil nie hierdie vervullende lewe prysgee nie, en daarom moedig ek ander aan om voort te hou, probleme te identifiseer en op te los.

Die toekoms lyk rooskleuriger as ons onthou dat tyd ons kosbaarste hulpbron is. Veral in ons twintigs is dit maklik om in destruktiewe gewoontes te verval, maar die ware waarde lê daarin om nugter en helder denkend te wees.

Deur sober te wees, kan ons ander op ons reis saamneem, oplossings vind en aangaan. Die lewe is mooi en moet nie vermors word nie.

Deel die artikel

Méér artikels

MINKI VAN DER WESTHUIZEN se positiewe ingesteldheid is vasgemessel deur ’n paar lesse wat sy vandag met oortuiging leef. Wees positief en sien die goeie ...

Sangeres en TV-aanbieder LEAH is positief, energiek, gewild, talentvol en het altyd ’n breë glimlag. Hoe bly sy positief, gelukkig en koester haar uniekheid? Wat ...

Scroll to Top