Vir ses jaar lank het MERWEDE VAN TONDER elke aand verby die leë babakamer gestap. Maar elke aand het sy bly bid en droom oor ’n kind van haar eie.
Die wêreld is nie ’n gerieflike plek vir ’n vrou wat sukkel om swanger te raak nie. Daar is nie spesiale verlof, ’n strikkie, of ’n kopband wat jy kan dra om die mensdom te waarsku nie: Breekbaar, hanteer asseblief versigtig. Infertiliteit is lank, swaar, seer, duur, wreed en koud.
Ek het so lank vir my man, Simon, gebid. Ons al twee wou graag kinders hê en het besluit omdat ek toe reeds 30 jaar oud was dat ons sommer dadelik ná ons troue gaan probeer swanger raak.
In my hart het ek geglo dit gaan ’n wittebroodbaba wees.
Ses maande later was die wittebrood lankal vergete, en my baarmoeder steeds leeg.
Die desperate en pynvolle stryd met infertiliteit
Aanvanklik het die dokter sommer net vir my medisyne gegee om ovulasie te stimuleer, dit was nog te vroeg om bekommerd te raak.
Niks het gebeur nie. ’n Jaar ná ons troue het ons vir ons eerste kunsmatige inseminasie gegaan. Ek was glad nie voorbereid op die realiteit van dié ervaring nie.
Daar het weer niks gebeur nie. Of wel, ek was nie swanger nie; dit het wel my hart en siel verskeur en vertrap. Eers ’n jaar later het ons weer kans gesien om vir behandeling te gaan – sommer drie keer agtermekaar. ’n Desperate vrou maak desperate spronge.
Maar daardie drie mislukkings ná mekaar het my gebreek. Dit is reeds so ’n emosionele wipwa-rit, wat dan nog met medikasie vererger word. Ek het geknak. Die depressie was so erg dat ek medikasie moes kry, en maande lank vir terapie moes gaan.
Die hunkering het net erger geword. Ons is selfs deur die proses om pleegouers te word met die hoop op ’n aanneming. Maar keer op keer wou dit net nie uitwerk nie. Ek en Simon het besluit dat ons net iets sou doen as ons al twee vrede in ons harte daaroor het.
Dit was tyd om in vitro-bevrugting (IVF) te probeer. Omdat ons nie kon bekostig om dit deur ’n private kliniek te doen nie, het ons Tygerberg toe gegaan. Ná ’n jaar op die waglys, was dit uiteindelik ons beurt.
Hierdie keer was ek voorbereid. ’n Aanlyn ondersteuninggroep het my presies vertel wat om te verwag. Die ergste.
Was dit seer? Beslis! Maar baie ander dinge van infertiliteit is baie, baie seerder.
Die wonderwerk van swanger word na jare se gesukkel
Hierdie keer sou vrees en obsessie my nie beheer nie. Met die eerste skandering, toe daar eiertjies was, het ek dit gevier. Daarna het die embrio’s ontwikkel – nog ’n fees. Én toe was dit tyd vir die inplanting.
’n Week is nie regtig baie lank nie – behalwe as jy vir inplanting wag. Ná vyf dae kon ek dit nie meer hou nie. Soos honderde kere van tevore is ek apteek toe om ’n swangerskaptoets te gaan koop. Die duurste een wat ek kon kry – digitaal.
In die ses jaar vooraf, het ek presies in my kop uitgespeel hoe ek sou reageer. Tot in die fynste besonderhede uitgedink. Al die trane, en al die boodskappe.
Maar vandat daardie liggie op die toets geflikker het om te sê ek is een tot twee weke swanger, was niks soos wat ek dit uitgedink het nie. Die lekkerste lag het uit my maag uit gekom.
Uiteindelik het ek en Simon verwag. Sommer net so, is jy aan die ander kant. Vol vreugde en hope, hope skuldgevoelens – want so baie ander vroue wag nog op goeie nuus. Hoe sê ek vir hulle dat ek swanger is?
Maar ek wil ook so graag vir hulle hoop gee.
Op agt weke het die dokter drie hartkloppies gesien. Vir die medici is dit ’n komplikasie, vir ons is dit ’n wonderwerk. Die Here het ses jaar gebruik om ons geestelik, emosioneel en finansieel vir drie babas voor te berei.
God het ’n plan met ons en ons kinders, want net Hy het beheer oor die lewe en die dood. Die dokters was net ’n instrument in Sy hand.