Suid–Afrika se sprokieskoningin ROLENE STRAUSS het al die wêreld aan haar voete gehad, maar die pad na haar beste self is nog nie klaar nie.

Besef dat ware aanvaarding van binne kom

“Mense kyk na my en van ver af lyk dit of ek alles het. Of dinge in my skoot geval het.” so sê Rolene Strauss

In die media en op sosiale media word die perfekte prentjie geskets, maar eintlik is ons almal geneig om net die mooi en lekker dinge te wys en te vertel.

Maar kom ’n bietjie nader en jy sal agterkom ek is net ’n gewone mens. Ek het al ongelooflike geleenthede gehad.

My lewe is ’n seëning, ’n wonderwerk, en ek is baie dankbaar vir alles.

Maar ek ken ook moeilike tye. Daar was ook talle uitdagings waardeur ek moes worstel.

Om die waarheid te sê, ek werk elke dag hard daaraan om die beste weergawe van myself te word – en dit is nog ’n lang proses.

Een van my grootste uitdagings is om nie in iemand anders se boksie te probeer pas nie.

Mense bewonder my en verwag ek moet op ’n sekere manier optree. Hulle wil nie sien dat ek moeg lyk, gewig aangesit het of moedeloos voel nie.

Ek respekteer dit en sal altyd my bes doen om seker te maak dat die eerste indruk wat jy van my kry, die beste indruk is. Ek beleef egter ook maar die wisselvallighede van elke dag.

Die ding van boksies is dat ons geneig is om onsself in ’n boksie te plaas.

So het ek al gevoel ek moet lyk, praat en optree soos die mense wat ek as rolmodelle beskou.

Noudat ek ouer is, besef ek hoe belangrik dit is om jouself te aanvaar.

As jy dit begin doen, sal jy nooit regtig tweede kom nie. Selfs as ek val, spoor dit my aan om harder te probeer.

Aanhouer wen!

Ongeag alles wat ek bereik het, sukkel ek soms om te aanvaar dat ek goed genoeg is, net soos menige ander vrou en ma.

Daar is tye dat ek voel ek is nie mooi genoeg, maer genoeg, intelligent genoeg nie … Ons dink mos altyd daar is iemand wat beter is as ons. Dit is ’n konstante ding waarteen ek daagliks ’n stryd voer.

’n Ander uitdaging waaraan ek moet werk, is om nee te sê. Ek sukkel nog daarmee.

Ander se bewondering bepaal nie jou waarde nie

As ek na ’n geselligheid uitgenooi word, word daar altyd verwag dat ek mense moet toespreek. Dit word gevra uit liefde, en ek doen dit met graagte, maar ek is nog jonk.

Soms, veral as dit by geestelike sake kom, voel ek ek moet ook net kan luister. Om self deur ander geïnspireer te word. Om by mense wat ouer en wyser as ek is, iets te leer.

Met ’n man en kinders besef ek ook dat om partymaal nee te sê, beteken dat ek ja sê vir my gesin.

Vir party dinge in die lewe moet jy net nee sê, al lyk of klink dit ook hóé belowend. As dit nie goed is vir jou siel nie, is dit nie die moeite werd nie.

Ander kere neem die lewe namens jou ’n besluit, en dan hang dit van jou af hoe jy dit gaan hanteer.

Ek het geleer dat ek sterker is as wat ek dink, en dat ’n mens baie meer kan hanteer as waarvoor jy jouself krediet gee.

Om ma te word, was ook ’n goeie ding omdat dit my onselfsugtig gemaak het.

Daar is nie ’n beter leermeester as ’n baba om enige sweempie van selfsug te laat verdwyn nie.

Ná my jaar as Mej. Wêreld het ek met ’n verdere skok besef dat wanneer jy jou drome en doelwitte bereik het, jy nie kan terugsit en ophou leef nie. Ek moes nuwe drome skep en najaag.

Ek wil ’n verskil maak.

As vroue is ons geneig om tyd aan almal behalwe onsself te bestee. Ander dinge kom altyd eerste – man, kinders, huishouding, werk. Maar ons moet juis self gesond wees om ons beste vir ander te kan gee.

Dit bly maar my grootste hartsbegeerte, my roeping: om mense se lewe op ’n positiewe manier te beïnvloed.

Ek bid elke dag vir wysheid; nie net in hoe ek my seuns en ander se lewens benader nie, maar ook in my eie.

Alles wat ek aanpak, wil ek graag tot die beste van my vermoë doen. Ek wil saadjies van hoop, lig en lewe plant, oral waar ek gaan.

Met genade en harde werk glo ek dat ek ook hierdie droom sal verwesenlik.

Vir soortgelyke inhoud, soos die artikel van Rolene Strauss, kliek hier:
Mensstories
Artikels, Video, en Oudio