Aktrise HILDEGARDT WHITES het ’n lang pad gekom. Sy is steeds ’n dromer. Lief om te lag, maar ook dankbaar dat sy haar eie unieke self kon vind.
Volg jou passie na jou ware self
Wat gaan jy ná skool doen?” In ons matriekgroep was dit die grootste gespreksonderwerp.
Ek het nie ’n clue gehad nie.
“Asseblief toggie, Jesus, help net.” Dié woorde is so baie gebid, want ek het geen idee gehad wat om met my lewe te maak nie.
En toe, in een aand, verander alles. ’n Musiekblyspel. In ’n skoolsaal. West Side Story. En ek, in een van die hoofrolle.
Daar is gesing, gedans en ge-perform. Die mense het my in die oë gekyk, en ek vir hulle – en skielik het alles gekliek.
Honderde skoenlappers het met wilde draaie in my maag rondgedartel.
Daardie aand op die verhoog het die gevoel van ekstase my asem weggeslaan.
Toe die gordyn sak en ons afstorm backstage toe, het die eerste woorde aan my vriendin spontaan uitgeborrel: “Ek was nou in ’n totale ander wêreld!”
Selfs die kultuurjuffrou, die musiekblyspel se regisseur, het kom sê: “Darling, you have to study this.”
Ná daardie sprokiesaand het ek dit self besef. Die opwinding was so groot dat ek nie ’n oog kon toemaak nie.
Die warboel van emosies in oortreffende trap, want uiteindelik het hierdie plattelandse meisie haar ware noord in die groot wêreld gevind.
Die besef dat ek gemaak is om stories te vertel en mense te vermaak. Wat ’n lekker vooruitsig!
Performance-bloed het deur my are gebruis.
Om ander te laat lag, is ook steeds een van my beste karaktereienskappe. Iemand wat altyd die positiewe in die negatiewe gaan soek. Wat die lig in die donker sien.
Veg om getrou te bly aan jou identiteit
My broer vertel hoe hy eenkeer verby die skool gery het. Daar het ’n groepie kinders onder ’n boom gestaan en kliphard gelag.
Toe hy mooi kyk, sien hy maar dis ék wat in die middel van die groep staan. Die een aan wie se lippe almal hang. Wat almal laat lag.
’n Ou skoolvriendin gee nou die dag die mooiste kompliment. Sy sê: “Jy is nog presies dieselfde mens as toe ons jonk was. Niks het verander nie.”
Wat ek wel weet, is dat ek beslis meer selfvertroue gekry het. Dat ek meer spraaksaam is.
Meer dinamies en stylvol.
Tog was dit lekker om te hoor dat niks aan my core verander het nie. Dat mense wat my goed ken, steeds die doodgewone, plat-op-die-aarde meisie van my jeugjare raaksien.
Dalk is dit juis my herkoms – my land en mense – wat my só maak.
Vir my man, Kuba, se werk as musikant het ons al baie oor die wêreld heen gereis. Die Ooste, Europa (my skoonfamilie is van Poolse afkoms). Dit voel so totaal anders as by die huis. Jy kan oral vrylik rondloop. Dis soveel veiliger as hier.
Maar ai, dan kom ’n mens terug huis toe en besef net weer … van al die plekke in die wêreld is Suid-Afrika die mooiste. Ryk in kultuur. Én Suid-Afrikaners, waar jy ook al gaan, oop en vriendelik.
Wanneer ek met my gesinnetjie op ’n naweek-oggend in die bed cuddle, dan voel ek net soos wat my pragtige Duitse familienaam my beskryf.
Hildegardt. A strong person. Warrior. Vegter.
Ek sal altyd veg om te bly wie ek is: Iemand wat bo alles lief is vir die mense wat my die naaste aan die hart lê. Ondanks roem en sukses, is dit hiér waar ek op my heel gelukkigste is.