Moenie jou ouderdom gebruik as ’n verskoning om jouself af te skeep nie. Met ’n paar klein veranderinge, die regte raad, klere en produkte kan jy ook sjiek, sexy en stylvol blom waar jy geplant is.
“Lewenslus is die geheim van skoonheid. Daar is geen skoonheid so mooi, soos skoonheid met lewenslus nie!” – Christian Dior
Dis ’n rowwe vertaling van ’n aanhaling van die bekende mode-ikoon. Die name van Sophia Loren en Elizabeth Taylor kom ook by my op. Vroue wat van lewenslus en selfvertroue gestraal het, ongeag hulle ouderdom!
Hulle het koppe laat draai selfs in hulle 70’s. Wat is hulle geheim? Styl … dit is die wonder-ekstrak, die innerlike selfvertroue van weet wie jy is en wat jy uit die lewe wil hê.
“Ja, hulle is ikone, goue godinne,” mag jy sê. Jy voel dalk dis baie moeiliker vir jou as “gewone” vrou om so te lyk en te voel.
Moenie omblaai en hierdie hoofstuk net ignoreer nie. Lees eers ’n paar van my “geheime”.
Geheim #1: Lyk goed en leer ken die ware jý
Om jouself te versorg en na jou liggaam om te sien, is nie selfsugtig nie. Dit is noodsaaklik!
Danksy my ma en ouma is my gene goed. Ek kry heelwat komplimente dat ek jonger lyk as wat my ID-boekie bieg. My antwoord is dan lighartig: “Die geheim is ’n goeie man én goeie velsorgprodukte!”
Wat is die geheim regtig?
Die antwoord is eenvoudig: Ken jou ewigheidswaarde en doel. Maar dan moet jy eers die vrou in die spieël leer ken en liefhê.
Wie is die vrou in die spieël? Dis die een met haar skoongewaste gesig, ongekamde hare en braloos.
Dit klink dalk na ’n groot uitdaging. Maar met bietjie werk kan jy ook jou “pakkie” liefhê.
• Wanneer laas het jy vir haar ’n kompliment gegee? Of sien jy net die liggaamsfoute raak?
• Wat laat haar glimlag, haar hardop uit die maag lag? Of bekommer sy haar net en loop die lekker van die lewe mis?
• Wat is haar gunsteling kleur? Of dra sy net kleure en klere om nie raakgesien te word nie?
• Wanneer laas het jy vir haar ’n koppie tee gemaak en vir haar gesê,“Kom sit by my”? Of is daar nie meer tyd vir mý nie?
• Wanneer laas het jy haar in die oë gekyk en gevra: “Is jy oukei?”
Geheim #2: Voel goed oor jou innerlike glamour woman
Jou brein skei die goedvoel-hormoon serotonien af. Om aktief te wees en gereelde oefeninge te doen het dieselfde uitwerking.
Gaan grou in jou klerekas. Vind daardie rok wat jou soos ’n prinses laat voel. Trek dit aan, kleur jou gesig in en kam daardie hare. Sit jou paar mooiste oorbelle aan, trek die hoë hakke aan.
Dan vat jy haar uit vir ete. Natuurlik moet so ’n pragstuk vertoon word!
Sukkel jy dalk om die Venusbeeld in jouself raak te sien? Dan moet jy die kenners inroep om hulle towerkwassies te gebruik. Jy verander sommer heel gou in ’n pragtige swaan.
So, skud daardie vere reg! Jý is gebore om in glans en glorie te leef.
Binnekort voel jý ook dalk soos ’n Sophia Loren, Elizabeth Taylor of ’n ander klassieke silwerdoekheldin – jou gunsteling-jy.
Geheim #3: Doen goed en vervul jou skeppingsdoel
In die Bybel lees ons van verskillende vroue. Dis vroue van gister, maar wat steeds vandag ’n boodskap het.
Eva is geskep vir ’n unieke rol in die skepping. Sy kon Adam help om die mensdom se doel te vervul. Mirjam was die ousus van Aäron en Moses. Sy moes leer om onvoorwaardelik te vertrou. Sy moes gaan en groei waar sy geplant is.
Ragab was die toonbeeld van genade aan die werk. Sy het nie vir God geken nie. Toe sy haar geloof kies, het sy ontdek dat sy beskerm sal word, net soos Israel.
Rut was die vrou wat gekies het om haar geloof eerste te stel. Sy het haar verbind om Hom in alles te vertrou, tot in die kleinste besonderhede.
Ester was as vrou bruikbaar waar sy geplaas is. Sy was nie sonder swaarkry en rampspoed nie. Tog het sy wonderbaarlike redding vir haar mense gehelp bring.
Maria was die ma van Jesus. Sy staan uit as een van die mees geseënde vroue van alle tye. Sy het die Here opreg liefgehad. As jongmeisie het sy haar volledig bekeer.
Dit maak nie saak of jy ’n vrou soos Rut of Maria is nie. Om jou skeppingsdoel te vervul, moet jy die vrou in die spieël leer ken en liefhê.