Uittreksel uit Die jare tussen ons deur Jozine Botha

Uittreksel uit Die jare tussen ons deur Jozine Botha

Hierdie inspirerende liefdesroman is ’n hartroerende storie oor geloof, hoop & tweede kanse. Die verhaal handel oor verslawing, ontvlugting en versoening, en herinner lesers dat ware liefde en vergifnis ’n nuwe begin kan bring.

Die Here is naby dié wat hartseer is. 
Hy help hulle wat geestelik stukkend is. 

(Ps. 34:19, NLV) 
2022 

Elaine sit op haar hurke langs Ben van Staden se graf en kyk met haat en woede na die eenvoudige grafsteen wat sy ouers vir hom laat oprig het. Hy verdien dit nie. Sy sug en wens vir die soveelste keer dat ...

Hierdie inspirerende liefdesroman is ’n hartroerende storie oor geloof, hoop & tweede kanse. Die verhaal handel oor verslawing, ontvlugting en versoening, en herinner lesers dat ware liefde en vergifnis ’n nuwe begin kan bring.

Die Here is naby dié wat hartseer is. 
Hy help hulle wat geestelik stukkend is. 

(Ps. 34:19, NLV) 
2022 

Elaine sit op haar hurke langs Ben van Staden se graf en kyk met haat en woede na die eenvoudige grafsteen wat sy ouers vir hom laat oprig het. Hy verdien dit nie. Sy sug en wens vir die soveelste keer dat sy hom kon vergewe. Agtien maande het reeds verloop vandat Ben oorlede is, tog voel dit vir haar soos gister. Sy kom moeisaam orent en staar oor die begraafplaas uit. Die plek is vervalle. Die gras wat nog plek-plek groei, is lank en oral het onkruid die grafte oorgeneem. Dit laat haar nogal aan haar eie lewe dink … ’n lewe vol onkruid.
Dit is besonder warm en Elaine voel hoe die sweet oor haar gesig uitslaan. Sy vee dit ongeërg af en loop terug na haar motor toe. Hoekom kom sy nog hierheen? Sy klim in die motor en skakel dit dadelik aan, voel hoe die koel lug oor haar arms en gesig vloei en sug verlig.
Tog ry sy nie dadelik nie. Waarheen sal sy in elk geval gaan? Daar is niemand wat vir haar by die huis wag nie. Vir die soveelste keer wonder sy wie sy is. Hoe is dit moontlik dat sy nou hier sit sonder hoop, sonder drome, sonder haar kind? Sy voel so alleen. Sy mis haar ouers en haar dogtertjie. Sy mis vir Alex.
Here, asseblief, wys vir my hoe om aan te gaan. Hoe moet ek aanhou leef terwyl ek net wil doodgaan?
Sy smag na ’n glas wyn. As sy net vir ’n rukkie van haar pyn kan vergeet. Maar sy is al ses maande lank skoon.
Help my om sterk te bly, Here, vir Shayla …
Sy ken nie hierdie mens wat sy geword het nie: ’n swakkeling en ’n verslaafde. Sy kan haarself nie vergewe nie, waarom het sy toegelaat dat dinge so vêr gaan? Haar gedagtes dwaal terug na 2013. Op negentien was sy so vol lewe, so opgewonde oor wat die toekoms inhou. Sy was ’n onderwysstudent in haar eerste jaar aan die Universiteit van Pretoria.
Sy het nog altyd ’n passie gehad vir kinders en het geglo die Here het haar na die onderwys geroep. Dat Hy haar wou gebruik om ’n verskil te maak in die lewe van kinders. Maar hierdie drome lê aan skerwe.
Wat moet ek doen, Here? Miskien moet ek my onderwysgraad klaarmaak. Dalk kan ek my lewe regruk. Dalk kan ek weer ’n ma vir my kind wees … of dalk is sy beter af sonder my.
So duidelik asof hy hier langs haar praat, hoor sy weer pastoor Riaan se afkondiging van die vorige dag: “Almal wat betrokke wil raak by die welsyn, en spesifiek uitreike na die huise van veiligheid in Doornpoort, moet Maandagaand om sesuur by die kerk aanmeld.”
Is dit die antwoord? Ten minste vir nou is dit dalk ’n stap in die regte rigting. Maar hoe kan sy eens so iets oorweeg? Dis jare vandat sy laas by die kerk bedien het. Voor gister was sy seker drie jaar laas in ’n kerk. Sy kon haarself nie sover kry om Ben se begrafnisdiens by te woon nie.
Die skuldgevoelens begin weer aan haar knaag. Wat laat haar dink sy kan ander bedien? Sy het lankal haar waarde vir God verloor. Hy kan haar lankal nie meer as ’n instrument gebruik nie. Sy is waardeloos, stukkend gebreek deur haar omstandighede, deur haar eie sondige optrede. Sy kon nie eens ’n ma vir haar kind wees nie. Maar net miskien …


