God is groter as enige seer - ELMARIE DERCKSEN

God is groter as enige seer en swaarkry

God is groter as enige seer of swaarkry, herinner predikant ELMARIE DERCKSEN. Vind hoop, heling en geloof te midde van pyn en moeilike tye.

Leer onderskei tussen jou emosionele en geestelike werklikheid

Dit voel soms of jou pyn en swaarkry soos ’n berg voor jou lê. Onthou net dat Jesus ’n nuwe wêreld kom maak het waarin sonde vergewe en pyn genees word en vrede heers.

Emosionele pyn kan sleg wees. Nie net sleg omdat jy ’n bietjie “blou” voel nie; sleg soos ...

God is groter as enige seer of swaarkry, herinner predikant ELMARIE DERCKSEN. Vind hoop, heling en geloof te midde van pyn en moeilike tye.

Leer onderskei tussen jou emosionele en geestelike werklikheid

Dit voel soms of jou pyn en swaarkry soos ’n berg voor jou lê. Onthou net dat Jesus ’n nuwe wêreld kom maak het waarin sonde vergewe en pyn genees word en vrede heers.

Emosionele pyn kan sleg wees. Nie net sleg omdat jy ’n bietjie “blou” voel nie; sleg soos in oorweldigend en aanhoudend.

Dit word soos ’n landskap: miskien ’n koue, donker plek, hard, asof uit klip gekap. Óf ’n vervelige, grys en plat veld, sonder inspirasie of oortuiging. Óf ’n oseaan van bedreiging en gevaar, sonder respek of warmte.

Wanneer ons probleme moet oplos, gaan ons gewoonlik spesifiek te werk. Om emosionele probleme te hanteer, benader ons dit soos somme – een vir een.

Maar hierdie metode hou nie rekenskap met die hele landskap nie. Ons kap klippe in ’n steengroef, en dink dit gaan minder word. Ons probeer sand uit ’n woestyn met ’n emmer dra.

Een van die eerste stappe na genesing is om tussen ons emosionele werklikheid en geestelike werklikheid te onderskei. Jou emosionele realiteit is joune, en dit mag bestaan. Jou gevoelens is legitiem, maar dis nie die enigste realiteit wat daar is nie.

Nou moet ons erns begin maak met die geestelike werklikheid waarin ons leef. Hier is dit: Christus het die prys betaal. Volledig. Om te glo dat jou pyn te groot is om te genees, is arrogant. Eintlik ontken jy daarmee wie Jesus is en wat Hy gedoen het. Dit is dan dat jy jou emosionele werklikheid prioriteit gee bo die geestelike werklikheid. Johannes skryf dat ons selfs ons gewete tot rus moet bring voor God (1 Johannes 3:20).

Die Here ken al ons seer en smart

Jy mag steeds voel dat jou pyn soos ’n berg voor jou lê, maar die waarheid van die evangelie sal aanhou getuig dat jy geliefd is, dat jy dit werd is, en dat jy ’n lewe in vryheid en vrede behoort te hê.

Die deposito, die eerste aflewering van hierdie realiteit, is die Heilige Gees. Die Gees sal aanhou fluister en troos en lei tot genesing, selfs al sukkel ons om dit te glo. Wanneer ons hierdie geestelike werklikheid begin verreken, gaan ’n menigte voetpaaie oor die kruin vir ons oop.

Emosionele pyn voel soms onvergelyklik diep. Dit lyk asof ander mense dinge makliker hanteer en verwerk, terwyl jy net nie kan aanbeweeg nie. Jy begin eensaam voel en wonder hoekom jou lewe die ergste is. Wat het jy gedoen om dit te verdien?

Wat my baie help as ek agterkom ek raak geïsoleer in my pyn, is om Jesus se werklikheid in gedagte te hou:

Hy moes die hele mensdom se skuld en sonde, pyn en boosheid dra; ’n ewigheid se smart, saamgepers in tyd en ruimte sodat Sy menslike lyf dit moes vat. Niks kan daarmee vergelyk nie.

Jesus het ons sonde en seer vir ons gedra

Ek is nie alleen nie, Hy is my Hoëpriester wat medelye het met my swakheid (Hebreërs 4:15). Hy weet hoe dit voel om ’n mens te wees.

God gun ons genesing, maar verwag nie van ons perfeksie nie. As ons in 2 Korintiërs 4 lees van die skat in kleipotte, verduidelik Paulus dat God van ons bruikbaarheid verwag, nuttigheid in naasteliefde.

Ons word verdruk, verleë, vervolg, neergegooi, maar niks kan die skat van God se liefde vir ons vernietig nie – dit skyn juis helderder deur die pot se krake.

Jou lewe kan betekenisvol wees, selfs al beleef jy pyn. Jy hoef nie éérs gesond te wees vóór jy sinvol begin leef nie. Ons moet net begin leef om bruikbaar vir Hom te wees, want sy genade is reeds genoeg.

Daar gaan tye wees dat jou gevoelens die werklikheid beïnvloed, waar jou gedagtes nie God se beloftes wil aanvaar nie. Dit is dan dat jy moet vertrou en aanvaar dat die Here al jou seer ken, maar dat daardie seer nie jou volle verhaal is nie.

Deel die artikel

Méér artikels

Sonder goeie geestelike waardes kan ons maklik van die “muur” afval en nie weer aanmekaargesit word nie. Net soos Hompie Kedompie, sê CATHERINE VAN HEERDEN. ...

Vroue voel soms dis makliker om hulle pyn weg te steek en aan te gaan. MELISSA VAN BILJON sê jy mág maar huil, want trane ...

Scroll to Top