Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was … het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. (Filippense 2:5-7) 

Hoe voel jy wanneer jy die woord onderdanigheid hoor? Sewe jaar gelede was ek deel van ’n uitreik na Matlala naby Marble Hall. Voor ons in die township kon evangeliseer en bedien, moes ons eers ’n inligtingsessie oor die gemeenskap se kultuur bywoon sodat ons nie dalk meer skade as goed aanrig nie.

’n Jong vrou van die gemeenskap het ons toegespreek. Een spesifieke ding bly my tot vandag toe by: “Julle mag dalk dink dat ons vroue swak is omdat ons ons mans dien; inteendeel, ons is so sterk dat ons nie omgee om te dien nie.” Hierdie opmerking het my anders oor onderdanigheid laat dink.

Jesus, ons Verlosser, kom leer ons dat mag nie iets is waaraan ons moet vashou of onsself aan moet meet nie. Hierdie verlossing wat Hy bring, is nie slegs van toepassing op die lewe ná die dood nie, maar ook op die lewe voor die dood. Sy verlossing strek wyer as dit. Dit is veronderstel om ons ook te verlos van ons beheptheid met mag, status en aansien, van ons vrees om onderdanig te wees.

Jesus kom wys ons dat Hy, die Een aan wie alle mag in die hemel en op die aarde gegee is, juis sy mag kom bewys deur sy diensbare gesindheid. God is so groot dat Hy nie omgee om klein te wees nie. Jesus voel nie bedreig deur onderdanigheid nie.

Om onderdanig te wees, beteken nie om iemand se vloerlap te wees nie. Dit beteken slegs dat jou identiteit so gevestig is as God se geliefde dat jy nie nodig het om deurentyd te bewys dat jy belangrik is deur ander mense te onderdruk en te verneder nie.