Die huis op die hoek is ’n boeiende historiese roman wat die leser na ’n ander tyd, kultuur en omgewing wegvoer.
Voor sononder is haar pa en Daniela terug met hulle baba, Salome. Hulle groet vlugtig, so in die verbyloop.
Die rabbi dra ’n slapende Salome kamer toe en sit haar in die bababedjie. Daniela se donker vlegsel hang oor haar regterskouer. Sy druk dit agtertoe sodat sy gemaklik kan werk. Dan krap sy in die kombuis rond. Sy sit vir aandete van vanmiddag se koue vleis en slaai wat Helen ingepak het, voor.
Leah sit in haar kamer en tob. Dié huis van haar pa het sy eie siel en kultuur. Net soos elke huis ’n eie geselspatroon het. Boere kom nie los van die hoop op reën en geen siektes onder die skape nie. Daarteenoor het haar pa se huis ’n
akademiese fokus. Dis hulle leefstyl. As ’n gesin van navorsers in godsdienstige studies redeneer hulle gedurig oor beter vertalings en begrippe. Dis juis hierdie rondkrap en koppe stamp wat soms diepsinnige lewenswaarhede openbaar. Skatkamers van kennis. Maar dit kan ook anders uitdraai. Veral nou.
Op Stellenbosch is sy met haar eie navorsing, idees en oortuigings besig. Sy kan haar nuwe siening uitleef. Hier wil sy dit ook doen, haar siening en stempel op hierdie huis afdruk, die siel daarvan verander.
Vandag voel sy egter half ontuis en ongemaklik, want die mense het verander.
Maar sy is hier met ’n doel en kan nie bekostig om te twyfel of nou moed op te gee nie. Vanaand ná ete gaan sy praat. Dis tyd en dit moet uit.
***
Ná ete sit Leah en rabbi Jacob by die kiaatetenstafel. Sy skuif rond, staan toe op en bekyk die stoel. Die ou leersitplekke is al ongemaklik hol gesit. In die leer is krakerige merke soos windbarsies in ’n ou muur.
“Wat nou?” Rabbi Jacob loer oor sy bril.
“My grootwordstoele is oud. Ongemaklik.”
“Ek weet.” Hy lees voort.
“Ek het vir jare hier geëet en studeer.”
“H’m.”
Nóú beskikbaar – Die huis op die hoek
Die huis op die hoek is nou beskikbaar by alle boekwinkels en aanlyn: https://loom.ly/Hzp8BmY

Haar boek met die swart omslag kan net sowel onderstebo wees, want sy lees nie ’n woord nie. Sy kan nie fokus nie.
Die leeslamp se sagte lig teken hulle skaduwees teen die eetkamermuur af. Leah leun vorentoe en haar skadu beweeg nader. Word kleiner.
Sy kyk weer af na haar boek, sluk en loer na die rabbi. “Onthou Pa wat Pa die ingrypendste stelling van alle tye genoem het?”
Hy kyk op, glimlag tevrede en sy oë versag. “Genesis 1 vers 1.”
Leah sit soos ’n besemstok. “Dis juis oor dié siening van Pa dat ek dit die afgelope tyd met nuwe aandag bestudeer.” Sy sit haar boek neer, tel haar oefeningboek op en sit dit oop op die tafel neer. Met haar duimnael druk sy op die middelvou totdat dit mooi plat lê.
Rabbi Jacob hou haar bo-oor sy leesbril dop. Hy staar na Leah se swart skrif op die wit papier. Soos gewoonlik vroetel hy aan sy growwe baard. Hy lees die teks eers in Hebreeus. “Dit is die volmaakte stelling met sy sewe Hebreeuse
woorde. Subtiele wenke van volmaaktheid. Soos ons Joodse staankandelaar met sy sewe vlamme.”
“Maar dis nie al nie. Dit lyk vir my die Skepping was van die begin af geprogrammeer vir verlossing.” Sy hou haar oë op die boek. “Toe sonde in die wêreld gekom het, was daar nie ’n plan B nie. God het geweet wat kom en daarom …”
Haar pa se stip blik laat haar woorde verstil.
Hy loer na wat Leah verder geskryf het. Minagtend stoot hy Leah se opsomming van hom af weg. “Ek wil nie hieroor praat nie.” Hy vat aan sy jarmoelka, vou sy bene oormekaar en maak sy oë toe asof hy hom wil afsluit.
