Ons sukkel om sukses te behaal, maar is ’n perfekte lewe dan net vol sukses? Sukses en uitdagings het eintlik mekaar nodig om in ’n weegskaal totale sukses te kan bereik. Dán kan jy jou volle potensiaal uitleef, sê die meesterlewensafrigter LIZETTE VOLKWYN.
Die media en veral sosiale media skep by ons ’n idee van wat dit beteken om suksesvol te wees. Dikwels is hierdie idee dit waarteen ons ook ons eie sukses meet.
Sodra jy agterkom dat suksesse en uitdagings relevant is tot wie jý is, dan verander die prentjie. Ons het elkeen ons eie suksesstorie. Ons suksesse én uitdagings moet soos ’n weegskaal verweef en ons moet dit balanseer.
Wees gereed vir moontlike mislukkings en uitdagings
Bitter min mense weet regtig as jy voor ’n moeilike uitdaging te staan kom. Ons kan nie misluk nie. Mislukking bestaan nie. Dit is net terugvoer.
Dis terugvoer wat sê jy gaan deur iets en jy was nie voorbereid genoeg nie óf jy het nie ’n plan B gehad nie óf dit was nie vir jou bedoel nie.
Maar hoe kom ek uit daardie gat? Hoe kom ek deur daardie uitdaging? Uit die gevoel van ek is niks werd nie. Ek kry dit nie reg nie. Hierdie uitdaging is te groot vir my.
Ons is so geneig om sodra ons ’n uitdaging in die oë kyk, te wil vou. Ek vergelyk my met iemand anders wat ek nie is nie en ek kyk na goed wat ek nie kan regkry nie.
Ek moet vra: Wie is ek? Sodra ek myself afvra wie ek is, dan begin ek besef: Wat is my patroon? Wat doen ek gewoonlik? My patroon is herfokus.
Begin die prentjie weer deurkyk en begin van ’n ander kant af en begin iets nuuts, want jy kan.
Vra jouself af wanneer jy sukkel: Wie is jy regtig? Is jy regtig die persoon wat sê: “Ek kan nie meer nie, ek is moeg.” Of is jy die persoon wat sê: “Ek het ’n bietjie rus nodig, maar ek kan en ek gaan.”
Gebruik jou uitdagings om ’n beter toekoms te skep
Wat is jou waarheid vandag in jou uitdaging? Is jy dalk onrealisties en dink: Ek moet hierdie senior pos kry, maar die uitdaging is net te groot.
Of is die waarheid dat jy vir hierdie posisie bedoel is? Jy het die kwalifikasies, jy moet net aansoek doen. Jy moet net met selfvertroue opstaan en sê: “Ek kan.”
As jy in ’n verhouding is waarin jy nie vandag gelukkig is nie, wat is die waarheid? Wat verdien jy regtig? Het jy nie vandag iemand nodig wat werklikwaar lief is vir jou nie? Iemand wat jou vashou en hulleself oor jou ontferm nie?
As jy ’n nuwe maatskappy het, wat is die waarheid? Die waarheid is: Jy het al die kennis. Jy doen goed.
Jy bring kwaliteit na die tafel. ’n Maatskappy vat tyd om te stabiliseer en jy is op die regte pad.
Wat kan ek met die uitdaging wat ek nou deurgaan doen om my te kan trek na my toekoms en dit waarna ek streef? Hoe kan ek hierdie hoek waarna ek na dit kyk verander, sodat dit my toekoms kan dien?
Elke keer as daar ’n uitdaging kom, dan vra ek: Hoe kan ek hierdie gebruik in die toekoms, vir ’n les, ’n toespraak, opleiding? En sodra ek dit begin sien, kom ek agter my uitdagings word geleenthede.
Leer uit sukses om nóg meer suksesvol te word
Jy kan nie ontvang met ’n toe hand nie. Sodra ek sukses bereik, kan ek nie sê nie: “Hierdie is my sukses, ek gaan dit net vir myself hou.”
Ek is verplig om dankie te sê. Ek moet my dankbaarheid kan vat en dit oorvloei na ander toe.
As ek sukses bereik en ek wys nie dankbaarheid nie en ek kan dit nie met nederigheid hanteer nie, dan het ek ’n probleem. Sodra ek dink dat my sukses my beter maak as ander, so vinnig soos wat ek sukses gekry het, so vinnig kan ek dit verloor.
Respek is so belangrik in sukses, want dit is daardie gedeelte wat ons vorm en ons help om te netwerk en nóg meer suksesvol te kan word.
Sodra jy begin suksesvol raak en jy het ’n doelwit gehad wat jy bereik het, gaan reflekteer. Wat kan ek beter doen? Wat kan ek aanhou doen?
My mantra is baie eenvoudig: Jy hoef net een persent beter te wees as wie jy gister was.