RIANA NEL weet waarheen om te gaan om op elke gebied vrede, geluk en sukses te vind. Sy vind dit in die teenwoordigheid van die Here.
Minder oor my en baie meer oor God
Die lewe behoort minder oor “ek” te gaan, meer oor ander, en baie meer oor God.
Toe lockdown gebeur het, was ons derde seuntjie, Estian, pas gebore. Vir ’n tyd lank het ek net lekker by die huis gespeel met die nuwe baba en is daar nie veel gedink aan werk nie.
Maar ná ’n rukkie het ons besef kunstenaars gaan nie gou weer optredes kan doen nie.
Dis toe dat my man, Cornel, voorstel dat ek liedjies vir mense begin skryf.
Op ’n manier was ek daaraan gewoond om voor groot gehore te staan en my eie storie te vertel. Maar deesdae luister ek meer na ander mense se stories en dien húlle met musiek.
Dit was nogal skrikwekkend aan die begin, want sê nou mense hou nie daarvan nie.
Soos almal, is daar ook in my ’n stukkie twyfel oor die impak wat ek kan maak.
Tog was die gevoel wat op my hart gedruk het, baie duidelik.
“Riana, comfort My people.”
Ek was nie seker wat dit beteken of hoe om dit te doen nie, maar toe die navrae begin instroom, is daar gou besef dít is wat die Here wil hê.
Elke liedjie is ’n reis waaruit ’n mens iets spesiaals leer. Elkeen se storie roer jou op ’n ander vlak van menswees. In my hart lag en huil ek saam.
In die meeste gevalle loop daar ’n goue draad van dankbaarheid deur die liedjies.
Dis so mooi om te ervaar hoe mense mekaar waardeer …
Ons is geneig om eerder met mekaar fout te vind en te baklei, terwyl die “oorlog” eintlik in die hemele afspeel. Dit laat my heeltemal anders na mense kyk; ook na dié wat my te na gekom het.
Op my beurt waardeer ek die reuse-voorreg dat mense my genoeg vertrou met hulle stories; selfs al bly dit elke keer senutergend om ’n liedjie te stuur en te wag vir die reaksie.
Nog iets wat die liedjieskrywery kom leer het, is dat een mens net so belangrik is soos ’n hele gehoor.
Elke persoon is kosbaar vir die Vader
Dit is asof die Here my kort-kort herinner dat elke persoon vir Hom kosbaar is. Daarom moet elkeen ook vir my kosbaar wees.
Dit laat ’n mens dink aan die Bybelverhaal van die skaapwagter wat die 99 skapies los om die een wat afgedwaal het, te gaan soek.
Telkens besef ek dat om ’n liedjie vir een mens te skryf, net so vervullend is as om voor ’n hele gehoor te staan. Inteendeel, nog méér – want dit raak persoonlik en ek word deel van daardie persoon se storie.
So is daar al liedjies geskryf ter ere van huwelikherdenkings en begrafnisse, geboortes en die vind van nuwe liefde.
Liedjies vir meisies, kêrels of vriende wat oorsee bly.
Een pappa wat in die buiteland werk, het gevra vir ’n lied vir sy vrou en drie dogters waarmee hy almal wou bederf. Dit was die mooiste mooi om te hoor met hoeveel bewondering en waardering hy oor elke lid van sy gesin praat.
’n Ander besonderse lied was dié van ’n dogter aan haar ouers. Sy het beskryf hoe hulle in die oggende voor mekaar staan, hulle geestelike wapenrusting aantrek en saam bid.
Daar was ook die boer wat sy vriend verloor het. Wie sou kon raai dat ’n boerseun met sulke diep en roerende gedigte uit eie pen vorendag kon kom.
Dis ook elke keer spesiaal om liedjies van ma’s aan dogters, en dogters aan hulle ma’s, te sing.
Aan die ander kant is daar ook die ongelooflike hartseerverhale. Soos die vrou wat haar hele gesin verloor het.
Ek het aanvanklik geworstel oor wat om te sê, te sing en te skryf vir sulke mense.
Om aan die een tragiese lied ná die ander te werk, het my mettertyd laat besef dat die ewigheid vir ons almal meer van ’n werklikheid moet word. Daardie wete dat Hy daar was voor die eerste asemteug, en Hy is daar selfs nadat daardie laaste asem uitgeblaas is.
In my eie lewe is my ma wat oorlede is, ’n reuse-verlies. Maar ek weet dat my verhouding met Jesus ware vrede gee. Dat Hy genoeg is.
God en familie kom bo al die res
As ma en vrou het ek besef ’n gewone lewe is wonderlik.
Elke keer wanneer my lyf rus vind in die bekende voue van ons gesin se lekker groot leerbank in die sitkamer, ervaar ek dit.
Daar, saam met Cornel en ons vier kinders. Op hierdie bank word daar daagliks saamgeleef, gemors, gerus en gesels.
Dis hier waar ek saans styf langs my man kom sit en diep asemhaal ná ’n lang dag. Waar ons twee Planet Earth probeer kyk terwyl die vier jong manne elkeen hulle unieke seun-wees om ons uitleef.
Dis ’n lieflike chaos.
Tussendeur vertel elke gesinslid sy storie van die dag, terwyl ma en pa ook ’n paar sinne probeer uitruil.
Iewers, op ’n punt, stuur ons almal kamer toe en dan word daar gesels of ’n fliek gekyk wat ons al 40 keer gesien het. Soos Twister of Dante’s Peak. Eintlik maar enigiets oor die einde van die wêreld.
Om ’n mamma te wees vir vier seuntjies is my grootste avontuur. ’n Kans om ’n verskil te maak. Om goeie mans groot te maak. Dit hou ’n mens nederig en plat op die aarde.
Dit bly ook ’n daaglikse keuse: God, man en familie kom bo werk en al die res.
Soms is dit moeilik, veral in ’n wêreld waar ’n mens gejaag voel om net te werk, werk, werk.
In die vermaaklikheidsbedryf is dit algemeen om te sê: “Jammer, ek weet jy is baie besig …”
Maar ’n mens besef mettertyd dis oukei om nie so besig te wees nie. Dis goed om oop ruimtes, “spasie”, in jou lewe en skedule te hê.
Moenie my verkeerd verstaan nie. Met ’n kop soos myne is “besig” eintlik goed, want dan dink en tob ek minder.
Maar ’n mens moet ook weet hoe om net te kan sit en fokus op die Here. Hoe om rustig te raak, bewus te leef, en werklik jou man en kinders raak te sien en na hulle te luister.