My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.
(Jakobus 1:2)
Hoe op aarde kan ’n mens bly wees oor die krisisse wat jou rustige bestaan so kom versteur? Hou dit werklik vir jou enige voordele in?
Uit die brief van Jakobus leer ons dat probleme die gehalte van ons geloof toets. Elke probleem spreek ’n terrein in ons lewe aan waaraan ons nog moet skaaf. Hoe meer probleme jy dus in jou lewe het, hoe meer geleenthede het jy om geslyp te word na die volmaakte beeld van God.
’n Krisis laat ook die ware jy na vore tree. Dis maklik om ’n goeie voet voor te sit wanneer alles in jou lewe volgens plan verloop. Maar wanneer daar druk op jou is, kom die ware jy uit. Soos met ’n spons. Dis eers wanneer jy die spons druk dat jy kan sien wat binne-in die spons geabsorbeer is.
Moet daarom nie bid dat jou probleme sal verdwyn nie. Vra eerder dat jy insig sal hê in elke krisis, dat jy iets van jouself en van God se karakter sal leer. In plaas daarvan om jou probleme as ’n straf te sien, beskou dit as ’n geleentheid om te groei en meer soos Christus te word.
Verandering is soms nodig, maar dis nie altyd goed en lekker nie. Soms gebeur dit skielik en is dit ’n groot skok of verlies. Ons moet verandering nie probeer teenstaan of vermy nie. Dis deel van die lewe. Ons moet eerder leer om verandering reg te hanteer.
“It is now being decided whether, in the day of your supreme sorrow or temptation, you shall miserably fail or gloriously conquer. Character cannot be made except by a steady, long, continued process” – Phillip Brooks.