“Jy kán goed voel en jy kán goed lyk. Gesond eet, aanvullings en veranderinge aan jou dieet kan ’n reuse-verskil maak,” het die dieetkundige AMANDA KUIT tydens ’n #MentorMaandag-lewensafrigtingsessie gesê.
Wat is die impak van gesond eet op hoe ek lyk en voel?
Waarna kyk ons as ons kyk na hoe ons lyk? Is my oë glansend? Is dit wit? Is my hare gesond? Blink dit of val dit uit? Is my naels mooi? Hoe lyk my vel? Is ek vet? Is ek maer? Het ek spiere? Is ek tinktinkie klein?
As jy goed lyk, gaan jy goed voel. En as jy goed voel, gaan jy goed lyk. Dit is waarom eet ’n belangrike rol speel.
Verskillende lywe en voorkomskwessies kan verander word deur sekere nutriënte in ons diëte terug te sit.
Eet gesond om goed te lyk en te voel
Iets wat ons al hoe meer algemeen sien is dat mense te min proteïene inneem en daarom kry hulle ystergebreke.
Oë kan ’n aanduiding gee of ’n persoon ’n ystergebrek het. As jy jou oog aftrek en dis baie wit aan die onderkant, weet ons daar is te min yster in jou bloed. Jou hare kan ook uitval en jou naels kan begin breek.
Baie mense het ’n ystertekort, omdat hulle diëte nie genoeg yster bevat nie. Ons eet nie meer genoeg rooivleis nie en eet dalk te veel geprosesseerde kosse. Wat moet ons doen sodat ons hoë ystervlakke het om beter te voel en meer energie te hê?
As jy rooivleis bestel, eet dit altyd saam met ’n sous met ’n tamatie-basis. Die vitamiene C in die tamatie help jou liggaam om yster te absorbeer.
Jou maag speel ook ’n belangrike rol as dit kom by ysterabsorpsie. As jou maag te veel suur het beteken dit dat jy nie yster doeltreffend absorbeer nie.
Dit sien ons baie met stres. Mense wat geweldig stres kry maagsere, dit kan bloei en die maag raak van so aard dat dit nie yster kan absorbeer nie.
Die regte dieet help met ’n gesonde vel
Wanneer jou vel droog begin raak weet ons daar is ’n tekort aan olies in jou liggaam, spesifiek omega-3.
Deur eenvoudige veranderinge aan ons diëte te maak, is daar maniere om hierdie omega-3 en homo-versadigde vette in te kry.
Daar is tablette daarvoor, maar uiteindelik is dit belangrik dat ons wel die vars produk inkry.
Met ander woorde ons moet vis inkry. Omega-3 kry ons ook in avokado en neutolies.
Ons almal weet al van EPA, dit is ’n visolie, maar dan kry ons ook DHA. Dit is ’n visolie wat geweldig belangrik is vir anti-inflammatoriese prosesse.
Dit kry ons ongelukkig net in ’n paar vissoorte – kabeljoulewer, haring en makriel. Dit is ongelukkig vissoorte wat ons nie sommer eet nie.
’n Aanvulling wat ek voorstel is die outydse Scott’s Emulsion, dit is kabeljoulewerolie.
Ons oumas het geweet wat hulle doen toe hulle dit vir ons gegee het.
As jy geneig is om nie baie vis, avokado, neute en so aan te eet nie en jou vel is baie droog, begin ’n bietjie Scott’s Emulsion gebruik en kyk hoe jou vel verbeter. Vir die mense wat wel vis wil eet, stel ek sardientjies voor.
Verbeter jou gesondheid met die regte kos
Vesel is nog ’n nutriënt wat geweldig belangrik is. Dit kan jou help gewig verloor, jou kolon herstel, jou immuniteit verhoog en help dat jy nie honger word nie.
Weens hedendaagse geprosesseerde kosse kry ons nie die hoeveelheid vesel in wat ons moet nie. Ons moet minstens 40 tot 50 gram vesel inkry. Omdat ons vir so lank nie soveel vesel inkry nie, krul ons van die pyn as ons dit wel eet omdat ons kolon dit nie kan hanteer nie.
Daarom is ’n stelselmatige verhoging van vesel noodsaaklik. Gaan kyk ’n bietjie op die etikette van die produkte wat jy koop en probeer net tien gram vesel op ’n dag inkry. Selfs tien gram vesel gaan jou beter laat voel en help om gewig te verloor. Stoot dit dan geleidelik op.
Onthou groente is ’n uitstekende bron van vesel, so ook vrugte. Pasop net vir vrugte, want dit het suiker in.
Deur klein veranderinge te maak aan jou dieet, ’n bietjie meer te oefen, al die voedselgroepe in te kry en jou porsies ’n bietjie minder te maak kan jy baie beter lyk en voel.