Uittreksel uit Die Boekengel, deur Malene Breytenbach

’n Deernisvolle verhaal oor ’n nuwe begin, betekenisvolle verhoudings en die krag wat liefde en geloof tot uiting kan bring

Tienuur die oggend loop Mara na Corné van Rooyen se praktyk in ’n historiese gebou naby die kweekskool. Sy vat kortpad deur die kweekskool se pragtige tuin van die rivier se kant af na die groot hek by Dorpstraat. Verwonder haar aan die bome wat eeue oud lyk. Dink aan Bart, wat iewers in die imposante gebou moet wees, dalk klasgee. Sy was so nuuskierig oor hom dat sy hom gegoogle het en op die universiteit se Fakulteit Teologiewebwerf gesien het sy vak is praktiese teologie – homiletiek.

Homiletiek moes sy opsoek en het gesien dis preekkunde. Dus leer hy mense kanselwelsprekendheid. Dit klink na ’n vorm van drama. Wat doen ’n prediker anders as om voor ’n gehoor op te tree? Hoe beter hy kan toneelspeel, hoe meer gaan hy sy gemeentelede beïndruk. Hoe minder gaan hulle gedagtes dwaal terwyl hy aan die woord is en hoe kleiner is die moontlikheid dat hulle aan die slaap kan val, soos haar oupa dikwels gedoen het.

Sy gaan staan voor die gebou en kyk rond. Watersproeiers gooi diamantstrale oor smaraggroen gras omring deur roosbeddings met wit bloeisels. In die middel van een grasperk staan die grootste denneboom wat sy nog gesien het en daaronder jaag twee eekhorings met welige sterte mekaar, flits heen en weer en verdwyn in die boom op.

Wat ’n pragtige tuin, wat ’n rustigheid. So ’n mini-Tuin van Eden in die hart van die besige Stellenbosch. As student het sy nooit hier gekom nie aangesien sy niks hier verloor het nie. Van die straat af het sy egter gesien die gebou is histories en beslis een van die mooiste in Stellenbosch. Sy loop tot voor die standbeeld van twee mans op ’n voetstuk. John Murray en NJ Hofmeyr, lees sy. Twee teologiese professore uit die ou, ou dae. Uiters vernaam en gerespekteer waar hulle hier pryk.

“Die studente sê in die nag staan die een wat nou sit en die een wat gedurende die dag staan, sit dan weer.”

Sy skrik, draai om en kyk in ’n glimlaggende Bart se gesig vas. “Regtig? Ek kan glo dat hulle moeg gestaan moet wees ná twaalf ure.”

“Dis ’n verrassing om jou hier raak te loop.”

Nóú beskikbaar – Die Boekengel

Die Boekengel is nou beskikbaar by alle boekwinkels en aanlyn: https://loom.ly/VLPIv6I

Waarom bloos sy nou sowaar asof sy uitgevang is oor iets ongerymds? “Ek is op pad na my prokureur in Dorpstraat, toe dink ek dit sal lekker wees om kortpad deur dié mooi tuin te vat. Ek woon mos langsaan, in Oewertuin. Hier is rose en dartelende eekhorings om die dag te verhelder.”

Hy loop na die rose en pluk vir haar ’n knoppie. Sy neem dit glimlaggend by hom. Dis amper ’n romantiese gebaar wat sy nie van dié man verwag nie.

“Watse soort boom is daardie, die hoogste boom in Stellenbosch?” vra sy.

“Dis ’n Norfolk-den oftewel Araucaria heterophylla en dis in 1826 deur die vrou van landdros Van Ryneveld in die drosdy se tuin geplant. Hierdie gebou was eers die drosdy en dis baie vergroot en verander.”

“Jy’s sowaar ’n bron van inligting, Professor,” terg sy.

“Ek moet mos weet wat in my werksomgewing aangaan, mejuffrou Gericke.”

“Ek was nog nooit in dié gebou nie, maar dit lyk indrukwekkend van buite.”

“As jy belangstel, kan ek jou een of ander tyd die kweekskool se binnekant wys. Hier is fassinerende ou goed, ’n museum, ’n baie groot argief en ’n yslike biblioteek.”

“Dit sal gaaf wees.” Klink sy nie oorgretig nie?

“Ek het Woensdagoggend ’n tydjie beskikbaar. Sê so elfuur se kant. Sal dit jou pas?”

Sy oorweeg dit kastig. “Ja … ek dink so.”

“Kry my hier by die voorste ingang.”

“Dankie.” Sy kyk op haar horlosie. “Oeps, ek moet draf. Die prokureur verwag my oor tien minute.”

“Totsiens dan.”

“Totsiens, Bart.”

Met warm wange loop sy, onthou toe as student het dit só gevoel as iemand op wie jy ’n crush het, jou date. Sy het die een crush na die ander op aantreklike jongelinge gehad, toe gaan trou sy met ’n man twintig jaar ouer as sy.

Wat gaan aan met jou, Mara? Jy is ’n veertigjarige, geskeide vrou wat deur die lewe gebrei is en boonop is jy nie gelowig nie. Eintlik afvallig van die geloof wat jy in jou kindertyd moes aanhang. ’n Teoloog is die laaste soort mens wat jy moet cultivate. Dink net hoe konserwatief hy is, hoe korrek. Hy lewe in ’n boks met die etiket van kerkman.

’n Man wat vir haar ’n roosknop gepluk het …

****

“So, jy wil ou prof Viljoen se boekwinkel lock, stock and barrel oorneem?” vra Corné van Rooyen toe sy in sy kantoor sit. “Dit sluit in bates, inventaris, toerusting, meubels, goodwill, intellektuele eiendom, ensovoorts.” Sy donker wenkbroue wip behoorlik, asof hy dink sy is nou van lotjie getik.

