Die aktrise JANA KRUGER (vroeër Strydom) beur nie meer stroomop teen die lewe se uitdagings nie. Sy het geleer om rustig saam met die vloei te beweeg.
Enige lewensles wat jy vermy kom aanhoudend na vore
Jy hoef nie ontsteld te raak, bekommerd te wees of vas te skop teen die uitdagings van die lewe nie. Kyk dit in die oë, voel dit, verwerk dit en wees oop vir waarheen die kronkels in die pad jou lei.
Dis hoe ek geleer het om my lewe te leef – en dit het vrede en rustigheid in myself gebring.
As ek terugkyk oor my lewe, kan ek ’n klomp karteringspunte – soos merkers op ’n kaart – in my lewe identifiseer; dinge wat my oortuig het dat alles saamwerk volgens ’n perfekte orde, ’n groter en beter plan.
Of jy nou altyd daarmee saamstem of nie.
Ek het geleer daar is ’n natuurlike vloei aan die lewe, en wanneer jy dit regkry om saam met die vloei te beweeg, is dinge makliker.
Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles, en ons kan baie meer daaruit put as ons ons ingesteldheid verander.
Dis wanneer ons ons verset en dit wat die lewe bring, probeer vermy dat ons pyn beleef.
Daardie “dis-ease” (ongemak) wat selfs tot “disease” (siekte) kan lei.
My ondervinding is dat enige lewensles wat jy probeer vermy, aanhoudend na vore sal kom totdat jy dit geleer het. Carl Jung het dit só gestel: “What you resist, persists.”
Een van die groot lesse waardeur ek weer en weer moes worstel tot ek dit onder die knie gekry het, was die een oor vertroue.
Die regte lesse kom op die regte tyd
My arme Hannes. Hy moes ’n lang pad saam met my stap totdat ek hierdie wantroue en onsekerheid kon afskud en besef het dat ek hom kon vertrou.
Uiteindelik kon ek weerloos voor hom staan en sê: “Ek besef jy aanvaar my, jy kies my en is lief vir my net soos ek is. En ek voel dieselfde oor jou.”
Die belangrikste lesse oor liefde en oor God het ek by hom geleer. Dinge soos om onvoorwaardelik liefde te kan gee en te ontvang. Ook teenoor jouself.
Die lewe het my ook dapperheid geleer, met my pa se afsterwe. Ek was pas mondig en baie hartseer, want ek het gevoel ek gaan baie dinge misloop.
Daar was nog baie aspekte van hom wat ek wou leer ken het, dinge wat ek by hom wou leer en uitvind.
Die bron van my hartseer was eintlik selfsug; en uit hierdie insig is dapperheid gebore.
“My pa is piekfyn waar hy nou is,” het ek besluit, en toe kon ek rustig raak in die wete dat ek ook oukei sal wees.
Nog ’n les wat op die regte tyd gekom het, was geduld. Die dag toe ek ’n ma word, het ek besef dat ek eintlik glad nie ’n geduldige mens is nie! Daar is nie ’n beter leermeester vir geduld as ’n kind nie.
Die wêreld is nog so nuut vir hulle, en soos met die meeste eerstes vat dit tyd om dinge te ondersoek en te bemeester.
Tyd … daardie begrip wat ongelooflik kosbaar is as jy die dag ’n ouer word.
Die stroom van die lewe leer jou belangrike lewenslesse
Ek het gou besef geduld is noodsaaklik as ek nie ’n kwaai of gefrustreerde mens wil wees nie.
Hoe jy ander hanteer, is eintlik maar net ’n weerspieëling van hoe jy hier binne voel.
Ware groei kom van binne af, het Jim Kwik voorgestel met sy beeld oor ’n eier wat breek. “If an egg is broken by outside force, life ends. If broken by inside force, life begins.”
Groot dinge begin altyd in die binnekant.
Die lewe het my verder gewys dat ek minder aan myself moet twyfel.
Daar was al duisende kere dat ek gewonder het of ek goed, slim, mooi of talentvol genoeg is.
Perspektief het ’n baie kragtige begrip geword. Die manier hoe ons dink, praat en dinge hanteer, bepaal ons realiteit. Ek het besef dat die geskenk van die lewe gevind word in die verskuiwing van dit waarop ek fokus.
Deesdae fokus ek daarop om op te tree vanuit liefde, teenoor myself en ander mense.
Ek druk deur die beperkings van vrees en glo dat ek deur God ondersteun word.
Alles begin met hoe jy oor jouself voel. Ek moes begin waardig voel en glo dat ek die beste het om te bied, en dat ek die beste sal ontvang.
Met die lesse wat ek tot hier toe in die stroom van die lewe geleer het, is ek vandag gelukkig, vervuld en tevrede. Ek het alles waarvoor ek ooit kon gevra het, en meer.