“Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie.”
(Matteus 18:3)
Een seevakansie het ek die kamera gevat, my twee kinders gevolg en net begin kiek. Daardie uit-die-maag-lag-oomblikke oor ’n lastige brander het vir groot sports gesorg. Schalk het vir Jeandré aanhoudend in die lug gegooi dat sy tone omkrul van lekkerkry. Die vreugde is aansteeklik!
Skielik slaan ’n fratsgolf hulle om. Ek, wat die hele gedoente van die kantlyn af aanskou het, het die paniek op mense se gesigte gesien, maar nie een oomblik was ons seuntjie bang nie, want hy was mos veilig in Pappa se arms.
Wanneer ek my kinders vertel van Jona en die vis, glo hulle hy IS deur die vis ingesluk. Om ’n kind te wees en só te kan glo, is bevrydend en ’n voorreg!
Positiwiteit is een van my sterkpunte, maar wanneer jy die harde werklikheid van die lewe begin ervaar, raak dit moeilik om ALTYD met oorgawe te glo en te vertrou.
Soms verkies ek amper om eerder meer realisties of pessimisties te wees, en my hart te beskerm teen onnodige seer. Om te glo, beteken daar is hoop. En as daar hoop is, is die teleurstelling soveel groter, of hoe?
Hier leer my kinders my ’n waardevolle les. Dis goed om te glo en te hoop, soos ’n kind by wie daar geen MAAR is nie, en kinderlike onskuld jou grootste bate is. Hoop laat jou nog aanhou glo in môre se sonskyn, aan die reënboog ná die reën.
Vandag kies ek om spreekwoordelik kaalvoet op die strand te hardloop, in die water rond te plas en die veiligheid van my Pappa se arms te vertrou. Hy sal my vang wanneer die golf my omslaan.
Daar IS lig aan die einde van elke tonnel.