Fokus veel meer op jou innerlike

Vyftig jaar gelede het ’n bloedjong ANNELINE KRIEL die Mej. Wêreld-kroon verower. Die jare het ’n diep wysheid, rustigheid en aanvaarding gebring.

Die waarde van die dinge wat jou selfvertroue bou

Wanneer ek terugkyk oor my lewe en grootwordjare, besef ek die waarde van balans tussen die dinge wat jou selfvertroue bou en krenk. Dis hierdie positiewe en negatiewe ervarings wat gehelp het om my voete plat op die aarde te hou.

Herinneringe soos my pa se ou 1955 Chevy. Hy was so trots op sy kar. ...

Vyftig jaar gelede het ’n bloedjong ANNELINE KRIEL die Mej. Wêreld-kroon verower. Die jare het ’n diep wysheid, rustigheid en aanvaarding gebring.

Die waarde van die dinge wat jou selfvertroue bou

Wanneer ek terugkyk oor my lewe en grootwordjare, besef ek die waarde van balans tussen die dinge wat jou selfvertroue bou en krenk. Dis hierdie positiewe en negatiewe ervarings wat gehelp het om my voete plat op die aarde te hou.

Herinneringe soos my pa se ou 1955 Chevy. Hy was so trots op sy kar. En ek, so skaam!
As kind het ons op ’n gevangenisterrein gewoon, ongeveer 11 kilometer buite Witbank, waar Pa ’n majoor was.

Minderwaardig. Dis hoe dit gevoel het om buite die dorp te bly. Ver van alles af. Te ver om na partytjies uitgenooi te word, want ek kon nie daar uitkom nie.

Dit was ook veral moeilik om naskoolse aktiwiteite by te woon, want my ma kon nie bestuur nie. Daarom is daar elke dag ná skool agterbly tot Pa my kon oplaai en huis toe vat.

Om boonop in sy groot, ou Chevrolet te ry, was ’n dubbele skaam-kry.
Dit het altyd gelyk of al die ander kinders se ouers moderne motors gehad het, net nie ons nie. As daar dus dorp toe gery is, het ek agter die sitplek weggekruip om seker te maak niemand herken my nie.

Jare later op universiteit, het ek steeds vir Pa gevra om om die hoek te parkeer wanneer hulle kom kuier het. Niemand moes my tog langs hierdie ou kar sien nie!

Vandag voel ek so sleg oor die Chevy-storie – maar dit het my definitief nederig gehou.

Daar was ook ander onthou-oomblikke wat goeie karakter help bou het.

Kyk beter na jouself en jy sal mooier voel

In die laaste jaar op skool het my selfbeeld blykbaar goed herstel.

My Ekonomie-onderwyser, mnr. Schoeman, het dié staaltjie tydens ’n onlangse skoolreünie vertel. Dit het my asem weggeslaan.

Voor die matriekeksamen het hy die hele klas gevra wat hulle eendag wou word. Een het gesê ’n dokter, ’n ander ’n prokureur, en so aan. Toe hy by my kom, het ek blykbaar my hande dramaties in die lug gegooi en gesê: “Mej. Wêreld.”

Ek kan nie verduidelik hoe so iets uit my mond gekom het nie … Ek het nie eens geweet daar bestaan so ’n kompetisie nie. Dalk was ek net verlig om klaar te maak met skool en wou snaaks wees.

Nietemin, my universiteitsvriendin Hermien sê: “Dis nou wat ’n mens self-profesie noem!”

Ek het vroeg in my lewe van skoonheid bewus geraak. Om reeds as baba ’n kompetisie te wen, tel nie eintlik nie. Maar op universiteit het ek ná my verkiesing as joolkoningin besef ek is seker mooi.

Dit was onskuldige studente-pret om geld in te samel, maar tog ook ’n groot eer. Daar het ek besef dat hoe meer en beter ’n mens na jouself kyk, hoe mooier sal jy voel en lyk.
In my oë het elke jongmens die skoonheid van jonk wees – maar dit hou definitief nie vir altyd nie.

Vir my dogters, Whitney en Tayla, sê ek graag geniet julle jong lewe, maar werk ook aan persoonlikheid en karakter. Dinge soos vriendelikheid, lojaliteit en opregtheid, want die lewe kan soms wreed wees.

Fokus op die skoonheid wat van binne kom

Op skool was ek ’n uitstaande kortafstandatleet. Dit het my populêr gemaak – selfs hoofmeisie in standerd vyf.

Maar ek is ’n goeie knak by ’n atletiekbyeenkoms toegedien, toe ’n groepie seuns verbyloop en laggend vra of ek vleis verkoop.

“Nee …?” antwoord ek, verbaas-onskuldig. Hulle lag en kyk af na my bene, en toe verstaan ek … Hulle bedoel dit is dik en fris. Van toe af was ek selfbewus oor my bobene.

Meer onlangs, tydens ’n inkopie-sessie, het ’n vrou my by die betaalpunt herken.

“Hemel, jy is Anneline Kriel!” En toe: “Jy het lekker vet geword, nè?”

Al wat ek kon doen, was om te glimlag en “ja” te sê. Wat verwag sy? Ek is mos nie meer 19 nie.

Gelukkig is ek lankal nie meer liggeraak nie. ’n Sin vir humor en om nie bang te wees om vir myself te lag nie, help ook baie.

Uiterlike skoonheid het baie geleenthede oor my pad gebring, maar ook hartseer.

Ek moes byvoorbeeld destyds kies tussen die Mej. Wêreld-kroon en my jong Tokkelok- (Teologie) studenteliefde, Jacques Malan. Dit was hartverskeurend moeilik. As ek “nee” gesê het vir die kroon, sou ons sekerlik ’n toekoms saam gebou het.

Ná Mej. Wêreld, as model in New York, was daar ook die besef dat skoonheid ’n mens nie uniek maak nie. Baie van die modelle was beeldskoon, en as jy nie ’n werk aanvaar nie, was daar altyd ’n ander, mooier model wat jou plek kon inneem.

Dit het my geleer: Pas jouself op, maar fokus veel meer op jou innerlike – want dís wat die toets van tyd sal deurstaan.

Deel die artikel

Méér artikels

Sangeres en TV-aanbieder LEAH is positief, energiek, gewild, talentvol en het altyd ’n breë glimlag. Hoe bly sy positief, gelukkig en koester haar uniekheid? Wat ...

ELIZMA THERON het al groot hoogtes bereik as sangeres, aktrise en model, maar dié ma van twee weet dat haar gesin veel belangriker as roem ...

Scroll to Top