Jou kind is jou grootste geskenk … en die minste wat jy kan doen is om dit te waardeer. Daar is niemand so gelukkig op aarde as ’n kind wie se ouers mal is oor haar nie.
Ek het dit al ’n duisend keer gesê, en ek gaan dit nou weer sê: Geen werk op aarde is belangriker as om ’n goeie ouer te wees nie. Nie een nie. – Oprah Winfrey
As wat Oprah sê, jou bang maak, dan is jy oukei. Geen kind kom immers met ’n eienaarshandleiding nie. En dit help ook nie altyd om op ander se raad staat te maak nie, want kinders verskil.
Om ’n ouer te wees is nie kinderspeletjies nie!
Dit voel soos gister toe julle nog uitgesien het na julle kind se koms. Dan stres jy nie oor maniere van grootmaak nie, net dat sy gesond moet wees. Maar sodra die wonder van die nuwe babatjie begin verbygaan, skrik jy jou boeglam.
Jy besef dat ma-wees oor baie meer gaan as ’n skoon doek en ’n vol magie. Natuurlik het jy geweet dat dit ’n groot verantwoordelikheid gaan wees. Maar so kompleks …?
Om ’n ouer te wees is nie kinderspeletjies nie! Dit weet ons almal wat al deel geword het van hierdie mallemeule-rondomtalieproses.
Om ’n ouer te word is seker die verantwoordelikste, uitdagendste, uitputtendste, moeilikste maar terselfdertyd ook die mees bevredigende en avontuurbelaaide ding wat ooit met jou kan gebeur.
Die een oomblik is jy bo in die wolke en die volgende oomblik word jy vir ’n ses geslaan! En die uitdaging is om deur dit alles ’n goed genoeg ouer te bly.
Moenie trap in dieselfde strik as jou ouers nie
Jy betree hierdie proses met baie min voorbereiding. Om die waarheid te sê, al wat jy het, is dit wat jy by die vorige generasie geleer het. En dit is net hier waar die moeilikheid begin! As jy die stokkie bloot net so aanvat en jou kinders ook so wil grootmaak, trap jy in dieselfde strik as waarin jou ouers en hulle ouers moontlik getrap het!
Jy het seker ook al iemand hoor sê: “Sy is ’n fantastiese ma, haar kinders is stroopsoet.” Of: “Hy is ’n wonderlike pa, sy kinders blink so uit!” Ongelukkig word ’n mens se sukses as ouer dikwels aan jou kinders se doen en late gemeet. Min aandag word geskenk aan of kinders gelukkig is en emosioneel gesond is of nie. Solank hulle net goeie maniere het en goeie punte op skool behaal, is die saak reg.
Die geheim van goeie ouerskap het dus gelê in die idee dat wat die ouer doen, die belangrikste van alles is en haar sukses bepaal. Jy is mooi geleer dat as jou kind só optree, dan doen jy dit, en as sy só optree, dan doen jy dat. Amper ’n one size fits all-aanslag.
Daar is verskeie boeke oor ouerskap wat hierdie benadering ondersteun en meehelp dat ons generasie na generasie die stokkie oorgee. Hoekom anders is daar dan so baie ouers wat steeds sukkel met goed wat met hulle gebeur het toe hulle kinders was?
Kies ‘n ouerskapstyl wat by jou kind pas
Gelukkig is dinge aan die verander! Iemand het iewers besef dat ons die bal mis slaan.
Daarom word daar geleidelik weg beweeg van hierdie benadering wat elke geslag voor jou – en dalk jy ook – gevolg het.
Jy wil steeds hê dat jou kinders goedgemanierd moet wees en dat hulle altyd hulle bes op skool sal doen. Maar jy wil ook hê dat hulle emosioneel gesonde en gelukkige kinders moet wees.
Elke kind het die behoefte om verstaan en onvoorwaardelik aanvaar en liefgehê te word. Dit kan ons as ouers alleenlik regkry as ons die beginsel van die tuinier toepas.
