Wanneer jy ... Karakter kweek een dag op ’n slag

Wanneer jy … Karakter kweek een dag op ’n slag

Soms voel dit asof jy vasgevang is in jou probleme, sonder enige uitkoms. Gelukkig werk alle omstandighede saam om aan jou karakter te skaaf. 

Probeer om jou menswees te verbeter 

Karakter is nie die kleur van jou vel, die styl van jou hare of die inhoud van jou beursie nie. Dis jou dieper menswees soos jy oorspronklik bedoel is. Jy kan natuurlik nog altyd beter waardes byleer sodat jy nie stagneer nie.

’n Karaktervolle mens is altyd en oral, en tussen alle mense, presies dieselfde – jy ...

Soms voel dit asof jy vasgevang is in jou probleme, sonder enige uitkoms. Gelukkig werk alle omstandighede saam om aan jou karakter te skaaf. 

Probeer om jou menswees te verbeter 

Karakter is nie die kleur van jou vel, die styl van jou hare of die inhoud van jou beursie nie. Dis jou dieper menswees soos jy oorspronklik bedoel is. Jy kan natuurlik nog altyd beter waardes byleer sodat jy nie stagneer nie.

’n Karaktervolle mens is altyd en oral, en tussen alle mense, presies dieselfde – jy is nie ’n verkleurmannetjie nie. Ander wat na jou kyk, sal altyd kan sê: “What you see is what you get.” Jou ja is ja, en jou nee is nee.

Jou karakter word veral weerspieël deur wie jy is wanneer jy alleen is. Dit wys wie het regtig integriteit. Die Jesus wat ek en jy vandag ken, is presies dieselfde Persoon wat die dissipels geken het. Hy is die beste voorbeeld van iemand met karakter.

Dit is maklik om die foute in ander raak te sien, maar die balk in jou eie oog mis te kyk. Die meeste van die tyd is ’n mens so gefokus op die een wat die probleem veroorsaak dat jy ’n les of twee misloop. Dan moet jy buitendien weer die “toets” oorskryf!

Jy moet eerder leer om indringend na jouself te kyk sodat jy kan agterkom hoe jy kan verbeter.

Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand. 4:19-20).

Hou aan om te werk aan jou karaktereienskappe 

Ons ken die verhaal van Josef maar alte goed. As jong man het hy alles gehad. Hy was lid van ’n vooraanstaande, godvresende familie; geld en mooi klere was nie ’n probleem nie, hy was trouens sy pa se oogappel.

Stories aandra oor sy broers was egter ’n daaglikse tydverdryf en sy ontaktvolle uitlatings het sy broers se jaloesie behoorlik laat opvlam. Ongelukkig het hy arrogant en té selfversekerd geword. Sy selftrots het hom letterlik en figuurlik in ’n put (en later tronk) van donkerte laat beland.

Gelukkig nie waar die verhaal eindig nie. Al was sy broers se bedoelings sleg, het God dit gebruik om Josef se karakter te vorm. Toe die skuurwerk begin het, was dit sekerlik van die moeilikste tye in Josef se lewe.

As jy ook gedurig konflik in jou verhoudings beleef, wys dit dalk dat die een of ander karaktereienskap ’n bietjie skuur- en skaafwerk nodig het.

Die geheim lê daarin om insig te hê in wat jou moeilikheid veroorsaak. Wanneer jy daarvoor ’n naam kan gee, soos onbetroubaarheid, disrespek, onverantwoordelikheid of ’n gebrek aan omgee, is die stryd halfpad gewonne.

Jy sal soms soos ’n mislukking voel omdat jy nie altyd alles reg kan doen nie. Moenie moedeloos word nie. Jou hemelse Pa is die hele tyd met jou besig met ’n goeie doel. Hou uit, jy sal wel daar kom!

Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! (Ps. 139:24).

Hoe lyk ’n goeie karakter werklik? 

Dit wat bínne jou is, tel. Karakter kom die beste uit onder druk. En jy is vir seker elke liewe dag onder druk.

Iemand ry in jou vas, jy voel verstoot of jy vind uit iemand het vir jou gejok. Of jy verbreek self ’n belofte wat jy gemaak het.

Jou karakter word gevorm deur die keuses wat jy maak en die gewoontes wat jy aanleer – goed of sleg. Gewoontes word natuurlik gevorm deur herhaalde aksies.

Verkeerde keuses speel ook ’n rol. Jy kan glad nie sê dat jou lewe in chaos gedompel is omdat dit so bedoel is nie. Sommige omstandighede veroorsaak jy self deur jou swak keuses.

Omstandighede is ook nie altyd ’n aanval van Satan nie, maar soms ’n gevolg van jou eie optrede. Dan is dit tyd om verantwoordelikheid te aanvaar. Jy behoort jammer te sê oor jou fout. En ja, jy mag vir God vra om jou verkeerde keuses goed te laat uitwerk, maar jy moet natuurlik steeds die gevolge van daardie verkeerde keuse dra.

Ons is partykeer bang om oor geloof te praat omdat ons mense nie in die verleentheid wil stel of kwaadmaak nie. As jou moed om te getuig min raak, bid dat Hy jou vreesloos sal maak.

Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom en Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ’n seën te wees (Hand. 3:26).

Staan by jou beginsels en doen wat reg is

God het ’n program waarvolgens Hy elkeen van ons slyp. Regte keuses is vir Hom belangrik. As jy verkeerde keuses gemaak het of deur pyn en hartseer worstel, kan jy maar eenvoudig en sonder maskers bid.

Dit sal jou van jou pretensies stroop. Ons mees intieme oomblikke van lofprysing is gewoonlik in die donkerste tye.

