Omhels stiltetyd! Leer hoe dit jou help om kalmte te vind, selfbewustheid ’n hupstoot te gee en jou te laat fokus op wat werklik saak maak.
Vind perfekte vrede, geluk en begrip in jou stiltetyd
Die doel van jou stiltetyd moet wees om te streef na volmaakte vrede, geluk en begrip. Hiervoor moet jy ontvanklik wees vir nuwe moontlikhede of rigting in jou lewe. Wees gereed om verras te word.
Vergeet van jou skuldgevoelens en die baie moets en moenies en vals verwagtings wat ander mense aan stilwordtyd koppel. Kom met ’n oop gemoed en ’n verwagting. Dít is waaroor stilword gaan.
Om in God se spesiale teenwoordigheid – wat anders is as Godaltyd-by-en-met-ons – te verkeer. Dít is waar ons Hom leer ken. Dít is waar ons daarop kan reken om sy stem te hoor. Dít is waar ons interaksie met Hom beleef.
Ons stilwordtyd is by uitstek ’n geleentheid waar ons eerstehands ervaar dat God uit die hemel neerbuig, ons nadertrek en ons persoonlik aanraak. Dit is hier, in ons stilwordtyd, dat ons God se liefde leer ken. Hiér sien en beleef ons die baie maniere waarop Hy dit voortdurend, opnuut, vir ons wys.
Op jou pad vorentoe sal jy soms stil tye ervaar, asof God afwesig is. Dan moet jy net vertrou dat Hy jou in alle ewigheid nooit verlore sal laat gaan nie. Daar sal ook tye wees wanneer God so naby voel dat dit voel asof jy nooit weer aan enigiets omtrent Hom sal twyfel nie.
Oorgawe aan God gaan nie altyd met belewing gepaard nie. Jy moet egter glo dat God jou gebed verhoor het op die presiese oomblik wat jy jou lewe aan Hom toegewy het.
Mense wat ’n lang pad saam met God kom, sê ons geloof word die sterkste wanneer ons lewe vaal en nutteloos voel maar ons steeds styf aan Hom vashou! Wees geduldig. Bly getrou aan Hom. Wees altyd gereed om verras te word.
Hoe gereelde stiltetyd jou kan help om jouself beter te ken
Om die beste jy te wees, is dit nodig om jouself te verstaan. Met gereelde stiltetyd sal jy jouself vinnig beter leer ken. Jy sal negatiewe gedagtes en gewoontes ontdek, wat jy dan kan bestuur.
Christene kry ook die wind van voor. Ons kan probleme hê omdat ons nie God se doel vir ons lewe reg verstaan nie.
Oral waar ons gaan, sien en hoor ons van Christene wat roem verwerf het. Dít skep die verwagting by ons dat almal wat aan die Here behoort, belangrik en beroemd behoort te wees. Die gevolg is dat ons self doelwitte begin stel.
Ons wil byvoorbeeld op ’n bepaalde tydstip ’n spesifieke plek op die suksesleer bereik en ons gaan nie toelaat dat enigiets of enigiemand ons keer nie. Die vraag is net: Jaag ons ons eie droom na, of God se droom vir ons?
Natuurlik jaag ons God se droom vir ons na! Ons is mos Christene, nie waar nie? Hokaai! As ons God se droom vir ons najaag, moet Hý ons lewe so bestuur dat ons sy droom vir ons bereik!
Jesus se woorde: “Neem my juk op julle …” (Matt. 11:29), herinner ons aan ’n boer en sy osse. ’n Os met ’n juk op kan nie loop waar hy wil nie. Hy stap net in die rigting waarin hy gelei word. Hy kan ook net teen die pas beweeg wat die touleier aangee.
As ons álles aan God oorlaat en Hom toelaat om ons ten volle vir Homself op te eis, kan ons hiérvan verseker wees: Weinig, indien enigiets, sal verloop soos óns dit beplan het; nogtans kan ons God vertrou om sy goeie en volmaakte wil in en deur ons lewe oop te vou!
Word stil om weer deernis vir ander en jouself te kry
Die gejaagde lewe kan ons soms verwyderd laat voel, nie net van diegene rondom ons nie, maar ook van onsself. Dit is nodig om stil te word om weer deernis vir ander en jouself te vind.
As God maar net ons raad wou volg, sou ons soveel makliker met moeilike mense klaargekom het, nie waar nie? God dink egter anders. Hy is meer daarin geïnteresseerd om ons karakter te vorm sodat ons soos sy kinders kan lyk en leef.
’n Manier waarop God ons karakter vorm, is om ons te wys hoe ons oor ander dink. Jy ken dalk iemand wat ’n regte windlawaai is. Miskien het jy ook al gewonder: Hoe op aarde kan hy so baie praat en almal se aandag op hom vestig? Weet hy nie hoe simpel hy lyk en klink nie …?
Ék sal nooit só optree nie! sê jy vir jouself. Dan hoor jy ’n ander stemmetjie wat vra: Hoekom nie? Jy begin daaroor nadink en skielik tref dit jou: Ék wil nie ander se aandag trek nie omdat ek altyd minderwaardig voel. Ek is bang ander dink ek is simpel.
Dit is toe dat jy besef: My vrees vir wat ander van my kan dink en sê, het my tronk geword! Ek lewe net ’n stukkie lewe – daardie een waarmee niemand fout kan vind nie! As ons dinge omtrent onsself vir mense wegsteek, lewe ons nie voluit nie.
God wil egter ons binneste gesond maak. Dit begin met stilword en ’n gebed: “Here, U is my Skepper. U het my baie spesiaal saamgestel. Ek begeer van harte om ’n mens na u hart te wees. Wys my asseblief die beste pad. Ek wíl dit saam met U stap!” (Kyk Jer. 6:16.)
Stiltetyd help jou om ontslae te raak van angs en spanning
Die meeste van ons sukkel met angs en spanning. Om gesond te lewe, is dit belangrik om beheer hieroor te kry. Al hoe ons regtig kan ontsnap van hierdie chaotiese wêreld, is in ons stiltetyd.
Hoe is dit moontlik dat iemand, soos Stefanus, so kalm kan bly wanneer ’n spul leuens oor jou kwytgeraak word? Stefanus was deurentyd bewus van en in kontak met die Heilige Gees wat in hom gewoon het.
Hy het toegelaat dat die Heilige Gees sy lewenspad vir hom aandui. Stefanus het baie tyd saam met God rondom die Woord deurgebring. Die Heilige Gees het as sy inwonende metgesel, raadgewer en hulp die Woord lewend gemaak in hom.
Ons as buitestanders sien wat die gevolg daarvan is. Stefanus is al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.
Die heerlikheid wat van hom uitgestraal het, het steeds toegeneem. Die Here het hom so verander en versterk dat sy lewe selfs in sy sterwensoomblikke ons aan dié van Jesus Christus herinner.
Die naam van die dringendste begeerte in elke mens – gelowige én ongelowige – is God. In Handelinge 17:27 staan daar dat God die nasies gemaak het om Hom te soek … al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind.
Dit is daardie einste karaktertrekke van God wat Hy in elke mens ingebou het wat maak dat ons voortdurend na ons Maker soek. Ons het Hom nodig sodat Hy ons karakter, wat deur die sonde skeef en krom getrek is, soos Syne kan maak – mooi en heel en sonder enige tekortkoming.
God se liefde trek ons met ons onvolmaaktheid en al soos ’n magneet na Hom toe. Hy is ons tuiskomplek, ons Vader by wie ons stil-tevrede is.