Plek vir ma–wees was daar nie. Boonop ’n ma van twee dogtertjies? Nooit! Maar die lewe is vol verrassings, en só ontdek REANDI GREY haar grootste avontuur.
Rabbedoes kan mos nie dogtertjies grootmaak nie
Uiteindelik! Die langverwagte dag het aangebreek … ons genderreveal.
Is ek swanger met ’n dogtertjie of ’n seuntjie?
Die afwagting is naelbytopwindend vir my man, Dewald, en die familie en vriende wat almal met óf ’n pienk óf ’n blou dekor-dingetjie om die nek staan.
Elke gas kon vooraf “stem” oor die geslag van ons eerstelinglyfie wat so knus hierbinne groei.
Maar vir wat raai hulle nog? In my hart is daar al lankal sekerheid oor dié babatjie … Dis ’n seuntjie. Beslis.
Hoe anders, met so ’n tomboy van ’n vrou wat binnekort vir die eerste keer ma gaan word?
My gedagtes dwarrel terug kinderjare toe.
Ma Elza sê ek was ’n vriendelike, vreugdevolle en uitbundige dogtertjie. Baie lief vir mense.
Oupa Willie se plaas was my gunstelingspeelplek in die hele wêreld. Ons sou skaars aanland, of ek het oor die plaaswerf verdwyn. Reguit varkhokke toe. Dit het gestink en lawaai, maar ek was mal oor dit!
Met my kaal voete het dit fyntrap gekos tussen die duwweltjies, maar ek het nie omgegee nie. Alles was so lekker.
Toe ek agterkom my oupa het ’n windbuks, wou ek dadelik iets daarmee platskiet.
Oupa wys toe hoe die roer werk en sê die vinke is besig om sy plaas uit te roei.
Vir elke geelvink sal hy 50 sent gee. Vir elke rooivink, ’n volle rand.
Ek is baie lief vir diere en die natuur, maar hierdie was presies die soort uitdaging vir ’n girl wat ewig-avontuurlustig en altyd reg vir iets nuuts is.
Mawees was nie deel van my toekomsplanne nie
Kort voor lank het ek teruggekeer met twee hande vol voëls wat sonder seremonie aan hulle stertvere aangedra is.
Wie sou kon raai dat ek sommerso, sonder dooierus, kolskote sou skiet?
“Jy gaan my bankrot maak!” is al wat Oupa kon uitkry.
Sien? ’n Wildewragtig in murg en been!
Ek vermoed my stemmige, agtermekaar sussie, Lené, het haar lewe lank gevoel sy word groot saam met ’n boetie. Die rowwe een wat net wou stoei en rol.
Sy wou rustig wees. Ek wou sports en aksie hê.
Sy het met Barbie gespeel. Ek het hulle hare gekleur en kortgesny. Nie uit wraaksug nie, maar omdat ek gevoel het: “Hierdie is boring. Ons kort ’n funky Barbie.”
En nou, ná al die jare, was ek op die punt om vir die eerste keer ’n mamma te word en regtig “pop” te speel.
Mawees. Dit was ’n gedagte om aan gewoond te raak.
In die tyd voor ek myself gevind het – vóór ek en Liewe Jesus op dieselfde bladsy gekom het – was kinders nie ’n opsie nie.
Ek wou die wêreld vol toer. Elke dag iets nuuts sien, proe, ruik en beleef.
Dit was buite die kwessie om op een plek te bly. Om ’n huis te besit, was ver buite my beplanning, want ek wou enige tyd my reistasse kon pak en kom en gaan soos ek wil.
Buitendien, vindingrykheid en kreatiwiteit is diep in my menswees geweef. Ek kan om die dood toe nie stilsit en net een ding doen nie.
Dit was nog altyd só.
Van ergste teleurstelling tot grootste vreugde
Ons het in ’n huis grootgeword waar daar gewerk is vir sakgeld. Dit was dak verf, kar was of bossies uittrek.
Om ekstra sakgeld te verdien, het ek ou klere en speelgoed op die sypaadjie begin verkoop.
Smiddae en naweke is ’n tafel en stoel na buite gedra, en die klere aan hangers op die draadheining uitgestal.
Huistoegaan-tyd, wanneer die werkers in die strate afgestap het, is hulle al wuiwend en fluitend nadergeroep.
“Kom kyk, hier’s klere!”
My klerehandelsmerk, GreyC, het juis vanuit hierdie innoverende streep ontstaan.
Op hoërskool was ek erg verveeld met die modes in die klerewinkels. Dit was net nooit kleurvol of interessant genoeg nie.
Toe vat ek verskillende kledingstukke, sny dit op en werk dit rond en bont aanmekaar vas.
So ja, baie beter!
En nou, as getroude vrou, was ’n splinternuwe hoofstuk op die punt om te ontvou.
Ek vryf oor my swanger magie. Vyf-vier-drie … die groot revealoomblik is hier.