Soos altyd is hy perfek, hare gestileer, dra deftige ontspanningsdrag, sy naels is gemanikuur en sy hande sag. Hy is gladgeskeer en omgeef van ’n duur naskeerroom. ’n Goue ring pryk aan een pinkie. Sy het haar spesiaal opgetof in ’n rok en polvye omdat sy weet hy dink voorkoms is belangrik. Hy trek seker die oë van albei geslagte maar dan word vroue teleurgestel as hulle uitvind hy kolf nie in hulle span nie.

“Ja, ek gaan nou ’n winkelier word en dan lê ek nie meer doelloos rond nie,” spot sy. “Ek gaan die ou Boekhoekie herdoop na die Boekeparadys.”

Sy ontvangsdame cum sekretaresse kom in met ’n skinkbord tee. Sy is middeljarig en deftig in ’n vlootblou pakkie, spierwit bloes, sykouse en donkerblou polvye, soos hy natuurlik vereis. Gelukkig zoem die lugreëling in dié kantoor. Buite is dit sweet-weer. Hier binne waar die lug koel is, kan ’n mens nog elegant wees, kouse en al.

“Dankie, Ella,” sê hy. “Me. Gericke gaan beslis tee nodig hê nadat ek alles uitgespel het wat sy te wagte kan wees.”

Ella knipoog vir Mara maar hou haar verder sedig. Sy skink die tee. Mara neem melk sonder suiker.

Corné drink swart met een teelepel suiker. “Ek is allergies vir laktose,” sê hy.

Mara vat ’n sluk. Earl Grey natuurlik, en ongetwyfeld Twinings. Hier sal gewone tee nie deug nie. Die koppies is ragfyn met rooi rosies en goue rande versier.

Corné drink die helfte van syne, sit die koppie in die piering, tik aan sy mond met sy sakdoek en kyk priemend na Mara.

“Nou ja, ek weet jy weet sweet blow all van besigheid. Jy wil jou miljoene aan iets bestee wat jou plesier sal gee.”

“Ek het nie regtig miljoene om te bestee nie, Corné, maar ek sal darem ’n boekwinkel kan bekostig.”

Hy glimlag skeef. “Oukei, ek verstaan jy soek iets om jou besig te hou. Ek is dus hier om te sorg vir due diligence. Dit wil sê ek sal moet kyk dat alles hunky-dory is, die kontrakte wat jy aangaan, die wetsdokumente, die huurooreenkoms met die Erfenisstigting, ensovoorts. Ek identifiseer die risiko’s of issues wat kan opduik.”

Hy kug en neem fyntjies nog ’n sluk tee. “Ons moet seker maak dat die prof se winkel nie skuld het nie en watse soort inkomste dit genereer. Ryk gaan jy nie word nie, jammer om te sê. Hy het dit glo as ’n soort stokperdjie bedryf, ’n post-aftredeprojek, en dit bestaan al jare lank.”

“Ek weet dit sal my nie ryk maak nie, Corné, maar ek wil dit nogtans doen. Ek wil dit mooi maak en ook koffie en tee bedien, en ek wil dit adverteer en ’n galaopening hou.”

Hy lag. “Galaopening, nogal. Jy het ambisieuse planne.”

“Ek dik nou aan, maar as ek mense vir drankies en snacks en ’n bekendstelling nooi, sal hulle mos weet die plek het ’n nuwe eienaar. Dit sal die regte soort aandag trek.”

“Ou…kei.” Hy vryf aan sy neus. “Maar voordat ons daar kom, is daar stappe om die boekwinkel joune te maak. Eerstens doen ons assessering van die huidige stand van sake in die winkel. Dit sluit in die nagaan van die eienaar se finansiële rekords, sy inventaris en sy klantebasis, enige kontrakte wat hy met enigeen aangegaan het soos verskaffers, ensovoorts. Dit is noodsaaklik om die waarde van die winkel te bepaal en dit sluit in die bates soos die fisiese ligging, die vaste toebehore en goodwill. Ons kry ’n professionele assessor om ’n regverdige prys te help

bepaal. Ons moet alle terme en voorwaardes uitklaar. Ook die oorgangstyd en watter laste die nuwe eienaar sal erf. Natuurlik doen ons due diligence, oftewel ’n omsigtigheidsondersoek in regsterme. Dan stel ek ’n koopkontrak op, sodra albei partye ooreengekom het en ons seker is daar is geen verskuilde issues of laste wat jou kan benadeel nie. Ons bepaal hoe jy gaan betaal. Nadat alle partye geteken het, word die eienaarskap aan jou oorgedra, insluitende enige kontrakte wat hy met verskaffers en so aan aangegaan het.”

Mara se kop draai van al die inligting. Praat is maklik, maar doen is opdraand, sê haar pa altyd.

Corné glimlag skalks. “Dan kan jy daai treurige ou winkeltjie begin mooi maak en ’n behoorlike koffiemasjien installeer. Miskien sal ek jou ook dan kom ondersteun.”

“Dis reg so. Ek is nie van plan om tjiepskyt te wees nie.”

Hy lag. “You go, girl.”

Besoek gerus ons webtuiste by www.lapa.co.za of volg ons op Facebook en Instagram vir meer inligting oor ons nuutste boeke.

Deel die artikel

Méér artikels

Die huis op die hoek is ’n boeiende historiese roman wat die leser na ’n ander tyd, kultuur en omgewing wegvoer. Voor sononder is haar ...

Woestynblom deur Kristel Loots is ’n deernisvolle verhaal oor ’n vrou se soeke na liefde, vryheid en selfaanvaarding. Isabella staan ’n paar oomblikke voor die ...

Scroll to Top