Het jy al selfkastydend jouself blameer dat jy nie gedink het nie? Ons besef nie dat daar regtig nie ’n oomblik is wanneer daar nie denke deur ons kop flits nie. Die probleem is die denke wat onbeheersd en onder die radar staanplek vind. As ’n mens onthou dat soveel van ons welstand uit ons denke spruit, moet ons weer in beheer van ons denke kom.
Albert Einstein sê: “You can’t solve a problem with the same level of thinking that has created it!”
Hoe en wat ons dink, besoedel of suiwer die fontein van ons lewe. Dan maak dit sin dat ons elke gedagte moet gevange neem. Om dit te kan doen, moet ons gereeld stop en langs ons gedagtes gaan staan en net bewus word van wat op daardie oomblik kom nesskop het.
Omdat denke met baie chemiese prosesse in die brein gepaard gaan, het dit ook ’n groot invloed op ons algemene welstand. As jy mislik wil voel, moet jy net lank genoeg aan negatiewe goed dink. Die probleem is egter dat dit wat jy in jou gedagtes toelaat, kumulatief momentum kry en sterker word. Daarom moet ons ons gedagtes rig op dit wat rein en loflik is en dan ervaar hoe dit ’n totale ommekeer in ons gemoed bring.
Kom ons kyk na ’n paar “denk-terroriste” wat toksies ons binnewêreld aanval.
Die eerste is wat die slim ouens filtrering noem. Dit is waar ’n mens selektief luister, die positiewe uitfiltreer en dan net op een, meestal negatiewe, komponent fokus. As jy in ag neem dat dit waarop ’n mens fokus sterker word, verstaan jy hoe dit dan eensydig die totale realiteit word. Die maatjie van die terroris is veralgemening, waar ’n mens een aspek uitlig en dit veralgemeen tot die totale en enigste realiteit.
’n Ander baie algemene denkfout is om alles persoonlik op te neem en te sukkel om op die saak te fokus. Dit veroorsaak dat ’n mens onmiddellik op die verdediging is en so emosioneel raak dat jy nie op die werklike saak fokus nie. Dit gaan gewoonlik met blamering en verskuiwing van skuld gepaard.
Nog ’n terroris is dat ons ander se koppe lees (mind read), glo ons weet wat in hul koppe aangaan en dan vrylik ons mening met hulle deel. Die laaste een waarna ons kan kyk, is what if – die “maar wat”-beginsel. Dit is daardie fokus op alles wat moontlik katastrofies verkeerd kan loop en ’n mens lamlê om enige aksie te neem.
Augusto Cury het ’n baie goeie tegniek om hierdie aanslag af te weer. Hy praat van die DCD-beginsel: Doubt, Criticize and Determine. Eerstens moet jy nie net aanvaar dat jou denke en ervaring die hele prentjie verteenwoordig nie. Think in shades of grey en aanvaar alles is nie noodwendig in swart en wit gekleur nie. Neem dan ’n wilsbesluit om anders te dink en besef jy is nie ’n willose slagoffer van jou gedagtes nie.
Dan is dit nodig om krities jou eie denke te kritiseer en dissekteer vir moontlike denkfoute. Laastens neem jy ’n wilsbesluit om positief die saak anders te hanteer. As gelowige vertrou ek die Here vir wysheid oor hoe om dit te doen.
Romeine praat nie verniet dat ons denke vernuwe moet word nie. Vir my beteken dit om toe te laat dat Sy Woord my gedagtes vul en vernuwe met ’n denkraamwerk wat revolusionêr anders as die filosofieë van die wêreld funksioneer.