Só oorkom ek - teëspoed

Só oorkom ek … teëspoed

LOUWERENS SWANEPOEL, suksesvolle motiveringspreker, mentor en besigheidsman, se lewe het in ’n oogwink verander. Ná ’n beroerte word hy vyf jaar lank in ’n rolstoel vasgekluister. Nou help hy ander om hulle drome te verwesenlik.

“Jy kan nie gee, wat jy nie het nie,” het my pa altyd gesê. Ná die mees angswekkende oomblik van my lewe, het my pa se woorde vir die eerste keer regtig sin gemaak.

Ná 19 jaar se studies en baie grade agter my naam, het ek myself steeds in die aktiewe inkomstegroep bevind. Dit beteken geen ...

LOUWERENS SWANEPOEL, suksesvolle motiveringspreker, mentor en besigheidsman, se lewe het in ’n oogwink verander. Ná ’n beroerte word hy vyf jaar lank in ’n rolstoel vasgekluister. Nou help hy ander om hulle drome te verwesenlik.

“Jy kan nie gee, wat jy nie het nie,” het my pa altyd gesê. Ná die mees angswekkende oomblik van my lewe, het my pa se woorde vir die eerste keer regtig sin gemaak.

Ná 19 jaar se studies en baie grade agter my naam, het ek myself steeds in die aktiewe inkomstegroep bevind. Dit beteken geen werk nie, geen salaris nie.

Ek het myself belowe, indien ek herstel – rolstoel of nie – sal ’n passiewe inkomste my prioriteit wees. Die hoofrede was om ’n finansiële heining rondom my gesin te bou. Wanneer jy as man van die huis nie in staat is om te voorsien nie, breek dit jou.

Ek het tydens ’n direksievergadering begin siek voel. Die gesigte rondom my het skielik dof geraak. Ek het beheer oor my liggaam verloor. Vyf meter na my stoel was net te ver. Ek het neergeslaan.

My vrou het drie maande langs my hospitaalbed geslaap. “Louwerens, jy gaan fine wees,” het sy bly sê.

Ná die beroerte is ek met die waarheid gekonfronteer. Al het jy al die grade en geld in die wêreld, sonder jou mense is jou bestaan leeg. Ek is afhanklik van die emosionele konneksie met my mense. En alle moontlike vrye tyd is my én my vrou s’n … Dis waar ek herlaai. By my anker.

Tydens my tyd in die hospitaal het my gedagtes my baie besig gehou … Ek was nie op ’n goeie plek nie.

Ek kon nie toelaat dat donker wolke in my hart saampak nie. In my gees en vlees was daar nog soveel om voor te lewe. Hier het die belangrikheid van ’n passiewe inkomste tot my begin spreek.

Vandag, meer as ooit tevore, fokus ek daarop om aan ’n nalatenskap vir my familie te bou en daardeur ’n verskil in ander se lewens te maak.

Wanneer ’n mens self groei beleef en mense om jou sien groei, leef jy voluit! Die wete dat ek tot hierdie groeiproses bydra, bring gemoedsrus. Wanneer mense groei en ontwikkel, breek daar sommer ’n lewendige gevoel in my los. Veral as hulle deur hulle eie groeiproses ander ook help om te groei.

Voordat jy ’n leier word, motiveer selfontwikkeling jou, nadat jy ’n een geword het … motiveer ander se ontwikkeling jou. Dit is een van my doelwitte. Leierskap. Hierdie wêreld het meer aanwysers nodig. Dit is tog die katalisator vir verandering en groei.

Om elke dag met doelgerigtheid en passie te leef, is genoeg motivering vir my.

Ná die beroerte het ek as welstandmentor ’n inkomste begin bou. Só kon mense deur my getuienis gehelp word om hulle gedagtes en hele ingesteldheid op ’n positiewe plek te kry.

Mense het nie altyd die kennis of dieselfde seer as ek beleef nie. Seer wat my soveel meer as sukses kon leer. Hierdie lesse moet gedeel word. Dit sou selfsugtig wees om die waarheid net vir myself te hou.

Die hart, die kop en hande moet saamwerk – in ooreenstemming gebring word. Sodat mense hulle volle potensiaal kan bereik. Dit wat jy dink, voel en doen, bepaal jou sukses. Of mislukking.

Die lewe is baie kort en kan so vinnig verander … Dit het my geleer om elke oomblik voluit te leef, maar om ook voorbereid te wees.

Daarom moet jy so gou moontlik die beginsel van ’n groeiende inkomste leer. Geen mens het nodig om ooit in hulle lewe so hulpeloos te voel nie.

Ek ken die kwesbaarheid van verandering. Om nie in beheer van jou eie finansiële situasie te wees nie … nog minder van jou lyf en beweging.

Om ewe skielik so afhanklik van ander te wees, kan ’n man nogal knak. Om nie eens vyf treë te kan loop, jou bene te kan beweeg of jou denke en woorde bymekaar te kan sit nie.

Jy kan emosioneel, geestelik, finansieel en intellektueel sterk wees, maar as jy jou gesondheid afskeep, gaan jy nie die mas kan opkom nie.

Deel die artikel

Méér artikels

Vir ses jaar lank het MERWEDE VAN TONDER elke aand verby die leë babakamer gestap. Maar elke aand het sy bly bid en droom oor ...

Vir Deon en Lizelle Griessel het ’n droom wat baie Suid–Afrikaners koester, waar geword – Lizelle het ’n werksaanbod in Australië gekry. Maar om te ...

Scroll to Top