JOHANNI STEENKAMP, suksesvolle besigheidsvrou, voorkomskonsultant en prokureur, het besluit dat vrees en verwerping haar nie gaan terughou nie.
Ek weet hoe ongevraagde kritiek, die vrees vir oud word en die liefdeloosheid van eensaamheid ’n vrou laat voel.
Ná ’n baie moeilike tyd het ek geleer om my skuldgevoelens met selfvergifnis te vervang. Maar eers moes ek self seergekry het, verwerp geword het.
Sonder die winter in my lewe sou ek nooit hierdie empatie vir die broosheid in vroue ontwikkel het nie. Ek sou dalk nie regtig verstaan het waar hulle vandaan kom nie.
Gebruik vrees en verwerping om sterker te word
Vroue voel dikwels hulle is nie genoeg nie – nie mooi genoeg nie, nie slim genoeg nie en ook nie maer genoeg nie. Ek het ook vir baie lank só gevoel. Maar ek sien myself nie meer as ’n slagoffer van swaarkry nie, eerder as ’n sterk vrou met wie ander vroue hulle kan vereenselwig.
’n Onbeplande swangerskap in die finale jaar van my studies, liefdesteleurstellings, my ouers se egskeiding en my pa se dood het my so geruk totdat daar niks meer van my selfbeeld oor was nie.
Ek moes myself bewys. Hard werk vir my plekkie in die son.
Alles het begin uitwerk. Of só het ek gedink. Ek was maer en mooi, baie suksesvol, maar die seer was steeds daar. En daarom het ek nog harder gewerk.
Nadat ek vir uitbranding in die hospitaal opgeneem is, het ek besef dat ek op autopilot was en nie doelbewus die lewe gekies het nie. Ek was moeg om elke dag sukses na te jaag.
Elke pynlike ervaring, elke fout wat ek gemaak het, het my voorberei op iets groters. Ek het insig gekry. Insig wat ek kan gebruik om vroue te help. My doel is nie meer om rykdom na te jaag nie of om myself aan ander te bewys nie. Maar om eerder van myself vir ander te gee.
Ek wil elke vrou gerus stel, sodat sy haarself kan wees. Sy moet weet dat sy haarself nie hoef uit te brand om suksesvol te wees nie.
Kies om gelukkig te wees, want jy verdien niks minder nie. Praat mooi met jouself. Lag genoeg, doen iets lekker, leer uit jou foute en jou teleurstellings en wees lief vir jouself.
Neem jou tekortkominge, of dit seerkry, eensaamheid, gewigsprobleme of ’n swaar gemoed is, en transformeer dit in ’n sterker jy.