“Selfdissipline is die brug tussen jou visie en die uiteindelike resultaat van jou visie,” sê akteur en mediapersoonlikheid HYKIE BERG.
Bly gedissiplineerd en geduldig as dit kom by groei
Om ’n visie en doelwitte op te stel wat buite jou gemaksone is, verg selfdissipline. Selfdissipline is die brug tussen dit wat jy wil hê en die vrug daarvan. Die uiteindelike prestasie – dít is selfdissipline. Dit is nie ’n maklike proses nie.
Ken jy die ongelooflike verhaal, The Principles of the Bamboo Tree? In China word die bamboesplant vir allerlei dinge gebruik – vir meubels, dakke en huise. Die Chinese bamboesboom is deel van dié plantfamilie. Die saadjie van die Chinese bamboes is ongelooflik hard. Wanneer jy die saadjie plant, moet jy vir vyf jaar elke oggend en elke aand vir daardie saadjie water gee. Jy moet seker maak dat daar genoeg sonlig is. Jy moet omsien na die vrugbaarheid van die grond. En jy moet elke dag dit doen. Vir vyf jaar lank. Oggend en aand … met bitter min resultate.
Ná vyf jaar sal jy die eerste teken van lewe sien. Skielik, binne ’n maand, groei daardie boom 80 voet – dis amper 30 meter. Chinese beweer hulle het al langs die boom gestaan en letterlik gesien hoe die boom groei. Soms tot een meter per dag.
Die vraag wat ek jou wil vra is: Het jou “boom” in die laaste vyf jaar regtig nie gegroei nie?
Nee, dit het gegroei, maar dit het onder die grond gegroei. Dit het ’n indrukwekkende wortelstelsel gebou wat nie sigbaar is nie. Dit is hierdie wortelstelsel wat so diep en so wyd strek wat uiteindelik die eksponensiële groei van die plant ondersteun. ’n Plant het immers wortels nodig om te groei.
Dissipline en diep wortels hou jou staande deur uitdagings
Die verhaal van die Chinese bamboesboom vertel van die selfdissipline wat nodig is om dag in en dag uit iets te doen en geen resultate te sien nie.
Jy het ’n keuse. Jy kan kies om ’n sampioen te wees – die meeste mense is sampioene. Dit groei vandag, môre is dit dood. Daar is geen wortelstelsel wat groei nie. Of jy kan soos die Chinese bamboesboom wees – iemand met ’n sterk wortelstelsel wat die groei wat God vir jou beplan kan ondersteun.
Jou karakter sal jou wortelstelsel vorm. Karakter word gebou in die moeilike en uitdagende tye in ons lewe. Dit word word verder verfyn in ons reaksie teenoor God. Vertrou ons Hom? Aanbid ons Hom? Dank ons Hom?
Hoe maak ’n mens seker dat jy ’n sterk wortelstelsel het? Jy moet bid. Jy moet ’n kerk vind. Jy benodig ’n gemeenskap van heiliges. Dit hoef nie ’n groot groep mense wees nie, maar mense wat jou verantwoordbaar kan hou. Mense wat in jou lewe in saai.
Wortels wat diep groei is belangrik, want andersyds gaan jy nie kan staande bly in moeilike tye nie.
Bereik jou doelwit deur motivering en harde werk
Jy moet jouself afvra wat jou visie is en die verskillende doelwitte wat jy moet bereik om eersgenoemde te realiseer. Skryf dit neer!
Jy moet ook vir jouself vra, hoekom is hierdie visie en doelwitte vir jou belangrik? Daardie rede moet sterk genoeg wees om jou te motiveer om elke dag op te staan en planne te maak om jou doelwitte te bereik.
Wanneer jy jou doelwit neergeskryf het, maak dit spesifiek. Moenie sê ek wil finansieel vry wees nie, dit is te wyd. Niks gaan jou motiveer om finansieel vry te wees nie. Besluit eerder dat jy teen die einde van die jaar ’n ekstra R20 000 per maand wil verdien. Besluit hoe jy dit gaan doen. Hoekom jy dit wil doen? Watter plan jy gaan maak? Watter boeke jy moet lees? Watter vaardighede moet jy aanleer? Met wie moet jy gaan gesels?
Dan moet jy elke dag konsekwent hieraan aandag gee – al is dit net ’n uur per dag.
Mense vra vir my: Hoe kweek ek selfdissipline? Selfdissipline is ’n aksiewoord. Ek moet aksie neem. Dit help nie jy lees net boeke of luister na oudiopraatjies nie, of woon gedurig motiveringspraatjies by nie. Niks klop aksie nie.
’n Goeie manier vir jou om selfdissipline te kweek is om ’n uur vroeër op te staan in die oggend. Dit is ’n goeie begin om ’n goeie gewoonte te kweek. Word ’n slaaf van goeie gewoontes wat gaan vir seker dat jy uiteindelik sterk wortels het.