Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare. Ek wil dink aan my snarespel in die nag, wil peins met my hart, en my gees deurvors. (Psalm 77:6-7; 1953-vertaling)
Nou die dag merk iemand moedeloos op: “Wanneer ek hoor van ander mense wat wonders ervaar en deurbrake en geleenthede kry, twyfel ek of God in my lewe teenwoordig is. Dalk kan Hy ingryp, maar Hy kan of wil dit nie doen nie.” Hy eggo eintlik onwetend die diep versugting en verslaentheid van die psalmdigter.
Dit lyk vir die psalmdigter asof God nie meer die tipe dade doen soos in die vroeër dae, soos ligjare gelede nie. Dis vir hom asof God Hom van die land en aan sy lewe onttrek het. Net hier en daar is enkele ligpunte.
Hoe hanteer ’n mens uitsigloosheid? Die pynlike vraag laat die psalmdigter nie zombieagtig tussen TV-kanale blaai nie. Hy verdoof nie homself deur vermaak of sport nie. Hy draai elke klip om, om sy hart te deursoek vir enige spinnerakke en stof wat tussen hom en God is.
Hy sien die voortyd raak, sy eie verlede, die jare toe God se werking wel raakgesien kon word. Hy kyk so ver en diep terug dat hy ook sommer by sy eie hart begin inkyk. (Die Hebreeuse woord wat vir “inkyk” gebruik word, dui ’n ondersoek aan. Dis soos iemand wat homself uittrek of bedekkings oplig wat iets wegsteek, beskerm of versier.)
Blaai bietjie deur die voue van jou eie hart. Lig daardie duvet en mooi klere op. Blaai deur daardie selfoon-kontaklys, jou internetbladsye. Wat is daar? Wat wil jy nou eintlik hê?
Nou, dink nou bietjie terug: Waar het jy al uitkoms of antwoorde gekry? Wat het jy toe anders gedoen? Wat het jy toe gedoen wat gewerk het? Begin dit weer doen. En blaai sommer deur jou Bybel ook!