Almal gaan deur seerkrytye, alleentye en moet swaarkry verwerk. DORETTE POTGIETER glo dat alles – bitter, soet of sout – maak ons wie ons uiteindelik is. Sy is vandag op haar gelukkigste deur ander mense te help.
Te lank was ek woedend en onnodig bang vir omstandighede.
Daardie dag toe baba Lia in die kraamsaal op my bors gesit is en my ledemate nie wou saamwerk nie, was dalk ’n proesel van magteloosheid. Ek was bang en kwaad vir God oor die omstandighede, en dit was ’n eensame gevoel. Wie sal ons beskerm?
Om magteloos te voel sonder hoop of uitkoms is iets wat nie een van ons werklik verstaan nie. Dis iets wat in ander se oë gesien kan word. Dis vandag vir my ’n werklikheid soos dit nog nooit in jare tevore ervaar is nie.
Die pad van ’n enkelma is vir niemand maklik nie. Die aakligste deel is om alleen kop te moet hou! Alle verantwoordelikhede is dan alleen myne.
Dis uitdagend om nie jouself jammer te kry nie, om ’n balans te probeer handhaaf en nie te kwaai met jouself te wees nie.
Die lewe is vir niemand maklik nie. In die verlede moes ek al baie akteursrolle aanvaar net om kop bo water te hou. Ons almal het al ’n porsie pyn en lyding ervaar …
Ek kry swaar wanneer ek iets moet doen wat teen my morele waardes indruis.
Vir meer as die helfte van ’n dag moet jy ’n karakter speel wat glad nie ondersteun wie jy is óf streef om te wees nie.
Kort voor lank begin mense jou ook te behandel asof jy regtig die rol is wat jy vertolk. Dit klink belaglik, maar dis wat gebeur!
Dit het aanhoudende afbreking veroorsaak, stuk vir stuk. Mense het my in ’n boksie geplaas, ver verwyderd van wie Dorette werklik is. Dit het my siel geskeur.
Vir tientalle jare moes ek baie terugslae verwerk. My drome was aan flarde. Dit het sterk staan gevat om nie deur my eie seer en gebrokenheid enige emosionele leed aan Lia te doen nie.
Dit was al bitter moeilik om my persoonlike lewe van my professionele lewe te skei, veral wanneer jy in twee stede huur moet betaal, net om nie op straat te sit nie.
Gelukkig het dinge baie verander en deesdae is ek vasbeslote om net ’n rol te aanvaar wat myns insiens nie myself of my kind leed sal aandoen nie. Dis nou makliker as ooit tevore om nee te sê.
Wanneer werksaanbiedinge wel aanvaar word, bestaan die kans dat daar soms steeds verkeerde besluite geneem word. Ten minste hou die geleer nooit op nie en die uitdaging leef voort.
Ná jare is dit nou duideliker hoe om myself gelukkig te maak, en drome te verwesenlik – dis alles te danke aan al die seerkrytye, alleentye en swaarkry wat verwerk moes word. Dit verg goeie beplanning, harde werk, toewyding en dissipline wat aangeleer is in ’n oorlewingstyd as vryskutaktrise.
Bitter, soet of sout, alles maak ons wie ons uiteindelik is en ons kies hoe ons oor alles voel. Dis bevrydend om te weet wat jou regtig gelukkig maak.
Ná elke donker nag skyn die son weer, en om waarlik te kan lewe, is ’n keuse. Vandag weet ek dat Jesus opgestaan het en dat Sy Heilige Gees saam met ons leef. Ek verbly my in die wete dat ek ’n lewende God aanbid!