Geen tuinier hanteer al die plante in sy tuin op dieselfde manier nie. Die een het meer sonlig nodig, terwyl die ander een weer heelwat minder water moet kry. Maar elke plantjie pas perfek in sy tuin en groei mooi omdat hy weet hoe om elkeen te behandel.
Net so moet jy jou ouerskapstyl en die hantering van jou kinders aanpas om by elke kind se natuur te pas – die beginsel van nurture by nature!
Die fokus skuif dus ’n bietjie weg van jou as ouer na die belangrikheid van jou kind as individu. En dit kan jy net regkry as jy begin om met “sagte oë” na jou kinders te kyk.
Kyk met sagte oë na jou kind
Om met sagte oë te kyk was iets wat Louis se ouers nie kon regkry nie … In sy boek, The Mystery of Love, vertel rabbi Marc Gafni van sy heel eerste bar mitzvah wat hy moes doen. Bar mitzvah – ’n seun van die wet – is ’n Joodse seremonie wat ’n seun deurloop en dan in godsdienssake as ’n volwassene gereken word.
Hierdie bar mitzvah was vir ’n seun met die naam Louis. Louis was egter ’n ongelukkige, onseker en hartseer kind. Sy ouers het ook geen bydrae gelewer om sy selfbeeld op te bou nie, inteendeel! Hulle het geen geheim daarvan gemaak dat hulle geglo het hy was te dom om die tradisionele Hebreeuse gedeeltes te memoriseer wat ’n seun tydens sy bar mitzvah moet voordra nie.
Rabbi Gafni was vasberade om die beste in Louis na vore te bring. Hy het ekstra tyd saam met Louis deurgebring en liedere en gebede vir hom geleer. In dié proses ontdek hy dat Louis eintlik ’n baie knap seun met ’n pragtige stem was. Op die dag van sy bar mitzvah het Louis vol selfvertroue die gedeeltes voorgedra wat hy moes memoriseer.
Na afloop van die seremonie het rabbi Gafni voor die gemeente gaan staan, Louis in die oë gekyk en gesê: “Louis, vanoggend het jy jou ware self ontmoet. Dit is wie jy is. Jy is goed, aantreklik, talentvol en slim. Wat mense jou ook al gister vertel het, en Louis, wat ook al môre gebeur, belowe my een ding: Onthou dis jý dié. Onthou dit, en moet dit nooit verloor nie.”
’n Paar jaar later het rabbi Gafni ’n brief van Louis ontvang. Die seun wie se ouers gemeen het hy was te dom om ’n tradisionele bar mitzvah te kon doen, was besig om medies te studeer. Hy was ook verloof en sou binnekort trou. Louis het sy brief so afgesluit: “ … Ek het my belofte nagekom – ek het altyd die dag van my bar mitzvah onthou, toe u vir my gesê het dit is wie ek is. En daarvoor wil ek vir u dankie sê.”
Daar was iemand wat in hom geglo het en wat met sagte oë na hom gekyk het.
Dit het ’n enorme verskil in Louis se lewe gemaak. En dit is met sulke oë dat jy as ouer ook na jou kinders moet kyk, want in die atmosfeer van onvoorwaardelike aanvaarding word ’n gesonde selfbeeld gekweek!
Herinner jou kind aan wie sy werklik is
Moenie alles wat jy geleer het, vergeet nie. Moet ook nie al die boeke wat jy gekoop het, weggooi nie.
Onthou die raad wat almal al vir jou gegee het, want jy kan nooit genoeg kennis hê nie. Maar weet ook dat jy sagte oë nie in boeke of by ander mense kry nie. Dit is iets wat uit jou hart kom.
Sê elke dag vir jou kind dat sy die mooiste, slimste en oulikste is en dat sy enigiets kan doen. Geen kind kan misluk met so ’n veiligheidsnet nie.
Deur die loop van jou kind se lewe gaan daar baie dinge gebeur wat haar selfbeeld kan knou. Gelukkig kan jy elke keer daar wees om haar te herinner aan wie sy werklik is. Nie dit wat ander mense van haar verwag nie, maar dit wat sy op haar eie kan bereik.
Met jou as haar grootste ondersteuner, natuurlik.