Nóú beskikbaar – Die jare tussen ons

Die jare tussen ons is nou beskikbaar by alle boekwinkels en aanlyn: https://loom.ly/14isuv8

Die jare tussen ons

Alex gaan sit agter sy lessenaar. Hy het presies twee uur om stiltetyd te hou en dan vir sy vergadering voor te berei. Hy hoop regtig dat daar genoeg vrywilligers gaan opdaag om aan te sluit by die span wat die jaar se uitreikprojekte moet aanpak.
Pastoor Riaan het Sondag afgekondig dat hulle ’n welsynspan op die been wil bring en dat almal wat belangstel Maandagaand om sesuur by die kerk moet wees.
Alex slaan sy Bybel by Johannes 15 oop. “Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh.15:5, NLV)
Alex kyk op, hy bid woordeloos dat die Here hom sal lei om ’n verskil te maak in hierdie klein gemeente aan die buitewyke van Pretoria.
Sonder U kan ek niks doen nie, help my om ook hier vrug te dra.
Toe hy sesuur uitstap, is hy verlig om soveel motors buite te sien staan. Vier mense staan op die kerk se stoep en gesels, en nog ’n vrou sit in haar motor.
Alex stap na die groepie mense toe en steek sy hand na een van die bejaarde mans in sy gemeente uit.
“Oom Henri, tannie Babs, dis nou goed om julle hier te sien. Met julle in ons span het ons niks om oor bekommerd te wees nie.”
Tannie Babs lag. “Ons sal maar moet sien, Pastoor. Ons moet maar bedien solank ons nog kan. Ek hoop net ons kan iewers nog ’n verskil maak.”
Alex knik glimlaggend, dan draai hy na die ander vrywilligers toe en groet elkeen met dankbaarheid in sy hart. God het die arbeiders voorsien. Daar is ’n jong paartjie, Melanie en Pieter, dan nog drie ongetroude jongmense, Anelle, Jaco en Linda. Almal lyk opgewonde om deel te wees van die uitreikspan.
Hy hoor hoe ’n motordeur agter hom toeklap. Dit moet die dame wees wat hy in haar motor sien sit het. Hy draai om en gee ’n paar tree in haar rigting. Maar dan herken hy haar … Elaine?
Hy voel hoe sy liggaam yskoud word. Hoe is dit moontlik? Toe sy voor hom tot stilstand kom en eindelik opkyk, sien hy die herkenning in haar oë.
“Alex?” fluister sy. “Ek … askies,” stotter sy verbouereerd en lyk skielik erg verleë. “Ek was nie bewus daarvan dat jy in hierdie gemeente is nie.”
Alex vind eindelik sy stem. “Elaine … dis ’n verrassing om jou weer te sien.” Hy bid woordeloos dat sy nie die emosie in sy stem kan hoor nie.
Wanneer hy weer praat is sy stem koel en van die ou bitterheid skemer deur toe hy vra, “Hoe lank is dit? Sewe jaar? Dalk meer. Is jy deel van hierdie gemeente? Ek het jou nog nie hier gesien nie.”
Van al die mense wat nou weer oor haar pad moes kom, hoekom hy? Wat maak hý hier? Elaine wens sy kan omdraai en wegvlug, maar dan raak sy bewus van die ander se oë op hulle. Sy moet haarself regruk.
“Ek het Sondag eers weer die dienste begin bywoon. Ek was vir ’n tyd lank … wel, nie hier nie.”
Sy wens die aarde wil haar insluk, maar sy kyk weer op, in sy oë. Daardie groen oë wat jare by haar gespook het. “Wat van jou? Is jy ’n pastoor hier?”
Alex voel hoe alles in hom saamtrek, sy maag draai, sy bene voel lam.
