Slim ma’s maak óók foute

Slim ma’s maak óók foute 

Jy en skuldgevoelens oor jou kinders is dalk al ou vriende. Wees gerus, selfs mense met baie kennis oor kinderopvoeding maak soms ’n blaps. 

Opvoeding van jou kinders is nie altyd foutloos nie 

Soos enige ouer het jy dalk al gewens jy was ’n onderwyseres of ’n sielkundige, dan was kinders grootmaak miskien makliker.

Elke ma voel soms so. Tog moet selfs die “slim” ma’s erken dat die opvoeding van hulle eie kinders nie altyd foutloos is nie.

As jy ’n ma is wat ...

Jy en skuldgevoelens oor jou kinders is dalk al ou vriende. Wees gerus, selfs mense met baie kennis oor kinderopvoeding maak soms ’n blaps. 

Opvoeding van jou kinders is nie altyd foutloos nie 

Soos enige ouer het jy dalk al gewens jy was ’n onderwyseres of ’n sielkundige, dan was kinders grootmaak miskien makliker.

Elke ma voel soms so. Tog moet selfs die “slim” ma’s erken dat die opvoeding van hulle eie kinders nie altyd foutloos is nie.

As jy ’n ma is wat jouself elke dag verwyt oor die foute wat jy met jou kinders maak, kan jy weet jy is in goeie geselskap. Selfs die slimste ma’s begaan dom foute. Gelukkig is dit uit ons foute dat ons die belangrikste lesse leer.

Moenie in sak en as gaan sit omdat julle al wéér baklei het nie. Geen ouer is perfek nie!

Jou dogter het dalk met ’n paar vriendinne by die huis aangekom wat nie aan jou lang lys van verwagtings voldoen nie. Jy het haar verbied om hulle weer te sien en onmiddellik het dit ’n krisis in julle verhouding veroorsaak. Sy wóú vriende met hulle wees en jy kon (wou) nie insien hoekom nie.

Dis ’n algemene probleem vir baie ouers – veral omdat die waardes in party huise so anders as jou eie is. Jy moet besef dat sy ook mense moet leer ken wat totaal anders as julle is. Dit is deel van haar persoonlikheidsontwikkeling. Sy is waarskynlik ook nie mal oor al jou vriendinne nie.

Leer om hierdie kwessie anders te benader. Miskien het sy dalk ander (goeie) karaktereienskappe in die kind raakgesien wat jy nie kon sien nie. Respekteer dan haar keuse. Of sy raak dalk bevriend met sekere mense om hulle te probeer “red”. Leer haar dan dat nie almal gered kan word nie.

Bly kalm al het jy ’n fout gemaak 

Jy het dalk jou kinders grootgemaak om hulle eie menings oor dinge te vorm. Jy wil hulle nie sommer voorsê nie; daarom het jy hulle nog altyd toegelaat om dinge te bevraagteken. En hulle aangemoedig om self te ondersoek en tot hulle eie gevolgtrekking te kom.

Tot jou seunskind eendag begin wonder het of daar rêrig ’n God is. Jy was glad nie dáárop voorbereid nie en toe bars die bom. Sorg eerder dat jy oopkop is en bly kalm, al hoor jy iets wat jou skok.

Ouers se grootste ontnugtering is dikwels die besef dat hulle nie beheer het oor wat hulle kinders dink nie. Jy kan nie jou mening op jou kinders afdwing nie, maar jy kan hulle begelei om ingeligte, en uiteindelik goeie, keuses te maak.

Jou seun het ernstige leerprobleme en vir jare is jy deur kundiges wysgemaak dat jy oor niks bekommerd hoef te wees nie. Die waarskuwingsligte het al na sy tweede verjaarsdag begin flikker en jy het vermoed iets is fout.

Maar jy is deur die “slim” mense afgeraai om hom te laat toets of vir spesiale onderrig te stuur.

Toe hy teen die einde van graad 1 steeds nie kon lees of skryf nie, het jy hom in ’n skool vir kinders met leerprobleme ingeskryf. Dit was die beste besluit ooit, want nou floreer hy.

Dit kan maklik gebeur dat jy jou kind verstoot omdat hy op die een of ander gebied sukkel en jy dalk magteloos voel. As jy vermoed iets is verkeerd, hou aan soek tot jy ’n oplossing kry waarmee jý gemaklik voel. Hou aan praat tot iemand na jou luister. Vertrou gerus daardie sesde sintuig.

Sê sommer gereeld vir jouself: “My kind is die mooiste, slimste, oulikste en ordentlikste kind in die hele wêreld.” As jy elke dag hierdie woorde glo, sal dit waar word, omdat jy hulle dan ook anders sal behandel.

Deel die artikel

Méér artikels

Dis belangrik om jou kinders vroeg-vroeg al takies te gee om te verrig. Só word hulle fluks groot met die idee dat werk normaal is. ...

Gesprekke met jou kind hoef nie uitdagend te wees nie! Hier is ’n paar maklike wenke oor hoe om oor moeilike onderwerpe te praat. Weet ...

Scroll to Top