Gretha Wiid [Oudio+Video]

Sit ‘n wag voor jou mond

Baie meer mense word daagliks met die tong mishandel as met die vuis. Christene se huwelike is ook nie daarteen gevrywaar nie. Paartjies leef met die seer van woorde in hul verhouding.

Talle huweliksmaats is vasgevang in die bose kringloop van ’n skerp tong en ’n “ek’s jammer” daarna.

Hoe hartseer is dit nie dat baie mense dit as normaal aanvaar met die verskoning dat almal soms onnodige goed sê. Niemand is mos volmaak nie en ons almal verloor maar fokus in oomblikke van frustrasie...

’n Skerp tong sê ...

Baie meer mense word daagliks met die tong mishandel as met die vuis. Christene se huwelike is ook nie daarteen gevrywaar nie. Paartjies leef met die seer van woorde in hul verhouding.

Talle huweliksmaats is vasgevang in die bose kringloop van ’n skerp tong en ’n “ek’s jammer” daarna.

Hoe hartseer is dit nie dat baie mense dit as normaal aanvaar met die verskoning dat almal soms onnodige goed sê. Niemand is mos volmaak nie en ons almal verloor maar fokus in oomblikke van frustrasie…

’n Skerp tong sê toevallig altyd die regte seermaakgoed

Vir baie mense is hulle kinderjare ’n tyd toe hulle nooit hulle sê kon sê nie. Hulle is onderdruk, stilgemaak (selfs deur broers en susters) en uitgelag as hulle probeer het om hulle man te staan. Ander vertel weer dat hulle fisiek seergemaak is, maar geleer het dat die tong ’n magtige wapen is. Dit rig ewe veel skade aan as ’n vuis.

Dalk moet ons ook weer gaan kyk hoe ons ons eie kinders hanteer as boeties en sussies mekaar boelie, want daardie onderdrukte seer kom dikwels na vore ten koste van jou maat.

Ons sukkel om te hoor as ons verkeerd is of om die ander wang te draai. Ons tonge is geoefen om die ander een met die grond gelyk te maak met sarkasme, persoonlike aanvalle en ’n terugkap wat die lig op die ander een se foute laat skyn.

“Ek het nie bedoel wat ek gesê het nie, ek het dit net gesê omdat ek kwaad was!” Regtig? Die eintlike waarheid is dat die meeste mense met daardie skerp tong altyd presies die regte kwetsende goed kwytraak. Dit is baie meer berekend as wat hulle wil erken. Hulle weet dat dit die ander een se wind figuurlik gaan uitslaan.

“Jammer” maak nie ’n stukkende hart eensklaps heel nie

Ons moet besef dat die mate van berou ook die mate van vergifnis gaan bepaal. As ons telkens iemand met ons woorde seermaak en dink ons kan dit met ’n ongeërgde “jammer” regmaak, begaan ons ’n fout. Só ’n verskoning maak die ander party net meer wantrouig.

Later voel hulle in hulle diepste wese asof hulle nie ten volle teenoor hulle maat kan oopmaak nie. Die emosionele bagasie word nooit opgelos nie. Die komplimente en waardering in mooi oomblikke word heeltyd in die verwonde een se hart en kop teen die gewig van die krenkende woorde afgespeel.

Dit is belangrik dat jy in ’n kalm tyd wanneer jy emosioneel na aan jou man voel, jou hart met hom sal deel. Nie met ’n beskuldiging nie, maar eerder met ’n openbaring van ’n seer hart. Dit is nooit die moeite werd om hom hierdie dinge te laat hoor terwyl julle kwaad of in trane is nie.

Hy sal moet besef wat die uitwerking van sy woorde is op jou vertroue, julle intieme lewe en die manier waarop jy na hom kyk. As hy erken dat hy weet hy maak jou seer, moet jy ’n grens stel. Sê dat jy volgende keer gaan omdraai en wegstap as hy weer so met jou praat.

Herinner hom daaraan dat die grens daar is omdat jy hom liefhet en vir julle huwelik wil veg. Hou by hierdie grens met die volgende uitval.

Onthou, die tong het mag oor lewe en dood!

Ons almal maak foute en sê wel partykeer dinge wat kon gebly het.

Dit sal egter wondere vir ons huwelik verrig as ons die hand in eie boesem gaan steek en besin oor die siekte van te gou praat. Skuldig? Gaan soek die wortel van jou pyn of die rede vir daardie bitsige tong.

Geen skip kan vaar as die romp vol gate is nie. Hoe kan ons ’n vól mens wil liefhê as ons in onbesonne oomblikke hulle met ons woorde leegmaak? Hoe kan ons respek verwag as ons nie daardie respek waardig is nie? Hoe kan ons God loof met dieselfde tong wat ook Sy seun of dogter verkleineer en slegsê?

Die tong het immers mag oor lewe en dood. Kom ons spreek lewe as ons praat en bly stil as ons kwaad is. Die byl vergeet, maar die boom onthou!

Deel die artikel

Méér artikels

Wie is werklik in beheer van julle huwelik? Ontrafel die wanopvattings oor onderdanige vroue en leer hoe om ’n gebalanseerde en gelyke huwelik te bou! ...

Baie mans skram weg daarvan om hulleself geestelik en emosioneel voor hulle vrou te ontbloot. Hulle sukkel byvoorbeeld om voor hulle vrou te bid. ’n ...

Scroll to Top