Drie vriendinne, een hospitaal en hope intrige. Hospitaal Weltevreden deur Riaan Grobler is ’n boeiende hospitaalroman vol opwinding en deernis met lewensgetroue karakters. Die verhaal volg die lief en leed van dokters, pasiënte en hul naastes.
Ná ’n halfuur laat weet die suster die skandering is beskikbaar. Dit is toe presies wat Anna-Mart vermoed het.
“Bel asseblief vir dokter Tredoux?” vra sy sonder om vir die suster te verduidelik. Louise moet dadelik kom.
“Is daar dan fout, Dokter?” vra die pasiënt bekommerd.
“Wees u maar rustig, meneer Steyn. Ek win net ’n tweede opinie in,” probeer sy hom kalmeer. Sy sal maar eers wag vir Louise om na die skandering en bloedtoetse te kyk.
Louise is binne minute by hulle. Kort treetjies. Haastig. Die uitslae van die bloedtoetse is ook reeds beskikbaar. Louise kyk na die skandering, skud haar kop, kyk na die uitslae van die bloedtoetse en bestudeer dit. Sonder om iets vir Anna-Mart te sê, stap sy na die pasiënt toe.
“Goeiedag, meneer Steyn. Ek is dokter Tredoux en ek is ’n onkoloog van die hospitaal. Dinge lyk nie goed nie. Jou pankreasensiem is baie hoog en die skandering toon ’n duidelike kol op jou pankreas. Dit is moontlik pankreaskanker. Ek sal verdere toetse doen om te bepaal of dit kanker is en of en hoe ver die kanker versprei het. Vir eers gaan ek jou opneem in die hospitaal en dan vat ons dinge van daar af.”
Louise is koel en kalm terwyl sy met die pasiënt praat.
“Maar, Dokter, pankreaskanker is mos ’n aggressiewe kanker?” vra die pasiënt verward. “Of so het ek gelees?”
“Google is not always your friend, Meneer. Maar in dié geval is Google honderd persent korrek. As dit wel pankreaskanker is, is dit aggressief en beteken dit ‘n skrale kans op oorlewing.”
Skok wys op die pasiënt se gesig. As Louise tog net bietjie meer takt aan die dag kan lê. Hoe kry sy dit reg? So lank as wat Anna-Mart nou al praktiseer, voel sy jammer vir haar pasiënte. Dit is nooit maklik om ‘n negatiewe of moeilike diagnose aan ’n pasiënt oor te dra nie. Louise praat reguit en op die man af. Dit is asof sy met ’n voorwerp eerder as ‘n pasiënt praat.
“Hoe lank dan, Dokter?” Die arme man fluister omtrent.
Nóú beskikbaar – Hospitaal Weltevreden
Hospitaal Weltevreden is nou beskikbaar by alle boekwinkels en aanlyn: https://loom.ly/14isuv8
Hulle oë ontmoet vinnig en Anna-Mart weet wat Louise gaan sê.
“Moeilik om te sê, Meneer. Met behandeling enige iets van vier tot vyf maande. Soms minder.” Louise toon geen empatie nie. “Wees vir nou eers rustig, dan sien ek u vanmiddag in die saal. Suster, doen asseblief die nodige en laat die pasiënt in die algemene saal opgeneem word.”
“Maar, Dokter, ek wil net …”
“Ek sal in die saal al u vrae beantwoord, meneer Steyn. Laat die pynmedikasie nou eers sy werk doen. Dokter Koekemoer, sal ons na jou spreekkamer toe gaan?”
’n Suster kom haastig verby gedraf met ’n drupsak en maak die gordyn om ’n pasiënt oorkant hulle toe.
“Sterkte, meneer Steyn. Jy is in goeie hande by dokter Tredoux. Sy is een van ons land se beste onkoloë.”
Haar hart krimp vir die man toe ’n traan oor sy wang rol. Sy moet nou hier wegkom. Sedert haar dae in prakties kon sy dit nie regkry om so koud te wees soos Louise nie. Haar lewe lank het sy maar ‘n sagte hart.
Sy moet amper drafstap om by te hou terwyl Louise na haar spreekkamer toe stap.
“Was dit nou nodig om so blatant met die pasiënt te wees, Louise?” vra sy kortaf toe sy die deur agter hulle toestoot.
“Hoekom doekies omdraai, Anna-Mart? Die man wou weet. Ek kan mos sien wat ek sien. As hy dit nog drie maande gaan maak, is dit lank. Jy het self gesien hoe groot daardie kol op sy pankreas is.”
“Maar tog. Jy kon bietjie meer takt…”
“Ek gaan nie weer hierdie gesprek voer nie, Anna-Mart. Ek het al baie vir jou gesê as jy dié werk wil doen, you must grow a pair.”
Louise is natuurlik reg. “Ja, oukei. Maar tog, jy kan ook bietjie meer empatie toon.”
“Daarvan het ek baie, my liewe vriendin, maar jy weet wat die …”
“… wetenskap sê.” Wetenskap is een ding, maar daardie man het geloof. Sy oë het dit gewys.
“Moet nou nie weer kom met die storie van geloof nie, asseblief?”
Dit is asof Louise haar gedagtes kan lees. “Ons het mos daardie onderwerp al baie deurgetrap. Ek gaan nie met jou argumenteer oor jou geloof nie, en jy gaan nie met my stry oor wat die wetenskap sê nie.”
“Goed. Sal jy my op hoogte hou van meneer Steyn se diagnose, asseblief?”
“Soos altyd, jy weet mos,” paai Louise.
As daar enigsins ‘n teken van hoop is, sal Louise alles doen om die pasiënt gesond te kry. Of tenminste vir hom ‘n langer, betekenisvolle lewe probeer bewerkstellig – as chemo en bestraling nie bloot sy hel uitrek nie.
“Het jy tyd vir ’n vinnige koffie?” onderbreek Louise haar gedagtes.
“Ja wat. Ná hierdie oggend kan ek doen met ’n vinnige een.” Sy hang haar baadjie aan die kapstok voordat sy die deur agter hulle toetrek.
Sy moet weer drafstap om by te hou. Liewe vriendin Louise. Alhoewel Louise baie privaat is, het sy al hier en daar iets oor haarself met Anna-Mart gedeel. Mens sal ver soek vir ‘n meer georganiseerde en reguit mens as Louise Tredoux. Sy woon alleen. Het al een keer ’n ernstige verhouding van vyf jaar gehad, maar toe dié verby is, het sy nooit weer vir iemand gekyk nie. Niemand by die hospitaal weet dit nie, maar Louise kan vreeslik mooi skilder. Sy wou eintlik kuns gaan studeer het, maar haar pa het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Kunste betaal nie, en hy het haar oortuig om met ’n verstand soos hare eerder medies te studeer.
Die laaste keer wat sy by Louise aan huis was, was sy juis besig met ’n skildery, maar wou niks vir Anna-Mart wys nie. Glo slegte geluk as jy werk waarmee jy besig is vir iemand wys voor dit klaar is. Dat Louise van alle mense nou só sal redeneer, is vir Anna-Mart eienaardig.
Hospitaal Weltevreden is nou beskikbaar by alle boekwinkels en aanlyn: https://loom.ly/14isuv8