Die een of ander tyd is daar ’n dimensie van elke mens se bestaan wat verwond word en heling nodig het. Leraar MELISSA VAN BILJON, spreker by die Vroue wat Glo-retreat, sê dat hierdie wonde kan tog die weg na heelheid, genesing, groei en ’n nuwe begin baan.
Ons almal is siek. Ons het Sy genesing nodig.
Siekte is nie net om fisiek met ’n kwaal te sit nie. Dit het ook te doen met ’n versteurde verhouding met God. Dit het te doen met verhoudings met mekaar; daar is onvergewensgesindheid. En jy is gebroke. Jy is afhanklik. Jy het ’n geneesheer nodig, sodat jy emosioneel, relasioneel, in jou verhouding, in jou gees, in jou konneksie met God heel kan wees en heel kan word.
Jesus se genesing is méér as net fisiek
Dikwels as ons aan genesing dink, dink ons net aan genesing van pyn. Ons wil die pyn wegkry. Verminder. Verdoof. Maar wanneer ons saam met Jesus ’n pad begin stap, kom ons agter dat God genesing deur pyn ook na ons lewe bring.
Die aard van die lewe is dat ons ly, dat die lewe hard is, dat daar gebrokenheid in ons verhoudings, in ons emosies is. En alles hou verband met mekaar.
Wat in jou gees gebeur, raak jou emosies, raak jou liggaam. Wat met jou liggaam gebeur, raak jou emosies, raak jou gees. Ons kan onderskei tussen siel, gees en liggaam, maar ons kan nie dit regtig skei nie.
Dit is die uitnodiging: om só te kyk na jou eie lewe en te besef, ek het heling nodig.
En dis deel van ons hele reis, ons hele lewe lank – om heel te word en genesing te vind.
Erken, voel en aanvaar jou seer en pyn
Ons hoef nie weg te hardloop van ons gebrokenheid nie. Soms vloei God se genesende genade eers in ons lewe wanneer ons eerlik is.
Wanneer ons in staat is om dit wat in die donker is, na die lig te bring.
So dikwels verdoof ons onsself net om pyn te vermy. Ons drink te veel. Ons werk te hard.
Ons gebruik te veel medisyne.
Jesus ontmoet ons in daardie gevoelloosheid en nooi ons uit om daardie pyn te omhels, selfs wanneer dit dalk pynlik is. God nooi ons uit om te waag.
Wat doen jy met die pyn in jou lewe? Maak dit jou so gevoelloos dat jy toe is vir God se helende krag? Óf is dit ’n toegangsroete vir God se helende hande en werk om jou lewe te kom transformeer?
Dit is wanneer ons hierdie uitdagings omhels wat moeilik en pynlik kan wees, dat ons in werklikheid genesing vind.
Verwoord jou seer en bid tot God vir genesing
God verlang dat ons Hom aangesig tot aangesig sal ken. Ons het dit nodig om heling te kry.
Om gesond te word en om lewe te vind. En in Sy aangesig verlang Hy dat ons verwoord wat ons seer is en verlang Hy dat jy kwesbaar word en jou diep seer deel.
Dan gebeur daar iets in jou binneste, jy begin die Here as ’n vriend vertrou. Jy begin leef in daardie liefdesverhouding.
Dis ’n groot ding om te begin bid oor jou seer. Dis groot om te begin vra vir genesing. Dit beteken ek moet erken, ek moet kwesbaar raak, ek moet begin vertrou.
Wanneer ons ons gebrokenheid met God en met ander deel, gebeur daar iets wat genesing en nuwe lewe bring.
Feitlik elke keer wat ek vrymoedig is om dit te verwoord en te deel, ervaar ek groot verligting en bevryding. Dan voel ek nie so alleen nie.
Genesing en heling is van die Here
Vra en ontvang gaan altyd saam. Ek wil amper sê dis twee kante van dieselfde muntstuk. Die muntstuk se naam is geloof en dis met geloof dat ons vra, en dis met geloof dat ons ontvang.
Jy kan nie genesing probeer verdien nie. Dis ’n genadegawe. Dit beteken nie dat ons passief is in ons lewe met God nie.
God gee dit as ’n geskenk, uit Sy genade. En Hy wil dit vir jou gee.
Ons ontvang heling op verskillende maniere. Die Heilige Gees se genesende werk is nie generies nie. Die Gees kom op ’n persoonlike en unieke manier na ons elkeen, en ons ervaar Hom ook persoonlik en op unieke maniere.
Genesing en heling is ’n reis wat plaasvind in ’n diep verhouding met Jesus. As jy die pad saam met Hom begin stap, as jy Hom bewonder en na Hom kyk as jou bron van lewe, bring dit heling in jou lewe mee.