GUSTAV GOUS se werk weerspieël ’n diep verbintenis om individue en organisasies te bemagtig. Gustav gesels oor mislukking, sukses, verhoudings en ware vryheid.
Deel ’n verhaal van transformasie wat jou diep geroer het en wat jy steeds onthou?
Aanvanklik word mense se lewensstorie deur ander mense geskryf.
Dit is aangrypend om te sien hoe sommige later hulle eie verhaal herskryf. Soos ’n man wat alles teen hom gehad het: swak ouers, mishandeling en ’n eggenoot wat betrokke was by satanisme.
Die Here het sy lewe verander en hy het ’n suksesvolle besigheidsman geword met ’n inspirerende storie van krag en geloof.
’n Vrou wat alkohol misbruik het, in skuld gedompel was en wie se verhouding op die rotse geloop het, het ook haar lewe omgekeer. Hierdie verhale van mense wat van niks na iets gaan, inspireer my. Dit is mense wat besluit het om nie net goed te wees nie, maar beter te word. Hulle het die stuur van hulle lewens oorgeneem.
Nog ’n kategorie mense wat my inspireer, is diegene wat sukses bereik het en besef dat dit nie die eindbestemming is nie.
Hulle gebruik hulle sukses as ’n platform om ’n verskil in ander se lewens te maak. My kliënte is my helde; hulle inspireer my deur hulle suksesvolle reis en die manier waarop hulle ander help om ook daarin te slaag.
Dit is die stories wat my motiveer en inspireer om voort te gaan.
As lewensafrigter ontdek jy ook goed omtrent jouself wat jy wil verbeter. Waaraan werk jy op die oomblik?
Ons is almal, soos die Engelse sê, is ’n work in progress.
Ek het onlangs op die harde manier besef dat hoewel my gedagtes georden is, my werkstafel deurmekaar is. Hierdie wanorde weerspieël nie die netheid in my gedagtes nie.
Ek het probeer om dit te rasionaliseer, soos om te sê dat selfs Einstein se tafel deurmekaar was. Maar in ’n stadium raak ’n mens moeg vir beregtigings en verskonings.
Ek het gehoor van ’n kerk wat ’n bediening van orde het, en dit het my laat besef dat ek meer sisteme en dissipline in my onmiddellike omgewing nodig het.
Toe ek met my vrou oor hierdie “bekering” praat, het sy opgemerk dat my lewe nog nie die vrugte van hierdie verandering dra nie. Dit het my laat dink oor die belangrikheid van orde, nie net in die kop nie, maar ook in die fisieke ruimte.
Hoewel ek nog nooit oor “decluttering” gepraat het nie, voel ek die behoefte om daaraan te werk. Ek wil hê my werkstafel moet net so georganiseerd wees soos my gedagtes.
Hierdie orde kan help om die lewe te lei wat ek graag wil hê. Ek wil meer bereik deur my onmiddellike omgewing beter te bestuur.
Wat sou jy beskou as die grootste mislukking op jou pad?
Daar was al heelwat mislukkings. My grootste fout was om te lank in situasies te bly wat nie gewerk het nie. Ek het nie altyd die moed gehad om weg te stap nie.
Soms is daar ’n persoonlike of besigheidsverhouding wat toksies is. Jy weet dit werk nie. Die les wat ek geleer het, is dat ’n mens vroeg ’n situasie moet analiseer.
Vra: Werk dit of nie? Kyk rasioneel daarna. As dit nie werk nie, moet jy wegstap en aangaan na ’n beter plek.
Ek het ook grootgeword in ’n familie van empatiese mense. Jy kry twee polariteite: ’n narsis en ’n empaat. ’n Narsis stel eiebelange bo ander. ’n Empaat stel ander bo hulself.
Te lank het ek probeer om ander te behaag. Ek het by die Here geleer dat Hy ’n God van liefde en regverdigheid is. Jy mag jouself laat geld en gesond selfhandhawend wees.
Die les is: jy mag gesonde selfstandigheid handhaaf. Sê “ja” as jy dit bedoel, en “nee” as dit nodig is. Ek het nie vroeg genoeg dinge uitgespreek nie.
Ek was te bekommerd oor ander se gevoelens. Ander mense is egter verantwoordelik vir hulle eie gevoelens. Ek skuld hulle niks anders as die waarheid van my eie gevoelens nie.
