SUSAN COETZER, bekend vir haar televisierolle, publiseer haar eerste roman in 2007 en is ’n motiveringspreker. Sy gesels oor teleurstelling en integriteit.
As jy nie ’n retreat aanbied of skilder nie, skryf jy. Hoe bly jy kreatief en relevant?
Gelukkig het kreatiwiteit nie ’n vervaldatum nie. Ek glo ons almal word gebore met ’n geskenksak vol talente en geestelike gawes, maar soms hou ons op om te delf.
Dit is soos ’n geskenk; soms vind jy ’n koevertjie met geld of ’n oorbel wat jy misgekyk het. Dit is wat ek doen. Ek kyk.
Ek het aanvanklik gedink ek gaan net ’n aktrise wees, maar toe besef ek, ek kan ook skryf. Later het ek begin praat, sakevrou wees, skilder en ’n bietjie bak.
My skoonma, Henriëtte, het my ook geïnspireer. Tydens die pandemie het sy gesê sy raak depressief. Sy het toe duisend maskers gemaak vir mense wat dit nie kon bekostig nie. Sy hou aan, en ek hou by haar.
Vriendskap is vir my baie belangrik, opregte vriendskap. Ek praat nie van ’n kunsmatige vriendskap nie. Ek het min vriende in my binnekring.
Die meeste van my boeke het ’n vriendskapstema, omdat vroue daarmee identifiseer, en ek ook. Daar is verraad in die boek, maar dit is nie geïnspireer deur ’n vriendskap van my wat gevou het nie.
Snaaks genoeg, as ’n enkellopende persoon die laaste 12 jaar, was daar twee mak honde in my binnekring wat my gebyt het. Een vriendskap is herstel, maar die ander een het ongelukkig volstruis-styl uitbeweeg.
Die persoon praat nie met my nie. Hoe los jy dit dan op? Ek is altyd bereid om ’n saak op te los as ek iets verkeerd gedoen het. Dit is nodige gesprekke, maar as iemand nie wil praat nie, hoe kan jy dit hanteer? Ek hoop dat hierdie klip uiteindelik in ’n sandkorrel sal verander. Ek gee dit oor aan die Here.
Daar is iets soos karma of ’n groter regverdigheid, sodat hierdie hele ding jou nie aftrek nie. Gaan aan met jou lewe, fluit lekker en wees vrolik, sodat jy nie met ’n wrok rondloop nie. Mag almal wat klippe dra, dit in sandkorrels sien verander.
Is jy al diep teleurgestel deur iemand wat voorgegee het of jou ’n rat voor die oë gedraai het?
Integriteit is vir my baie belangrik, of jy nou ’n Christen is of nie. As jy jou Christenskap in die openbaar uitbasuin en jou Facebook is vol daarvan, verwag ek nie dat jy perfek sal wees nie, maar dat daar integriteit sal wees.
Wat jy sê en doen, moet min of meer in lyn wees. Niemand van ons is perfek nie; ons het almal foute.
In my boek, Blinde mol of wyse uil, het ek omtrent tien eienskappe geïdentifiseer wat met integriteit te doen het. Dit is meer as net eerlikheid of opregtheid.
Dit moet min of meer dieselfde persoon wees wat in die kerk sit en daarna gaan braai. Of wanneer die rekeninge inkom, moet daar ’n goue draad van opregtheid, deursigtigheid, empatie en vrygewigheid wees.
Natuurlik is ek al teleurgesteld. As jy in die openbaar duidelik maak dat jy ’n Christen is, sê mense soms vir my nog voor hulle hul naam gesê het of my naam vra, ek is ’n groot Christen, is jy ook?
Ek dink nie dis nodig om dit te sê nie; jou aksies behoort duideliker te spreek. Ek is al ’n paar keer totaal onkant betrap. Die mat is al onder my uitgeruk, ook in ’n langtand langafstand- romantiese verhouding.
Gelukkig het dit vinnig geëindig, want ek het gebid omdat daar iets was wat net nie vir my ooreengestem het met die perfekte goed wat ek gelees het en ontvang het nie. Die sak vrot patats het uitgekom.
Jy en jou gewese man, Frank [Opperman] is goeie vriende. Hoe lyk jou vergifnispad?
Om die waarheid te sê, daar was nie ’n groot berg van vergifnis wat ons moes uitsorteer nie. Ek en Frank het soos honde vinnig geblaf, dit uitgesorteer en aangegaan. Hy’s nie haatdraend nie, en ek het ook nie daai soort hart nie. Daar was nie slegte gevoelens nie.
Een van die beste geskenke wat geskeide ouers vir hulle kinders en kleinkinders kan gee, is om om ’n tafel te sit, nie met wrokke nie, maar gesellig.
Frank se vrou, Esmarie, het onlangs by my oorgeslaap. Dit wys hoe gesond ons verhouding is. Sy dogter, Frankie se halfsussie, het hier kom oorslaap en cupcakes gebak. Ons het ’n gesonde verhouding.
Frank is soos ’n verlangse neef. Hy bly familie. Sy ma sê altyd ek en sy het nooit geskei nie.
Verlede jaar moes ek Louis Trichardt toe gaan, haar geboortedorp, en sy het gevra om saam te ry. Sy het die dorp ná 75 jaar gesien, wat vir haar ’n groot geskenk en belewenis was.
Ons het die skool gevind waar haar pa skoolgehou het, hy was die skoolhoof. Die bome wat hy geplant het, staan nog. Ons het die huis gevind, wat baie verweer was en amper ’n ander huis. Dit het haar hartseer gemaak. Maar wat bly staan, is sy karakter.
Henriëtte het gesê, dit is al wat oor is van haar goeie pa, sy karakter, die res is afgebreek.
Wat is vroue se grootste (innerlike) dilemma dat hulle nie vreugdevolle lewe leef nie?
Ek het gevind dat ’n skrywer uit die hart of siel moet skryf om met ’n teikenmark te verbind. Ek skryf altyd vir iemand wat min of meer soos ek is, miskien ’n bietjie meer konserwatief of wilder.
In my boeke is die karakter aan die begin dikwels vasgevang. Dit is dikwels een van die storielyne, en teen die einde van die roman het die vrou gegroei. Ek het uit my eie ervaring geskryf.
Daar was ’n tyd in my lewe, toe ek ’n jong vrou was, waar ek ’n baie negatiewe en terughoudende uitkyk op die lewe gehad het en myself nie so geniet het nie.
Ek sou sê dat wat vroue die meeste terughou om werklik vreugde en blydskap te geniet, is wat hulle oor hulleself dink.
Ons praat so baie oor liefde en genade, maar dit begin by onsself. Ons moet begin om in onsself te belê.
Gister het ek weer hieraan gedink, en toe koop ek ’n jas vir myself. Hoekom? Omdat ek dit werd is. Dit is wat vroue vir hulleself moet begin sê: “I am worth it, ek is genoeg, ek kan.”