Onthou jy nog die dag toe jy ja gesê het vir Jesus? Dan is jy in hierdie stadium (deur moeilikheid en probleme) besig met heiligmaking. Heiligmaking beteken nie dat jy moet dink jy is beter as ander nie.

Jy hoef nie jouself af te sonder en dag en nag te bid nie. Jy hoef ook nie met ’n vaal gesiggie sonder grimering rond te loop en geen pret te hê nie.

Dit beteken wel dat jy reg sal optree teenoor jou huishulp en vriendelik sal wees met die persoon agter die toonbank. Dat jy met respek sal praat met jou man en kinders en jou ondergeskiktes by die werk. En dat jy jou beloftes sal nakom.

Dit beteken ook dat jy by jou beginsels sal staan en nie wit leuens sal vertel nie. Jy en jou huismense moet vir mekaar omgee en mekaar respekteer. Julle behoort julle persoonlike standaarde van reg en verkeerd te verhoog sodat julle die regte gesindheid sal uitstraal.

Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:15-16).

’n Skaafproses is nodig om te groei 

Hierdie skaafproses is dalk nou vir jou pynlik en ongemaklik, maar dit is beslis die moeite werd. Soms sal dit vir jou voel asof jou omstandighede jou knie, rek en strek totdat daar niks van jou ou “ek” oorbly nie. Wees geduldig en hou net aan.

Moenie jou probeer teësit deur ontkenning of rasionalisering nie. Of deur jouself te verwyt of ander te blameer nie. Wees net eerlik met jouself en begin jou gedagtes een-een verander sodat jy op ’n heel nuwe manier kan begin dink.

Die hele proses is werklik nodig. God kon sekerlik voorkom het dat Daniël in die leeukuil gegooi word en dat Job eindelose probleme gehad het. Maar Hy het nie, want Hy weet dat probleme uithouvermoë kweek, uithouvermoë bou weer karakter, en karakter gee hoop.

Jy moet bereid wees om jou hele lewe vir Hom te gee. ’n Belangrike vereiste is om jou deur die Gees te laat beheer en nie meer deur jou natuurlike geaardheid nie.

Jy hoef nooit te twyfel dat die koninkryk jou ook beskore is nie. Jy mag vir seker hoop om deel te wees van daardie heerlikheid. Jy weet mos dat dit nie van jou afhang nie, maar gewortel is in die hemelse beloftes vir elke mens.

Nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen (Rom. 12:1).

’n Hart wat heeltemal verander – ten goede 

Die einddoel van hierdie hele proses is ’n hart wat heeltemal verander – ten goede. Daar is ’n paar nodige karaktertrekke wat jy tydens hierdie proses moet verwerf.

Betroubaarheid beteken dat mense weet hulle kan op jou staatmaak, dat jou woord jou eer is en dat jy met integriteit leef. Jy moet respek hê vir jouself en almal om jou. Selfs vir die mense in bestuursposisies, al tree hulle volgens jou nie altyd eerbaar op nie.

Verantwoordelikheid behels dat jy bereid is om rekenskap te gee oor jou lewe. Dit begin natuurlik by God, en kring dan uit na jou gesin, familie, vriende, kollegas en jou taak op aarde.

Jy behoort nie die blaam op ander te plaas vir jou keuses nie. Jy moet ook regverdig wees en reg laat geskied oral waar jy gaan. Ons lees dat regverdiges met groot krag kan bid.

Omgee maak dat jy jou medemens raaksien en deernis met hulle het. Jy het natuurlik die perfekte voorbeeld in die Bybel van Iemand wat regtig omgegee het – vir almal.

Nederigheid beteken allermins dat jy op jou moet laat trap. Jy moet jouself sien soos God jou sien: ’n sondaar wat net deur genade gered kan word. Jy weet mos jy is gered, en daarom kan jy vrede hê. Jy is kosbaar!

Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking (Jak. 5:16).

Leef jou waardes uit om geestelik te groei 

Om oor waardes te praat is een ding. Maar om beginsels en waardes uit te leef is iets heel anders. As jy werklik ’n verskil wil maak, kan dit nie net by praat bly nie.

Koester dus jou omstandighede. Dit beteken nie jy moet mal wees oor alles wat met jou gebeur nie. Jy moet egter daaruit leer en dit as ’n trappie gebruik om te verbeter. Hy wil jou heilig en regkry vir ’n spesifieke taak wat uitgekies is net vir jou.

Hoe meer jy oor jou hemelse Vader en Sy werk weet, hoe meer verander jy en hoe meer word jy ook so. Hierdie proses duur dwarsdeur jou lewe; daarom moet jy nooit ophou om gehoorsaam te wees en te leer nie.

Jy gaan nie al die goeie dinge wat vir jou uitgesit is, ontvang as jy sommer net voortdobber nie. Maar as jy dit kan regkry om vas te byt en geestelik te groei, sal jy ongelooflik vervuld wees. Dit verg natuurlik oefening, konsentrasie, geduld en nadenke.

Die Gees lig vir jou van tyd tot tyd die sluier sodat jy gemotiveerd sal bly om al meer soos Hy te word. Daar wag ’n opwindende reis en bestemming vir jou – net om die draai!

Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God (Kol. 3:9-10).

Deel die artikel

Méér artikels

Wanneer jou gebede onbeantwoord bly, is dit maklik om mismoedig te voel. Leer hoe om onvervulde verwagtinge te hanteer en geloof te hê in God ...

Almal ken die gevoel: Vrees vir môre, vrees oor jou geldsake of jou veiligheid. Mense bekommer hulle siek! Gelukkig kan jy ophou stres en vry ...

Scroll to Top