Hoe jy oor jouself voel is ‘n keuse. NATASHA SUTHERLAND het die besluit geneem om haarself vry te maak van selfoordeel en gelukkig te wees met wie sy is.
Selfaanvaarding lei jou na tevredenheid en geluk
Ek is genoeg. Ek het genoeg gedoen. Ek doen genoeg. En ek wil soveel moontlik van hierdie tevredenheid ervaar as wat ek kan.”
Natuurlik raak ek steeds nou en dan angstig, maar deur gebed, draf en terapie het ek begin om my vrese beter te bestuur.
Ek is baie sterker as wat ek besef.
Om ouer te word, is ’n natuurlike deel van die lewensiklus, maar waarmee ek sukkel, is die feit dat vroue nie graag daaroor praat nie. Tog is die veranderinge wat ’n mens se liggaam ondergaan, nogal dramaties.
Dalk omdat ons in ’n samelewing leef waar alles wat goed is, net mooi en jonk en gelukkig is.
Dit is die gedagtes van ’n vrou wat by haar vervaldatum kom sodra sy ’n sekere ouderdom bereik.
Soms voel dit ook vir my asof die samelewing net positiewe emosies en optrede goedkeur. So asof jy minder aanvaarbaar gaan wees sodra jy dit durf waag om te wys dat jy kwaad of hartseer is.
Maar hierdie gevoelens is deel van wat ons mens maak. Wanneer ons nie aan hierdie emosies uiting gee nie, krop ons dit op en gaan dit êrens langs die pad ontplof.
Daar is niks verkeerd daarmee om soms hartseer te wees nie. Ek laat die pyn kom en laat die emosies oor my spoel. Ek probeer dit nie wegredeneer nie. Dis ’n hartseer – nie tragies of dramaties nie – net seer en dis reg, want dis hoe genesing kom.
Moenie dat selftwyfel jou vrede steel nie
Ek wil hê my seuns moet weet dat hulle die reg het om hierdie emosies te voel. Dit is oukei om hartseer of kwaad te voel. Selfs al is hulle buierig of doen hulle sleg in ’n toets of haal nie die sokkerspan nie, is hulle steeds so perfek soos wanneer hulle presteer en positief voel.
Hoe jy oor jouself voel, is steeds ’n keuse!
Al kan party mense se menings jou vernietig, is daar weer ander mense wat jou troetel en heelmaak. Jy moet ook toelaat dat mense jou help en ondersteun.
Die truuk is om grense te stel. Grense aan jouself oor hoeveel jy gaan toelaat dat ander se opinies jou beïnvloed.
As daar kritiek is wat ’n snaar in jou raak, moet jy dit erken en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Dit vereis dat jy met absolute eerlikheid in die spieël kyk – iets wat nogal pynlik is.
Die maklikste is om iemand anders die skuld te gee, maar die gevoel van vrede wat saam met die dapper erkenning van foute kom, is ongelooflik.
Dis ook baie genesend.
Om verantwoordelik te wees vir jou eie pyn, help jou om God se genade raak te sien. Dit was nooit weg nie! Nou kan jy jouself van selfoordeel bevry.
Ek het gekies om te groei. Ek het gekies om die lig aan te sit. Ek is besig om groot te word.
Wanneer ek vergelyk, oordeel ek outomaties – ek verloor energie, lewensvreugde en voel soos ’n totale mislukking. Ons almal voel soos mislukkings.
Selfaanvaarding en liefde moet van binne kom
Dis asof ’n mens nooit versadig is nie, nie genoeg van negatiwiteit kan kry nie. Ek probeer dus om my persepsie van die wêreld te verander.
As jou bron van liefde en selfaanvaarding van buite kom, kan dit maklik gebeur dat jy jouself sulke goed wysmaak. Dan is jy soos ’n stukkende rondomtalie in ’n vergete park.
My behoeftes is eenvoudig: Wees lief vir my, en ek sal blom. Los my, en ek val uitmekaar.
Ek het ’n dankbaarheidstoepassing op my foon gelaai waarmee ek ook met foto’s kan rekord hou van dit wat ek wel het en nie dit wat ek myns insiens kortkom nie.
Dit is regtig nie so moeilik om genoeg goed te kry om elke dag dankbaar voor te wees nie.
Ek moes wel my brein herprogrammeer om te kies om gelukkig te wees en om net met ’n ander perspektief na die lewe en myself te kyk.
Ek moes ook weer begin glo het dat ek die moeite werd is. ’n Liefdesjoernaal waarin ek al die redes neerskryf waarom ek kosbaar en spesiaal is, help my om aanvaarding en liefde van binne te vind.
Dis ’n wonderlike plek om te wees! Ín daardie oomblik met die wete dat ek genoeg is, dat ek geliefd is en dat ek niks hoef te doen om daardie liefde te verdien nie. Ek word bemin net omdat ek bestaan.