Leah soek na woorde. Stroefheid hang in die vertrek. Hoe kan hy nie wil luister nie? Dis tog feite uit die antieke geskrifte. Die tipe hiërogliewe van die woord “begin” verduidelik dan juis die status en doel van God se Seun.
Die sagte getik-tik van die ou staanhorlosie word ’n welkome geluid in die stilte. Daniela maak haar keel skoon en wag. Maar die rabbi kyk verbaas verby haar na Daniela. “My aarde, my vrou. Hoe lank staan jy al daar?”
“Van die begin van julle gesprek af,” antwoord Daniela terwyl sy haar tingerige lyf teen die jare oue kosyn steun.
“Kom sit,” nooi Leah.
“Dankie, maar ek luister met een oor na julle en met die ander vir Salome.”
Leah kyk Daniela ondersoekend aan, van kop tot tone. Sy lyk deesdae soos ’n uitgebleikte kombuislap met haar vormlose rokke. Ná haar kind se geboorte lyk dit of haar boepmagie nie deur vormdrag platgedruk kan word nie. Miskien het die min slaap haar nerwe ook dunner geskuur. Is dit net die huilende baba of is daar iets anders wat Daniela teister? Leah bly wonder.
Tog is dit die moeë Daniela met haar onbeholpe Afrikaans wat ingryp en die gesprek se rigting verander. Sy wil weet wat die belangrikste aspek van dié vers is.
Ná nog ’n ruk van stilte – dalk as straf – antwoord die rabbi lomp: “Nou ja, twee dinge: die Skepper se fassinerende, wetenskaplike benadering, alles wiskundig uitgewerk. Tweedens is dit belangrik dat net Hy só kan skep en gevolglik die eienaar van alles is én bly.”
Hy het vir Leah se skerp denke ’n gaping geskep en sy druk haar woorde in die opening: “So, niks behoort regtig aan ons nie.”
Hy knik. “Ons dink maar dit behoort aan ons, maar dis net verbruikersreg.”
“Soos vruggebruik?”
“Netso. Als word teruggegee of agtergelaat wanneer ons weer stof word.” Sy oog vang Daniela s’n en hulle glimlag vir mekaar. Daniela knipoog skelm vir hom.
“As dit dan so is, waarom hou ons so vas aan goed?” vra Leah impulsief.
“Hoe bedoel jy?”
“Ma se erfgoed, die baie breekgoed, silwergoed. Het ons dit regtig nodig?”
Haar stem lig terwyl sy haar nek strek. “Gierigheid en nie nood nie.”
Dis asof daar ’n chemiese reaksie intree. Daniela verander in ’n standbeeld. Die rabbi pers sy lippe opmekaar asof hy ’n stortvloed woorde wil keer.
Leah wil hom in die oë kyk, maar hy staar verby haar. Sy arms hang slap en hy vryf sy wysvingers met sy duime. Dis asof sy ’n handgranaat in sy lewe gegooi het.
Natuurlik weet Leah van haar pa se swaarkry en sukkel. Miskien het haar pa se vrees vir armoede hom daartoe gedryf om destyds, en nou weer, ryk te trou. Vir ’n paar oomblikke maak sy haar oë toe asof sy negatiewe gedagtes daarmee kan keer.
Rabbi Jacob se entoesiasme en gesels het opgedroog. Leah het in haar pa se binnekamer rondgekrap. Hy wieg sy skouers en vryf sy baard.
Leah ken dié lyftaal van hom. Dis ’n soeke na uitkoms. Want hy hou nie van konfrontasie nie en verkies om eerder te vlug.
“Ek’s moeg. Daniela en ek gaan slaap. Salome gee ons nie baie rus nie. Bokmelk was te ryk. Koeimelk met rooibostee werk beter.”
“Nag, Pa. Lekker slaap, Daniela.”
“Nag.”
Vanaand kry sy geen voorkopsoen of knipoog van haar pa nie. Haar pa en sy vrou verdwyn in die gang se skemer. Dis net Leah se skadubeeld wat teen die muur oorbly. Sy druk haar handpalm teen haar voorkop. Haar kritiek was onvanpas, onsensitief en het ’n kwaai angel bevat.
Maar sy kan nie in twee wêrelde bly leef nie. Sy kan maar net hoop die kwaad sal soos koffiemoer weer afsak.
Die huis op die hoek is nou beskikbaar by alle boekwinkels en aanlyn: https://loom.ly/Hzp8BmY