Ons maak elke dag keuses in ons lewens wat veroorsaak dat ons na die tyd spyt is. Dit geld ook vir waar ons daagliks die lyn trek in ons besige programme!
’n Wanbalans affekteer jou werk, verhoudings en gesondheid
Nog ’n e-pos. Nog ’n telefoonoproep. Nog ’n afspraak. Net gou inloer by ’n kollega. ’n Vergadering wat langer duur as wat beplan is, maar alles is tog belangrik. Wat moes ek uitlos? Ek kan nie. Ek moet nog by soveel goed uitkom.
Dit alles veroorsaak ’n gevoel van magteloosheid. Dit is soms net te veel vir my. Ek is stadigaan besig om te sink … Iemand het die prop uitgetrek en ek is besig om saam met die badwater in die drein af te spoel.
“Spyt kom altyd te laat.” Hoeveel keer het jy al hierdie spreekwoord gehoor? En tog, maak ons nog elke dag keuses in ons lewens wat veroorsaak dat ons na die tyd spyt is en dan die gevolge van ons aksies en keuses moet dra. Dit geld ook in terme van ons tyd en waar ons daagliks die lyn trek in ons besige programme!
Harde werk is nie vir my ’n negatiewe konsep nie. Dis lekker om te werk vir dit wat jy in die lewe wil bereik. Die probleem ontstaan wanneer jy so hard werk aan een ding, dat dit ten koste van ’n ander ding is. Dit veroorsaak ’n wanbalans in ’n mens se alledaagse bestaan wat jou werk, jou verhoudings en jou gesondheid kan affekteer.
Kon jy dit al regkry om ’n liniaal met een vinger vas te druk en dan met die ander hand ’n reguit lyn te trek? Ek glo nie so nie – die liniaal sal kantel sodra die gewig van die pen druk uitoefen.
Vind balans in jou lewe deur te prioritiseer
Wanneer jy met jou hele hand of met al jou vingers ’n liniaal vasdruk, is dit ’n ander saak. Met die regte druk en balans gaan jy dus ’n reguit lyn kan trek. Een van die maniere om balans in jou te lewe te kry, is om te weet wanneer, waar en hoe om daardie lyn te trek.
Stel vir jou ’n prioriteitslys op, een wat prakties en uitvoerbaar is. Plak dit teen die yskas, ’n spieël of in jou kas vas of stel ’n reminder op jou slimfoon. Maak seker dat jy die lyn deur sekere take trek, sodat jy by die ander dinge wat ook belangrik is, kan uitkom.
Moenie skuldig voel as jy nie by alles uitkom nie. Ek voel so wanneer ek nie elke dag by al my e-posse uitkom nie. Ek wend dus aktief ’n poging aan om die lyn deur my e-posse te trek wanneer ek huis toe gaan om by my gesin te wees. Stel ’n logiese en praktiese tyd vir jouself waarbinne jy dit doen en probeer so ver moontlik daarby hou. Ek het byvoorbeeld kollegas wat my aanmoedig en herinner dat ek nou huis toe moet gaan … dit help!
Doen elke dag iets wat lekker is. Ek is lief vir musiek, sing en klavier speel. Ek maak dus seker dat ek iewers iets inwerk wat met musiek te doen het. Kry iets om na uit te sien, al is dit net vir tien minute op ’n dag. Gaan gim toe, maak ’n vaste afspraak met iemand vir ’n koffie, gaan draf of luister (soos ek) na mooi musiek.