“Bid jy al lank dat jou omstandighede sal verander, maar beleef nog nie daardie deurbraak nie? Onthou net, jy kan met God oor alles praat, want Hy is in alles,” het die radiopersoonlikheid BENESCKE JANSE VAN RENSBURG tydens ’n #MentorMaandag-lewensafrigtingsessie gesê.
Baiekeer as ons geruime tyd oor ’n saak bid, kan ’n mens in die strik trap om daardeur ingesluk te word. Al waaroor jy praat, al waaroor jy dink is hierdie uitdaging. Ek weet nie of jy miskien al daar was nie, maar dit gebeur verskriklik maklik. Ons is so vol van hierdie slegte emosies en hierdie frustrasies dat daar nie meer spasie is dat ons kan hoor wat God vir ons sê oor hoe ons dalk iets anders moet doen en hoe ons dan ’n ander resultaat gaan kry nie.
God hoor en verhoor ons gebede vir verandering
God wil altyd ’n verhouding met jou hê, Hy wil altyd Sy goedheid aan ons wys. Ons het net partykeer nodig om ook na God uit te reik. En te sê: Hier is ek God, ek begeer dit om U teenwoordigheid in my lewe te kry.
God hoor regtig ons gebede en Hy wil regtig ook ons gebede verhoor. Wat verhoed dan dat ons daardie deurbrake kry as ons dan ’n God aanbid wat hoor en ook wil verhoor?
In Markus lees ons dat Jesus rondgegaan het en wonderwerke gedoen. Hy kom toe by Sy eie grootword-dorp en kan nie een wonderwerk doen nie.
Dan lees ons verder in Markus 6: 5-6: “Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense. Daarna het hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer.”
Dit is die ding wat ons partykeer vergeet, ongeloof speel ’n baie groot rol in ons wagtyd en ons nie-deurbraak-kry-tyd. Want die ding is, geloof soos ’n mosterdsaadjie kan vir die berg se om in die see te val, maar die ongeloof van daardie mense het veroorsaak dat Jesus nie wonderwerke kon doen nie.
Die obstruksies wat vernuwing in jou lewe kan teenstaan
Ons moet mooi gaan kyk hoe ons praat oor dinge. Lewe en dood is in die mag van die tong lees ons in Spreuke 18:21. Wat beteken dit?
Dis soos om ’n tuintjie te hê. Met ons woorde is ons besig om saad te saai, en hierdie woorde is of goeie saad of dit is onkruid. Wat kom op? Dit wat jy gesaai het. Gaan let op jou negatiewe woorde en gaan kyk of daar nie dalk iets is wat moet verander nie.
Ons vergeet ook partykeer dat daar ’n oop deur in ons lewens kan kom deur sonde. Wanneer jy doelbewuste sonde in jou lewe toelaat kan die vyand jou aanval. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte in die lug (Efesiërs 6:12).
Partykeer moet ons ook onthou dat wanneer ons nie dadelik ’n deurbraak kry nie is daar miskien iets wat ‘n obstruksie veroorsaak. En ons het nodig om dit deur te bid en aan te hou bid. Om te vertrou dat God van die eerste oomblik af ons gebede gehoor het en verhoor het. Ons moet soms net stil raak en sê: “Vader, wys my as daar iets in my lewe is wat nie in ooreenstemming is met U wil nie, en help my om klaar te maak daarmee.”
Terwyl jy wag vir die deurbraak waarvoor jy bid
Wat kan jy doen in die wagtyd om dit ’n klein bietjie makliker te maak?
Ons moet onsself herinner aan die geweldige krag wat daarin lê om geloof in God te plaas.
As jy in ’n situasie is waar jy nog nie ’n deurbraak beleef het nie, wil ek jou daaraan herinner dat God van jou weet.
Miskien is dit tyd dat ons moet leeg word van onsself sodat ons spasie maak dat God deur Sy Heilige Gees met ons kan praat. Dat Hy ons kan rig en lei en wys hoe ons miskien dalk dinge moet verander in ons lewens.
Soek vir God en nie net die deurbraak nie. Kom ons maak tyd om regtig sy aangesig te soek.
Dit maak ’n groot verskil om Hom te soek en nie net die deurbraak nie. Moenie net bid vir jou antwoord op die gebed nie, maar bid omdat jy regtig ’n verhouding met Hom begeer.
Onthou om te wag is nie altyd sleg nie, alhoewel dit só voel. Om te wag is partykeer nodig om ons karakter te vorm. Kyk maar na Josef, Abraham, Isak – so baie mense moes gewag het. Mag dit vir jou regtig net ’n aanmoediging en bemoediging wees.