Van al die gemeentes waarheen U my kon stuur, hoekom na haar gemeente toe? Here, help my.
“Ek is hier van laas jaar September af,” antwoord hy.
Hy frons effens. Sy is so maer. Hy wil haar vra hoe dit met haar gaan, maar dan … wil hy regtig weet? Skielik besef hy dat hulle nie alleen is nie. Sê dan sag, “Hierdie is seker nie die tyd om op te vang nie.”
Hy draai terug na die res van die mense toe, sien hulle nuuskierige kyke. Kan hulle die spanning aanvoel?
“Nou ja, dit lyk my almal is hier. Sal ons begin?”
Die vergadering is teen halfagt afgehandel. Elaine voel steeds of sy kontak verloor het met die werklikheid en haarself in ’n droom bevind. Sy het net mooi niks gehoor wat tydens die vergadering gesê is nie. Sy het wel agtergekom dat Alex se aandag ook nie ten volle by die vergadering was nie. Die mense moes beslis vermoed het dat iets nie pluis is nie.
Terwyl die ander vir Alex groet, oorweeg sy dit vir ’n oomblik om agter te bly en met hom te praat. Sy wil so graag weet hoe dit met hom gaan. Sy wil weet of hy nog kwaad is vir haar. Maar dan begewe haar moed haar. Met haar handsak onder haar arm en ’n gemompelde groet loop sy vinnig verby die ander by die kerk uit.
Laat Maandagaand lê Alex steeds wakker. Hy kan dit nie glo nie. Dit voel vir hom of sy hele wêreld in ’n oogwink verander het. Die ou bitterheid, die seer, die verlange … Alles is weer terug. Dis asof dit gister gebeur het. Hy het gedink hy het dit verwerk en dat hy aanbeweeg het. Alhoewel hy die laaste paar jaar wel minder aan haar gedink het, het hy nooit heeltemal opgehou om aan Elaine te dink nie.
Wat nou, Here? U weet hoe ek oor haar gevoel het, hoe intens lief ek haar gehad het. Ek was so seker dis die vrou wat U vir my gekies het, maar sy het my amper alles gekos, my verhouding met U, my loopbaan. Hoekom nou?
En hoe gaan hy dit regkry om haar te sien, dalk Sondag ná Sondag, sonder om weer sy hart te verloor? Hy wonder of sy en Ben al kinders het.
Elaine sukkel ook daardie aand om aan die slaap te raak. Alex de Waal, die man wat haar hart vinniger kon laat klop as hy net in haar rigting gekyk het. Die man wie se soene ’n vuur in haar kon aansteek, die man van haar drome, by wie sy so graag wou wees.
Hy is hier. Hier in haar gemeente, terug in haar lewe. Maar niks wat sy doen, sal ooit kan opmaak vir die seer, die chaos wat sy in sy lewe veroorsaak het nie.
Here, ek is so jammer. Sal my sonde my dan oral volg? As ek net van die begin af die regte besluite geneem het.
Soos so dikwels gedurende die afgelope paar weke dwaal haar gedagtes terug na die verlede.

Kry Die jare tussen ons hier: https://loom.ly/a1TofTg

Registreer

Registreer (gratis) om volledige toegang te kry – indien jy nie reeds geregistreer is nie.

Deel die artikel

Méér artikels

Die huis op die hoek is ’n boeiende historiese roman wat die leser na ’n ander tyd, kultuur en omgewing wegvoer. Voor sononder is haar ...

Woestynblom deur Kristel Loots is ’n deernisvolle verhaal oor ’n vrou se soeke na liefde, vryheid en selfaanvaarding. Isabella staan ’n paar oomblikke voor die ...

Scroll to Top