Met een voet in die akademie en die ander in die skoonheidsbedryf het dit KARIEN HENRICO ’n tydjie geneem om gelukkig te wees met presies wie sy is.
Jy moet tevrede wees met wie jy is
Die stereotipering in die skoonheidsbedryf is erg. Mense plaas jou so vinnig in ’n kassie.
Dit is só onregverdig om net aan te neem dat iemand wat van uiterlike skoonheid ’n beroep gemaak het, niks tussen die ore het nie.
Vandag is ek die enigste persoon in die land wat ’n doktorsgraad in somatologie verwerf het. Ek is baie trots daarop, want dit gee aan my kredietwaardigheid wanneer mense met opgetrekte wenkbroue na my luister.
Dit help my ook om myself te definieer. Al is daardie sertifikaat eintlik net ’n stukkie papier (waarvoor ek baie hard gewerk het), verleen dit soveel gewig aan my woorde, glo mense my as ek praat.
Elke lewenservaring dra by tot wie jy is. Die geboorte van my tweeling is ’n nuwe lagie menswees wat op my kom lê het: die een van ma. Vir die wêreld is ek miskien dr. Karien Henrico, maar by die huis en tussen my vriendinne is ek net ek – die vrou van ’n wonderlike man, ma van ’n tweeling en ’n sterk vrou wat weet dat sy tot baie in staat is.
Ek moes eers tevrede wees met wie ek is voor al hierdie ander ervarings opgeplak kon word en verdere definisie aan my menswees gee.
Niks is in beton gegiet nie. Ons is so vloeibaar. Nie van jaar ná jaar nie, maar van dag tot dag, selfs na gelang van jou omstandighede.
Gee jouself die vryheid om net te wees. Moenie so streng met jouself wees nie. Uiteindelik kan geen man of prestasie jou gelukkig maak nie. “Happiness is an inside job.” Dit moet van binne kom.
Gelukkigheid met wie jy is kom van binne
Skoonheid is juis nie vir my die beeldskone 18-jarige nie.
’n Vrou wat haar ouderdom met grasie dra, is selfs vir my mooier. Hoe jy ander om jou laat voel, die energie wat ’n vrou uitstraal, kan baie mooier wees as die vrou met ’n vlekkelose vel en hoë wangbene wat negatiwiteit met haar saamdra.
Dit beteken egter nie dat skoonheid nie belangrik is nie. Natuurlik is dit nodig om jouself in geheel – liggaam, siel en gees – te versorg. Dit is vir my ’n passie om mense beter oor hulleself te laat voel.
Die redes waarom clichés clichés word, is dat dit woorde van wysheid en waarheid is. Net soos wat skoonheid mag kan hê, is kennis ook mag.
Die dag wat ek besluit het om navorsing oor selluliet te doen, onthou ek nog baie goed. Dit was nie ’n goeie dag vir my nie en om na die beeldskone modelle op Instagram te kyk, het my beslis nie beter laat voel nie.
Sonder ’n gram vet of enige teken van selluliet, het hulle vir my gelyk, hoewel ek weet dat nege uit tien vroue daarmee sukkel.
Ongelukkig was ek nie daardie gelukkige een wat dit nie het nie.
Dis toe dat ek besluit het om navorsing oor selluliet te doen. Vir twee jaar het ek opgelees en studies wat oor selluliet gedoen is, verslind om ’n bekostigbare oplossing te kry.
In my persoonlike lewe is ek op ’n goeie plek. Ek stel myself voor as dr. Karien Henrico, die ma van ’n pragtige tweeling en die vrou van ’n wonderlike man.
Ek is gelukkig met wie ek is, waar ek is, hoe ek lyk en met wat ek doen.