BAH! Die kleur-rookbom skiet oop, en alles is … PIENK!?
Ek snak na my asem. Probeer opgewonde lyk, maar die ontnugtering is te groot. Hoe is dit moontlik?
Dewald gooi sy arms om my lyf, druk my vas, en juig van vreugde. Sy stralende gesig maak die hele affêre effens beter.
Ons verwag ’n dogtertjie … en hy is so bly. Ek wens skielik ek kan ook só voel. Dis baie erg. Ek is diep geskok.
Hoe kan die Here vir ’n tomboy ’n dogtertjie gee? Ek is dan so lief vir my sussie se twee seuntjies.
Hoe gaan iemand – wat terstond weier om pienk te dra, wat blinkertjies haat – ’n meisietjie groot kry? Daar is nie eens ’n greintjie girly-girl in my hart nie!
Ek moes ’n pad saam met die Here stap om aan die idee gewoond te raak, maar Hy het vir my vrede en aanvaarding gegee.
Dogtertjie-mawees is my beste avontuur
Daar is absoluut niks in hierdie wêreld – geen kursus, boek of podsending – wat ’n mens kan voorberei vir die oomblik wanneer jy daai kleintjie in jou arms vashou nie.
Eers tóé het ek besef dat ’n mens alles sal opoffer en enigiets sal doen om hierdie klein, sagte lyfie soos ’n tierwyfie te beskerm.
Die wonderlikste van die geboorte was Dewald se metamorfose van eggenoot na pa. Ek het hom toe reeds baie lank geken – as vriend, man, minnaar, lewe-van-die-partytjie.
Maar ek het hom nie geken as ’n pa nie.
Die dag van ons eersteling se geboorte was die dag wat ek van vooraf op Dewald verlief geraak het. Net die manier waarop hy na haar gekyk het … Hoe hy haar vasgehou het …
Dit was ook die eerste keer wat ek my man sien huil het.
Daar het ’n sagtheid oor hom gekom, en om dít te beleef, was ongelooflik spesiaal.
Nou is hy die trotse pa van twee dogtertjies – Heidi en Lente.
Vandag kan ek my glad nie indink as ’n seuntjie-ma nie. Die Here het my werklik kom oortuig: Ek en dogtertjies is perfekte pasmaats!
Dis asof die tweetjies ’n deel hierbinne laat ontluik het waarvan ek nie bewus was nie.
Hulle is my grootste avontuur. En ek was verniet bang. As ma is daar is nie ’n oomblik van stilsit of verveling nie.
Dit was ook ’n reuseverrassing om te ontdek dat meisies-grootmaak die perfekte balans tussen twee wêrelde is. ’n Mens kan steeds bal skop, lekker stoei, en as hulle ouer is, gaan jag of visvang. Maar ek kan hulle ook mooi aantrek, haartjies vleg en saam in fantasie-verbeeldingsvlugte verlore raak.
Kantnota: Pienk het sowaar my gunstelingkleur geword!
Kinders laat jou selfondersoek doen
Ek is dolverlief op elke aspek van mawees. Daardie lekkerte om net weer kind te wees saam met hulle. Om kaalvoet te loop, simpel grappies te maak, in snaakse stemme te praat, woefies op die mat te wees, op die gras rond te rol of in bome te klim. Kortweg, om net weer die lewe sorgeloos te geniet.
Dis wonderlik om te sien hoe hulle daagliks nuwe woordjies aanleer en dinge onthou. Om te ervaar hoe elke dag jou kinders se beste dag nog is, want elke nuwe dag bring iets wat hulle nog nooit beleef het nie.
Dis ook ongelooflik hoe die kleintjies mý geleer het om ’n beter mens te wees.
Hulle is ’n voorbeeld van suiwerheid (purity), omdat hulle presies is wie hulle moet wees – onaangeraak deur die wêreld.
Hierdie onskuld het iets binne my wakker gemaak.
Heidi en Lente het my laat inwaarts kyk; skaam laat besef hoe negatief ek kan wees. Hoe afbrekend ek soms oor myself praat.
Dit laat ’n mens twee keer dink, want ek sal nooit wil hê hulle moet doen wat ék doen nie: oorsensitief wees, sleg oor hulleself voel, tob oor selluliet of ander nietige dingetjies.
Hierdie gewaarwording was ’n aansporing om te fokus op dít waarmee die Here my geseën het. Om slegs begaan te wees oor die identiteit wat Hý my gee.
Die goue lewensles wat ek my dogters wil leer, is dat die Here die enigste weg, waarheid en lewe is. Ander afdraaipaaie gaan jou laat vasval.
En my grootste wens is dat hulle eendag Spreuke-vroue sal wees. Vroue van deugsaamheid en moed, iemand wat hoop weerspieël en ander inspireer.
Dán sal ek net so ’n goeie dogtertjie-ma en voorbeeld soos my eie ma wees.