Om te bid is ’n manier van kommunikasie met God. Daar is verskillende maniere hoe jy effektief met Hom kan kommunikeer.
Wek geloof in jou gelowige hart met lofprysing
Daar is krag in lofprysing. Lofprysing fokus die aandag op God, en die bidder bring hom- of haarself daarmee in ’n posisie waar God toegelaat word om ongehinderd te werk. Dit wek geloof in die gelowige se hart en laat probleme, vervolging en swaarkry kleiner word.
Lofprysing help ons om ons oë van die geveg af weg te neem en die oorwinning en ons Koning raak te sien. Dit breek die kettings van moedeloosheid, ongeloof en depressie in die gemoed van die gelowige.
Dikwels wanneer jy nie ’n deurbraak in gebed beleef nie, is dit lofprysing wat die oorwinning bring, want lofprysing sê: “Here, ons kan niks doen nie, maar U kan alles doen.”
In lofprysing gaan dit om God self en nie om dit wat Hy vir my kan gee of doen nie. Keer op keer moes gelowiges uitvind dat die oorwinning behaal word wanneer God geloof en geprys word en nie wanneer daar van allerlei “tegnieke” gebruik gemaak word nie.
In Jesaja 61:1-3 staan daar letterlik dat ons die mantel van lofprysing moet aantrek. Wanneer ons in God se teenwoordigheid kom, moet ons dit doen met lofprysing, moet ons die mantel van lofprysing aanhê. Dit eer God. Hy het behae daarin.
Lofprysing is nie net deel van die gevegsplan nie, dit ís die geveg self. Dis nie net iets wat ons doen om God te dank wanneer ons klaar gewen het nie. Dis juis wanneer jy in die hitte van die stryd begin om God te loof en te prys dat die grondslag vir die oorwinning gelê word
Die bidder worstel met en saam met God
Die bidder worstel met God en saam met God. In Genesis 32 worstel Jakob met God. In Genesis 32:28 lees ons een van die mees buitengewone opmerkings in die hele Skrif: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.”
Let op dat die woord Israel letterlik beteken om met God te worstel. Dink net: Jakob het God
oorwin! Kan dit moontlik wees? Ja, die Skrif sê dit baie duidelik.
Jakob het God oorwin, want God wou Hom deur Jakob laat oorwin. God het die eerste tree geneem. Hy het in die nag, daar by die Jabbok, na Jakob toe gekom en met hom begin worstel. Natuurlik was God sterker as Jakob, maar God het toegelaat dat Jakob Hom oorwin.
Jakob se voorbidding red sy eie lewe, asook dié van sy nageslag uit die hand en wraak van Esau. Uit sý nageslag word die volk Israel gebore. Wanneer Jakob in die nag met God worstel, sê Hy: “Los My!” Maar Jakob bly worstel. Dit is asof God nie kan weggaan as Jakob weier om Hom te los nie. God het Hom deur Sy beloftes daaraan gebind om na ons te luister.
God verbind Homself deur Sy beloftes en Sy karakter daartoe om na ’n man of ’n vrou te luister wat Hom in gebed vasgryp, wat met Hom worstel en by Hom pleit. Die geheim was iemand wat God vasgegryp het en gesê het: “Ek sal U nie laat gaan nie!”
Aanvaar God se vergifnis deur te bely
Sondebelydenis is ’n daad van belydenis en reiniging van jouself as God se tempel sodat jy vrye toegang tot God kan hê. Dis die plek waar jy sonde op sy naam noem, jou skuld bely, erken dat dit verkeerd is en daarvan wegdraai – en God se vergifnis aanvaar.
Dis waar jy God vra om elke vorm van hoogmoed en liefdeloosheid te hanteer. Dis ’n tyd van selfondersoek en om die Heilige Gees toe te laat om enige onbelyde sonde aan jou uit te wys.
Verlossing en vergifnis van ons sonde verkry ons net deur die bloed van Jesus en op grond van Sy soendood aan die kruis. In sondebelydenis vra jy nie dat God noodwendig omstandighede moet verander nie, maar dat Hy jou sal vergewe en jou sal verander. “Maar as ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Johannes 1:9).
Dis baie belangrik dat ons met ’n skoon hart tot God moet bid. Vra die Heilige Gees om jou sensitief te maak, sodat jy kan weet watter dinge jy voor die Here moet bely. Vertrou Hom om vir jou te wys as daar iets in jou lewe is wat Hom bedroef en bely daardie spesifieke sonde.
Sondebelydenis moet met die nodige versigtigheid gedoen word, sodat dit nie die saak verder benadeel nie. Die doel van sondebelydenis is herstel en genesing, en nie verdere verwydering nie.
Pleit en smeek by God vir jou behoeftes
In sommige geestelike kringe word smeking geassosieer met mense wat geestelik nie ver gegroei het nie. Hoe tragies is dit nie dat gelowiges so “groot” kan word, so “volwasse” kan word dat hulle bo smeking verhewe is nie.
Smeking is ’n term wat in die Bybel dikwels in verband met gebed en voorbidding gebruik word. Smeking en barensnoodgebede is baie na aan mekaar. Dis om by God te pleit en te smeek, om dringend en intens te vra.
Ons lees byvoorbeeld dat die dissipels in Handelinge 1:14 eendragtig bymekaar was en in gebed en smeking volhard het. Filippense 4:6 sê dat ons al ons begeertes deur gebed en smeking aan God bekend moet maak.
1 Timoteus 2:1-2 sê dat ons met smeking, voorbidding en danksegging vir alle mense moet bid, vir dié wat regeer en almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei.
