Sangeres STELLA, wat soms vroualleen op ’n plaas is, vertel hoe sy vrees gebruik om haar gedagtes eerder op God se beloftes te fokus.
Met swetende hande skakel ek die ganglig aan. Skat dan hoe lank dit gaan neem om tot by my kamer te kom. Haal diep asem en hardloop. My voetstappe word deur my kloppende hart uitgedoof. Uiteindelik my kamer.
Die warm lig van die bedlampie bring verligting, ’n baken wat die donker verdryf.
“Jesus, Lover of my soul, Jesus, I will never let you go,” sou ek saggies sing wanneer die vrees my wou-wou jaag. Waarom daardie liedjie verstaan ek tot vandag toe nie. Dis nie asof dit iets met vrees te doen gehad het nie, maar dit het my kalm laat word en my gedagtes op iets anders gefokus. Miskien is dit oor Sy liefde alle vrees verdryf.
Dis nie dat ek ’n gees van allesoorheersende vrees het nie, maar as ’n grootmens is jou vrese werkliker, gevaarliker, maar ook meer subtiel.
As ’n boervrou wat soms alleen op ’n plaas is, kan ek nie anders as om wel aan my veiligheid te dink nie.
Die geruk aan die garagedeur raak net erger. Dis ’n windstil nag. Dit kan nie die wind wees nie. Twee keer probeer ek ongemerk om vanuit die venster te sien wat aangaan, maar daar is niks.
Manlief is weg op ’n jaguitstappie. Die naaste hulp is my swaer, wat op ’n nabygeleë plaas bly.
Terwyl ek vir hom wag, trek ek my tekkies aan, kry my babatjie van vyf maande gereed as ons moet vlug. Toe hy opdaag, is dit stil.
Vieruur daardie oggend begin die lawaai weer. Ek bel weer my swaer terwyl ek by die venster uitkyk met ’n flits. Dié keer hoor ek die geraas! En besef dat dit ons hond is wat my man per ongeluk in die garage toegemaak het toe hy gery het.
Vandag kan ons daaroor lag, maar destyds was my vrees werklik.
Só kan jou gedagtes voortstorm en ’n bose kringloop van vrees sonder enige logika vorm. Gedagtes is so belangrik. “[L]aat God julle verander deur julle denke te vernuwe,” is ’n Bybelvers wat baie waar is. Jy is wat jy dink; jy glo volgens dit wat jy dink, en hoe jy glo, kan jou help om tussen die waarheid en leuens te onderskei.
Ek kan eerlikwaar sê ek leef nie in vrees vir die toekoms nie! Ek kan dit eenvoudig nie bekostig om in vrees te leef nie, dit steel te veel uit my lewe.
My verhouding met die Here anker my in iets wat ’n stewige vesting is.