“Jou werk as ’n Spreuke 31-vrou is om jou man met jou sterkpunte aan te vul,” sê voorkomskonsultant, skrywer en motiveringspreker ALETTÉ-JOHANNI WINCKLER.
God se standaard vir die huwelik is hoog
Almal dink nie dieselfde oor die huwelik nie. Daar is baie mense wat voel hulle man het hulle teleurgestel. Dalk het jy al seergekry of is gewond in die huwelik.
Ek glo dat as ’n man en vrou wedergebore is en volgens God se woord lewe, hulle ’n beter kans het om suksesvol te wees. As hulle met hulle hele hart, siel en verstand God dien, en aan hulle probleme werk, kan hulle een word. Selfs dan is dit moeilik, maar die kanse om dit te maak, is groter.
Ek wil vir jou sê dit is nooit te laat nie. Al is die Here se standaarde hoog, is Hy genadig.
Hy sê vir die sondaar langs Hom aan die kruis: “Jy het jou hele lewe gesondig, maar jy gaan saam met my die koninkryk in.”
Die eerste stap na genade is belydenis van sonde. Dit gebeur wanneer ons onsself verneder om dit te doen. Iemand wat trots is, sal dit nie doen nie. Iemand wat nederig is, kan dit doen.
Miskien het jou eerste huwelik gefaal, om watter rede ook al. Dit is nooit te laat om te sê: “Ek is jammer, ek het dit op my eie probeer doen.”
Miskien het jy alles reg gedoen en jou man het drooggemaak. Miskien het jy drooggemaak. Dit maak nie saak wat gebeur het nie. Ons is nie hier om vinger te wys nie.
Jy moet jou huweliksmaat eer en respekteer
Jy moet op ’n plek kom waar jy op jou knieë voor die Here val en sê: Ek is jammer. Wanneer dit gebeur, kan die Here met jou werk. Hy het ’n nederige hart nodig.
Jou werk as ’n Spreuke 31-vrou is om jou man met jou sterkpunte aan te vul.
Dit is nie om jou man aan te kla nie. Dit is nie om jou man toe te snou nie. Dit is nie om jou man se borrel te bars nie. Dit kom natuurlik in ’n huwelik ná baie jare van saamwees.
Jou werk is om jou man se grootste aanhanger te wees. Baie mans lewe nie só dat jy sy grootste aanhanger wil wees nie, maar ek wil jou uitdaag. Jou werk is om jou man te eer en te respekteer.
Dit is ’n bose kringloop. Hy stel jou teleur, maak jou kwaad of maak droog, en nou is jy op jou perdjie. Hy is geïrriteerd, want jy respekteer hom nie as gevolg van wat hy gedoen het nie.
’n Man het respek nodig. Hy het dit meer nodig as seks. Hy het dit meer nodig as liefde of handjies vashou.
As jy jou man respekteer, al verdien hy dit nie, gaan daar iets in jou man gebeur. Iets wat in hom ontsluit, wat gaan maak dat hy die man wil word wat jy wil hê.
Bring die beste weergawe van jou eggenoot na vore
Vrouens moet die beste in hul mans na vore bring. Die man met wie jy getrou het, het potensiaal gehad. Jy het iets in hom gesien wat jy liefgehad het. Ons taak is om daardie potensiaal weer aan te wakker, veral as dit verdwyn het.
Mans word geestelik aangeval. Het jy al ooit ’n rolprent gesien waar ’n ander god se naam ydellik gebruik word? Nee, want daar is krag in die naam van Jesus, en die wêreld weet dit. Daarom probeer die vyand dit vernietig.
Daar is krag in ’n huwelik op God se manier. Daar is krag in ’n gesin op God se manier. Daarom probeer die wêreld huwelike en gesinne vernietig. Ons moet waaksaam wees en bewus wees van wat om ons aangaan.
God gee ons vrye wil. Ons moet kies. Hy gaan ons nie dwing om Sy wil te doen nie.
Ons werk as vrouens is om ons mans te eer, te dien, lief te hê en daar te wees vir hulle.
As jy ’n goddelike man wil hê, moet jy ’n goddelike vrou wees. As jy wil hê jou man moet die beste weergawe van homself wees, moet jy die beste weergawe van jouself wees. Die standaard is hoog.