Iemand wat smeek, maak nie aanspraak op verdienste nie, maar op genade. O, en is dit nie genade wat ons nodig het nie? Genade en barmhartigheid! Johannes 1:16 leer ons dat ons van God genade op genade sal ontvang.
Iemand wat smeek, het geen skaamte nie en word deur sy nood gedryf. Hy kan dit nie bekostig om hoogmoedig te wees nie. God soek bidders wat onbeskaamd na Hom toe sal kom, wat sonder trots en hoogmoed sal kom.
Wanneer ons geestelik so volwasse is en geestelik so ver gevorder het dat ons nie meer kan
pleit en God kan smeek om ons te help nie, dan is ons té volwasse.
Word stil en wag op die Here
Dis waar jy stil word voor God. Dis waar jy geestelik die deur toemaak vir enige invloed van die wêreld. Dis waar jy deur ’n daad van geloof in Sy teenwoordigheid kom staan. Dis om God te aanbid en te prys vir wie Hy is (Psalm 45:11). Soms bid ons en kry nie antwoorde nie – nie altyd dadelik nie.
Ons is haastig en leef in ’n supersoniese eeu wat kitsantwoorde eis. God word egter nie deur tyd geïntimideer nie. Ons moet waak en bid. Ons moenie haastig wees nie. As jy bereid is om te wag, sal God op die regte tyd aan jou die waarheid openbaar en sal jy nie mislei word nie.
Hierdie tyd van wag op die Here kan nie afgejaag word nie; daar is nie plek vir ongeduld en haastigheid nie. In hierdie tyd dink jy aan niks anders as aan God die Vader, sy Seun Jesus – jou Verlosser – en die Heilige Gees nie. Gedagtes wat by jou opkom, hoef jy nie noodwendig om te sit in woorde nie.
In hierdie tyd van stilte moet jy jou op God self instel. Rig jou wese op Hom en wy jou opnuut aan Hom. Verbly jou in Hom en Sy teenwoordigheid.
Dis ’n tyd van diep persoonlike en intieme gesprek met God; dis wanneer jy as beperkte en eindige wese in die teenwoordigheid van God as die Onbeperkte en Oneindige Wese kom staan. By hierdie punt maak jy seker dat jy werklik kontak met God maak.
Doen voorbidding vir ander by Hom
In Bybelse konteks kom die konsep voorbidding op verskeie maniere na vore: Voorbidding het plaasgevind toe Jesus in ons plek aan die kruis gesterf het. God het vir Adam as sy verteenwoordiger, afgevaardigde, as voorbidder op aarde aangestel.
Voorbidding het plaasgevind toe Moses 40 dae en nagte sonder kos by God ingetree en gepleit het dat God die volk nie sou vernietig toe hulle die goue kalf aanbid het nie.
Die Heilige Gees het gekom om as voorbidder op te tree, om die Drie-eenheid in ons as gelowiges te verteenwoordig, ons aan Jesus se woorde te herinner en ons te help wanneer ons bid. Dit is veral deur die lewe van Jesus en deur gebed dat voorbidding in die Bybel die duidelikste uitgebeeld word.
Voorbidding is waar die bidder vir iemand anders bid. Dit fokus nie op die bidder se eie behoeftes nie, maar op die nood van ander, op ’n derde party. Dis presies wat Moses en Jeremia gedoen het.
Hulle het by God vir Israel gepleit. Dit is ’n posisie voor God, ’n geestelike posisie. Hierdie posisie is ’n 24-uur-posisie. Dit is nie ’n gebeurtenis wat net vyf minute per dag in beslag neem nie. Die voorbidders gaan staan voor God in die bres en pleit totdat die Here antwoord.
Voorbidders bid vir genade en barmhartigheid in plaas van oordeel. Die voorbidder staan in die bres, maar hy of sy staan met sy of haar gesig na God toe – om te pleit dat God genadig en barmhartig sal wees.
Wees in gebed ’n stryder in geestelike oorlogvoering
Dis belangrik om altyd te onthou dat geestelike oorlogvoering deur die krag van God, in Jesus se Naam en die kragtige werking van die Heilige Gees, in en deur ons gedoen word.
Die belangrikste waarheid wat die gelowige moet ken en kan hanteer, is die gesagsposisie of
troonposisie. Onkunde hieroor maak ’n gelowige geestelik magteloos.
Die Christen moet weet wie hy of sy in Christus is en dat hy of sy in Christus gesag het oor alle bose magte (Efesiërs 1:19-22; 2:6). Vanuit ons gesagsposisie moet ons die werke van die duiwel bind en hulle wat deur die duiwel gebind word, in Jesus se Naam losmaak.
Iemand het gesê die grootste deel van geestelike oorlogvoering is om op die Here te wag. Vir ons wat graag dinge wil sien gebeur, is dit moeilik om op die Here te wag. Oorhaastigheid is dikwels die begin van geestelike nederlaag en mislukking.
Jy as Christen is ’n medestryder, maar onthou, dis God se geveg. Dis God wat bepaal waar, teen wie en wanneer daar baklei moet word. Hy weet wat Hy doen, daarom moet ons Hom vertrou en nie vir Hom probeer voorskryf wat Hy moet doen nie.
Sorg dat alle bewuste onbelyde sonde bely is en dat jy sover moontlik volledig restitusie doen oor jou verlede. Met ’n rein hart het die duiwel geen houvas op die kind van God nie.
Die wil van God is van kardinale belang in geestelike oorlogvoering. Dis ook net wanneer jy binne die wil van God beweeg dat jy werklik op Sy beskerming kan staatmaak.