Bespreek jou unieke risikoprofiel, chroniese toestande en die regte behandeling en medikasie vir jóú met jou mediese praktisyn.
As jy ouer as 45 is, moet jy jaarliks of al om die twee jaar ’n mammogram laat doen. As jy egter ’n familiegeskiedenis van borskanker het, sal jou dokter besluit of jy vroeër vir toetse moet gaan.
Die Nasionale Kankervereniging beveel papsmeerondersoeke vir servikale kanker vanaf 21-jarige ouderdom aan, of vroeër as jy reeds seksueel aktief is. Die toetse moet tot die ouderdom van 30 elke drie jaar gedoen word. Daarna is dit veilig om elke vyf jaar vir ’n ondersoek te gaan.
Tydens menopouse ondervind vroue dikwels probleme met slaaploosheid, angs en vaginale droogheid. Dis belangrik dat jy die opsies om die simptome van menopouse te hanteer met jou dokter bespreek.
’n Daling in estrogeen kan veroorsaak dat jou seksdrif afneem. ’n Verlaagde libido is ’n saak wat jy met jou dokter kan bespreek. Daar is verskeie redes hiervoor, soos ’n daling in die afskeiding van skildklier- en ander hormone.
Medikasie kan ook jou libido of die vermoë om ’n orgasme te bereik negatief beïnvloed. Jou dokter kan verskeie mediese toetse laat doen om die oorsaak van die probleem vas te stel.