Wat is die een stuk advies wat jy wens jy kon vir jou jonger self gee?
Ek dink die belangrikste is dat jy jouself vroeg in jou lewe ontdek. Dit verg baie moeite om uit te vind wie jy is, want jy moet talle keuses maak.
Jy moet jouself vermeng met werk en ’n lewensmaat. Sonder selfkennis, kort jy insig.
Dit is noodsaaklik om jouself vroeg te aanvaar. Wees jouself, maar werk ook daaraan om jou skerp kante te slyp. Dit maak dit vir ander makliker om met jou oor die weg te kom. Mense begin dikwels nie vroeg genoeg nie en bly rowwe diamante.
In verhoudings moet ’n mens eerlik wees. As iets verkeerd loop, spreek dit aan. Moenie altyd probeer om ander gemaklik te hou nie; sê “nee” as dit nodig is.
Ek het konflik vermy terwyl konstruktiewe konflik noodsaaklik is. Yster slyp yster; dit help om mekaar te verbeter.
Ek sou ook meer dissipline in my jonger jare wou hê. Jou gewoontes vorm jou lewe.
Deur goeie gewoontes vas te stel, soos studie- en skryfgewoontes, verbeter jy jou toekoms. Vestig vroeg daardie gewoontes, want dit skep resultate.
Hierdie aanpassings en dissipline lei tot ’n vervullende lewe.
Jy en jou vrou, Annelize, is al jare getroud. Wat glo jy is die sleutel tot ’n sterk en liefdevolle huwelik?
Wanneer jy oorweeg om met iemand te trou, moet julle wedersyds waardes en respek deel. ’n Gelukkige huwelik word gebou, nie verkry nie.
Fokus daarop om die regte persoon te wees, eerder as net om die regte persoon te vind. Vra jouself: is dit lekker om met jou saam te leef?
Wees lief-hê-baar en maklik om mee saam te leef. ’n Huwelik vereis ’n ligte hart; vermy harde en koppige houdings. Luister na ander en wees leerbaar. Dit dra by tot ’n suksesvolle huwelik.
Kommunikasie is noodsaaklik vir ’n gesonde huwelik. Bespreek kwessies en noem gedrag by die naam.
Moenie dinge opkrop nie; bemagtig kommunikasie om probleme aan te spreek. Praat mekaar op, nie af nie.
Handhaaf kontak, selfs in ’n besige lewe. Gebruik klein gebare, soos WhatsApps, om in verbinding te bly en liefdestale aan te spreek. Dit verhoed dat julle uitmekaar groei.
Elke dag se kommunikasie en klein interaksies versterk die bande en hou die huwelik lewendig. Verwonder daagliks oor die voorreg van ’n maat.
Die konsep van “vryheid” verskyn gereeld in jou werk. Wat beteken ware vryheid vir jou?
Ek is ’n vry gees en hou nie van beheer nie. Ek is ontevrede met die wêreld se totalitêre neigings waar elke aksie en besteding gemoniteer word.
My gunsteling-Bybelteks, Galasiërs 5:13, beklemtoon vryheid, maar binne ’n raamwerk van verantwoordelikheid.
Die Hebreeuse begrip van vryheid sluit bevryding van en vryheid tot iets in.
Ek glo mense het ’n onherroeplike reg om hulle vryheid te gebruik om hulle lewens suksesvol of nie te maak. Selfs onder beperkinge, soos in ’n strafkamp, het ’n mens die vryheid om jou houding te kies.
Viktor Frankl het beklemtoon dat, selfs in uiterste omstandighede, jy nog jou innerlike vryheid behou.
Vryheid is ’n kernaspek van menswees. Baie gee hulle vryheid weg en kies om hulleself as slagoffers te sien.
Dit is egter noodsaaklik om jou vryheid aan te wend en iets van jou lewe te maak. Geen ander persoon is verantwoordelik vir jou reaksies nie. Jy het die krag om jou situasie te verander, al het jy nie beheer oor wat met jou gebeur nie.
Vryheid is vir my belangrik omdat dit ruimte skep waarin jy kan reageer op die lewe se uitdagings.
Gebruik jou vryheid om oorwinning uit moeilike situasies te haal. Onthou, jy is tot vryheid geroep en moet dit positief aanwend om jou lewe beter te maak.