Geloof kan jou help herstel en nuut begin, maak nie saak hoe diep jou seer of wond is nie. SUNÉ–CHARI SUTTON, bedieningsleier by Doxa Deo, deel hierdie hoop by Voelgoed se Vroue wat Glo–retreat.
Gesond word en genesing is áltyd moontlik
Jy is dalk gebroke, maar waaraan jy kan vashou, is dat jy nooit op ’n punt is waar jy nie herstel kan word nie. Jy kan nuut begin, dinge kan beter word as wat jy ooit kon droom.
Terwyl ’n krisis besig is om te gebeur, beleef jy skok en het jy baie vrae. Eendag, wanneer jy terugkyk na hierdie tyd, sal jy egter die mooi raaksien en hoe jou geloof jou gedra het.
Die storie van jou seerkry is deel van die unieke lewenspad wat jy stap. Jou verlies en teleurstelling verbind jou aan ander mense wat ook pyn het. Maar jou storie kan ook getuig van heel word en hoop gee vir ander.
Verskillende mense beleef verskillende soorte swaarkry. Saam met die woordjie “seer” loop woorde soos “verraad”, “onreg”, “hopeloosheid”, “depressie”, “siekte” en nog baie meer.
Baie mense steek hulle wonde weg. Dis deel van ons kultuur om altyd te sê: “Dit gaan goed, dankie.” Ons glo ons mag nie swak lyk nie en hou ’n front voor dat ons oukei is.
As jy al lank met lyding saamleef, begin jy glo dat dit is wie jy is. Dit word deel van jou identiteit. Jou seer is te erg en jou wond is te diep om nog te hoop op verandering. Jy glo herstel is onmoontlik.
Dis net jou denke! Dis nie die waarheid nie! Daar is geen pyn te erg nie. Verken jou geloofsverhouding en lees in die Woord dat jy altyd en aanhoudend kan glo in gesond word en nuut begin.
Begin by die praatjies in jou kop en vervang hulle woord vir woord met hierdie waarhede. Moenie jouself aanhou met onwaarhede kasty nie.
Oppas vir gemaklik begin voel in jou pyn
Moenie die woestyn van swaarkry jou huis maak nie. Dit gebeur makliker as wat jy dink … Jy wil nie vertrou op beter tye nie, want wat as jy weer teleurgestel word?
Het jy al jou kampstoel uitgehaal of tent opgeslaan in jou woestyn? Wanneer jy jou storie vertel, is dit net hopeloos?
Dink aan Moses: Hy het as baba amper verdrink. Weens sy humeur as volwasse man pleeg hy moord en moet hy vlug. Hy word geroep om mense te lei en trek 40 jaar lank deur ’n woestyn. Dan sterf hy voordat hulle die Beloofde Land intrek …
Hopeloos ellendig, nie waar nie? Maar sy storie kan ook só klink: Gered en in ’n paleis grootgemaak. Ongeag sy foute kry hy die taak om mense te red. Hierna gaan hy die ewige Beloofde Land in …
Hoe klink jou storie? Kan jou woestynervarings ook deel wees van iets groters?
Jou harde werk om genees te word, lewer resultate
Jou wonde is nie verniet of sinneloos nie. Daar is iets wat met mense gebeur wanneer hulle deur die vuurdoop van lyding gaan: Ons wen of ons leer iets.
Dit maak ons oorwinnaars, al kan ons verstand dit nie begryp nie en al voel ons nie só nie.
Die wêreld is ’n stukkende plek en seerkry gebeur met elkeen. Maar jy kan ook anders daarna kyk. In die woorde van Romeine 5: Hierdie swaarkry kan volharding kweek en volharding kan egtheid van geloof kweek.
En egtheid van geloof kweek hoop. Ons swaarkry is swaar, maar het altyd die potensiaal om oorwin te word. Wil jy nie vandag jou seer vir genesing en herstel inruil nie?
Jou bydrae om die wêreld beter te maak, is nog nie klaar nie. Mense met innerlike krag, wysheid en integriteit kan hierdie taak uitvoer. En dis wat heel word jou kan leer as jy dit so kies.
Wat jy kan dóén om heel te word
Besluit dat jy wil oop wees vir genesing. Herrangskik jou gedagtes om te glo daar is hoop vir jou. Sien raak dat jy dalk jou identiteit een van stukkend wees gemaak het. Sien in jou gedagtes wie jy wíl wees.
Vertel jou seerkrystorie vir jouself en ander mense met nuwe woorde. Verruil lusteloosheid vir die lewe van oorvloed waarin jy mos glo. Praat woorde van oorvloed. Ruil vrees vir Woordbeloftes, verwerping vir hemelse aanvaarding.
Durf die uitdaging van vergifnis aan. Vergewe oortreders treetjie vir treetjie sodat jy nie bitter word nie. Vergewe jouself en stop die terugdink aan die verlede.
Fokus op wat jy nou kan doen en glo dat jy mag droom en doelwitte najaag.
Wees beskikbaar vir ander om hulle seer met jou te deel. Jy verstaan hulle eensaamheid en behoefte aan ondersteuning en begrip.
Praat hoop in hulle lewe in en getuig van al die seën wat jy tussen jou eie uitdagings raaksien.